Ugie
Ugie is 'n dorpie in die destydse Noordoos-Kaap aan die suidelike voet van die Drakensberg, 21 km suidwes van Maclear.
Ugie | |
---|---|
Koördinate: 31°12′S 28°25′O / 31.200°S 28.417°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Oos-Kaap |
Distrik | Joe Gqabi |
Munisipaliteit | Elundini |
Stigting | 1885 |
Oppervlak | |
• Totaal | 19,11 km2 (7,38 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 13 467 |
• Digtheid | 705/km2 (1 830/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 2.6% |
• Indiërs/Asiërs | 0.3% |
• Bruin mense | 2.7% |
• Swart mense | 94.3% |
• Ander | 0.2% |
Taal (2011) | |
• Xhosa | 89.3% |
• Afrikaans | 4.6% |
• Engels | 2.3% |
• Sotho | 1.7% |
• Ander | 2.1% |
Poskode (strate) | 5470 |
Poskode (posbusse) | 5470 |
Skakelkode | 045 |
Dit het ontwikkel uit 'n sendingstasie, wat in 1863 deur die sendeling eerw. William Murray by Gatberg gestig is.[2] Hy het dit genoem na die Ugierivier in Skotland, waar hy gebore is.[2] Die dorp is in 1885 gestig en het in 1916 'n bestuursraad gekry.[2] Die dorpie is bekend om sy groot, nie-kerklike weeshuis wat in 1918 deur ds. M.T.R. Smit tot stand gebring is vanweë die verwoestende griep-epidemie van daardie tyd, om sorg te bied aan kinders wat deur die epidemie wees gelaat is. Dit is in 1987 na Port Elizabeth verskuif omdat Ugie betreklik afgeleë is.
NG gemeente
wysigVir hoofartikel sien NG gemeente Ugie
Die gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is op 14 Februarie 1903 van Mthatha, afgestig. Die nuwe gemeente het bestaan uit Ugie, Maclear, Tentkop, Mount Fletcher en Gubenxa. Die ledetal was maar klein en die gemeente het sy eiesoortige probleme gehad. Die paaie was ook so sleg dat huisbesoek per perd gedoen moes word.
Die eerste leraar was ds. A. Ahrbech, wat in Maart 1903 bevestig word. Hy moes egter reeds in 1905 weens swak gesondheid aftree. Die hoeksteen van die kerk is tydens die vierde leraar, ds. J.N. Vlok, se dienstydperk op 23 Julie 1910 gelê.
Ds. Vlok is opgevolg deur ds. J.J. Ackermann en hy op sy beurt deur ds. M.T.R. Smit wat eers koshuise vir arm en verwaarloosde kinders in 1918 opgerig het en daarna die Ugie-weeshuis in 1922. Een van die bekende ouddirekteure van die weeshuis is die skrywer ds. Solly Ozrovech van 1958 tot 1965. Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou is in 1953 gelê.
Hier was in 1972 333 volwasse lidmate en met die weeshuis twee keer soveel kinders. In 1978 het die volwasse lidmate 348 getel, in 1994 210 en in 2006 123. Teen 2012 het dit ietwat toegeneem tot 137. Die gemeente kon darem nog sy eie leraar bekostig.
Sien ook
wysigBronne
wysig- Olivier, ds. P.L. (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 "Hoofplek Ugie". Sensus 2011.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 Raper, P.E. (1987). "Dictionary Of Southern African Place Names". Johannesburg: Lowry Publishers. p. 442.