Tef
Tef (Eragrostis tef) is ‘n eenjarige gewas waarvan die stingels as veevoer en die sade vir menslike gebruik aangewend word.
Tef | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eensaadlobbiges |
Klade: | Commelinids |
Orde: | Poales |
Familie: | Poaceae |
Genus: | Eragrostis |
Spesie: | E. tef
|
Binomiale naam | |
Eragrostis tef (Zucc.) Trotter, (1918)
| |
Sinonieme | |
Eragrostis abyssinica (Jacq.) Link |
Oorsprong
wysigHierdie soetgras is inheems in Sentraal- en Noordoos-Afrika, veral in Ethiopië. In die piramides van Egipte van ‘n 5500 jaar gelede is hierdie sade aangetref.
Plant
wysigTef is deel van die grasfamilie Poaceae. Dit word verbou vir graan en vir hooi en weiding vir diere en is een van die snelgroeiendste hooigewasse. Onder gunstige omstandighede is die stingels al in 6 weke 90 tot 120 cm lank. Dit lewer soms selfs tot vier oeste per seisoen wat neerkom op 6 ton hooi per hektaar op droë grond in een somerseisoen. Omdat die blare en besonder dun stingels sag en sappig is, leen dit hulle tot die maak van hooi. Die graankorrels is besonder klein, maar daar is so baie aan die yl stingels dat are swaar is en die stingels ombuig. 150 korrels weeg nagenoeg soveel as 1 koringkorrel. Tef word in die lente gesaai teen ‘n 5 kg saad per hektaar. Let egter op dat tef, sowel as boekweit en amarant, in werklikheid sade is, maar in die volksmond ook graan genoem word. Vir boere met tef is die kommandowurm ‘n probleem.
Dierevoedsel
wysigDie vraag na hooi van tef het baie afgeneem met die vermindering van perde op plase. Renperde verkies die sagte tefhooi as voer bo hawer en lusern.
Menslike gebruik
wysigAs dit as korrel of as meel geëet word, smaak tef goed. Bruin en rooi tef het ‘n kakao-agtige smaak. Dit is besonder geskik vir ontbytpap, as meel vir ligte beskuitjies en word soms gebruik vir die brou van ‘n soort bier. Dit is minder geskik vir die bak van brood. Wit tef het ‘n effens milder smaak en word gebruik as ‘n verdikkingsmiddel in geregte. Tef bevat baie proteïne en vesel, tweemaal soveel as ‘n gelyke porsie bruin rys. Dit is ryk aan kalsium en yster. Die meel is altyd volkoring, want dit kan nie uitgedop word nie.
Suid-Afrika
wysigIn 1887 is die eerste tef in die land aangeplant. Saad is van Kew verkry en in KwaZulu-Natal vir die saad aangeplant. Dit was nie suksesvol nie. ‘n Latere poging in 1903 met saad verkry uit Kalifornië om hooi te produseer was ‘n sukses. Daarna is tef landswyd verbou, naamlik op die Hoëveld en by Standerton, Bethal, Vrede, Harrismith, Underberg, Mooirivier, Griekwaland-Oos, Matatiele en Mount Currie.
Bronnelys
wysig- 5 Nutritious Grains Experts Want You to Try. In: New York Times, 17 Oktober 2024
- Ensiklopedie van die Wêreld, deel 9. Stellenbosch: Albertyn-uitgewers, 1992. ISBN 0-949948-23-3
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 10. Kaapstad: Nasou, 1974. ISBN 0-625-00326-8
- Plants of the World