Charles Goldmann
Charles Goldman | |
---|---|
Gebore | Charles Sydney Goldman 28 April 1868 |
Sterf | 7 April 1958 (op 89) |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Beroep | Entrepreneur, joernalis, politikus en skrywer |
Bekend vir | Nicola Ranch |
Politieke party | Konserwatiewe Party |
Eggenoot | Agnes Mary Peel (∞ 1899) |
Kinders | Hazel Golman (1904–1946) John Monk Goldman (1908–1999) Victor Robert Penryn Monk Goldman (1910–1987) |
Ouer(s) | Berhard Nahum Goldmann en Augusta Goldmann (née Friedlander) |
Charles Sydney Goldmann (Burgersdorp, Kaapkolonie, 28 April, 1868 – Brits-Columbië, 7 April 1958) was 'n Witwatersrandse goudmynkenner, skrywer, verslaggewer, direkteur van verskeie maatskappye en 'n Britse parlementslid.
Herkoms
[wysig | wysig bron]Goldmann was ’n seun van B.N. Goldmann, 'n gesiene Duits-Joodse immigrant, vrederegter en lid van die afdelingsraad van Burgersdorp. Sy broer prof. Edwin Goldmann het roem as histopatoloog en chirurg verwerf, maar ná sy studie in Duitsland nie weer na sy vaderland teruggekeer nie en is in 1913 in Duitsland oorlede. Nog ’n broer, Richard, was ’n vooraanstaande Witwatersrandse sakeman en politikus. Al drie het hul skoolopleiding aan die Albert Academy op Burgersdorp ontvang.
Vooroorlogse sukses
[wysig | wysig bron]Goldmann het reeds as jong man sy fortuin opgebou uit mynbou en die opbrengs van sy bedrywighede gebruik om 'n landgoed, Schoongezicht, in die distrik Middelburg, Transvaal, te koop. Hy het ook ryk geword uit die volstruisbedryf. Goldmann is vereenselwig met die magtige mynbou- en finansiële groepe aan die Rand, was 'n vennoot in Sigismund Neumann se firmas in 1895, en teen 1905 voorsitter van ses mynboumaatskappy en direkteur van vele meer. Voor die Tweede Vryheidsoorlog is hy blykbaar na Duitsland, en wel ook na Engeland, waar hy in 1899 met die agbare Agnes Mary Peel (1869–1959), dogter van die liberale politikus sir Arthur Peel, eerste burggraaf Peel, getroud is. Sy is vereer met die Koninklike Rooi Kruis en is in 1901 'n Lady Grace of the Venerable Order of Saint John of Jerusalem gemaak. Hulle het drie kinders gehad.
Tweede Vryheidsoorlog
[wysig | wysig bron]Tydens die Driejarige Oorlog (1899–1902), toe hy 'n majoor in die Britse magte in Suid-Afrika was, het hy Winston Churchill as oorlogskorrespondent bygestaan en verslag gedoen vir The Cape Argus en The Standard. Hy het ook werke oor die oorlog geskryf, onder meer With General French and the cavalry in South Africa (1902), Cavalry in future wars en oor die goudmynbou. Ná die oorlog het hy in Brits-Columbië gaan woon, waar hy die Nicola Stock Farm (later genoem Nicola Ranch) in Merritt begin het. Een van sy blywende nalatenskappe is die Monck-provinsiale park aan die oewers van die Nicolameer. Hy het 'n lang verslag oor die Driejarige Oorlog geskryf, het talle ander historiese werke geskryf en geredigeer en het kuns deur die Pre-Rafaëliete versamel, nes sir Sigismund Neumann.
Lewe in Engeland
[wysig | wysig bron]Voor Uniewording het hy hom in Engeland gevestig, waar hy in die Londense direksie van Suid-Afrikaanse mynboumaatskappye gedien het en Unioniste-parlementslid was vir Penryn and Falmouth van 1910 tot '18. Hy was die eienaar van die tydskrif The Outlook, wat hy ná die oorlog, toe dit 'n sukkelende weekblad was, gekoop het om sy politieke invloed te probeer uitbrei. Ten einde dit uit te bou tot 'n prominente platform vir die saak van tariefhervormers, het hy die joernalis J.L. Garvin as redakteur aangestel. Garvin het die weekblad kort voor lank in 'n belangwekkende publikasie omskep, maar ondanks die toename in aansien en sirkulasie kon The Outlook nie 'n wins toon nie. Ná 'n reeks meningsverskille tussen Goldmann en Garvin oor sakeaangeleenthede het Goldmann die tydskrif in Oktober 1906 aan lord Iveagh verkoop. Hy het pynappelbelange in Kenia gehad.
Aangesien hy steeds politieke aspirasies gehad het, het hy direk by die politiek betrokke geraak toe hy die kiesafdeling Penryn and Falmouth in Januarie 1910 se Britse algemene verkiesing wen. As Unionis het hy dié setel verteenwoordig tot dit in 1918 afgeskaf is.
Laaste jare
[wysig | wysig bron]Tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–'18) het Goldmann as majoor in die Cornwall Royal Garrison Artillery gedien. In 1919 het hy 'n stuk grond, Nicola Ranch and Town, in Brits-Columbië gekoop en dit eindelik uitgebrei tot 1 200 km². Sy eiendom het die hele ent tot by Monck-provinsiale park gestrek, die naam wat dit later gekry het. Hy het die park genoem na sy seun kommandeur Victor Robert Penryn Monck van die Koninklike Vloot. In Engeland het Goldmann in Trefusis House, Falmouth, gewoon tot hy omstreeks 1929 na die Jakobynse herehuis te Yaverland Manor verhuis het.
In die ouderdom van 82 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en hom op Klipheuwel tussen Malmesbury en die Paarl gevestig. Sy kinders was Hazel Golmann (1904–1946), John Monk Goldmann (1908–1999), Victor Robert Penryn Monk Goldmann (1910–1987). Albei die seuns het hul naam wetlik in 1939 verander na Monck.
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Sy werke sluit in, benewens dié hierbo genoem, The financial, statistical and general history of the gold and other companies of Witwatersrand, South Africa (1892); South African mines (1895–'96, saam met Joseph Kitchin); Atlas of the Witwatersrand and other goldfields in the South African Republic (1899, saam met baron A. von Maltzan).
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Sandler, E.A. in Beyers, C.J. (hoofred.). 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel IV. Durban: Butterworth & Kie (Edms) Bpk.
- (en) Herrman, Louis in Potgieter, D.J. (ed.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, volume 5. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).