TSPWL

Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 16

184

Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale:
Strukturele en inhoudelike patroonmatighede
Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories: Patterning in the structure and general content

Corné van der Vyver


Fakulteit Opvoedkunde
Noordwes-Universiteit
Potchefstroom
Suid-Afrika
E-pos: Corne.VanDerVyver@nwu.ac.za

Corné van der Vyver

Corné van der Vyver is ’n lektor in die vak­ Corné van der Vyver is a lecturer in the
groep Afrikaans vir Taalonderwys in die Fakulteit subject group Afrikaans for Education in the
Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy Faculty of Education at the North-West
doseer Afrikaans vir voorgraadse studente in University. She holds a BA(Ed) (1990) degree
onderwys. Sy behaal ’n BA(Ed)-graad aan die from the University of the Free State; thereafter,
Universiteit van die Vrystaat (1990) en daarna, from the North-West University, she obtained a
agtereenvolgens, aan die Noordwes-Universiteit, BA Honours degree in Language Practice (2007),
Honneurs in Taalpraktyk (2007), MA in Afrikaans an MA in Afrikaans and Dutch (2014) and a PhD
en Nederlands (2014) en PhD (2018), met die (2018), the title of the doctoral thesis being
titel van die tesis “Storievertelling as onderrig­ “Story­telling as a teaching strategy to strengthen
strategie ter versterking van gemeenskaps­ a community’s identity”.
identiteit”.

Abstract
Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories: Patterning in the structure and general content
This article explores characteristic or repetitive pattern formations in the structure and general
content of selected Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories. By using a specific methodology,
a corpus of stories was first selected, followed by a comparative analysis of the different stories.
An analysis of repetitive patterns necessitates both syntagmatic and paradigmatic readings
of the stories, as demonstrated in both Bremond’s (1977) model, dealing with the action in
stories and Greimas’s (1966) actantial model focusing on different functions of characters.
By utilising these analytic models, the methods of storytelling and foregrounding, as well as
the meaning of these relationships and of the stories as a whole could be discerned. Pre-existing
structural readings of the folk tale, the trickster tale and Jackal and Wolf stories also added
value to the research.

Datums:
Ontvang: 2021-06-15 Goedgekeur: 2021-11-22 Gepubliseer: Maart 2022

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
185

Some examples from the corpus of stories are provided to illustrate and substantiate
findings. The corpus consisted of sound recordings by a project team led by Du Plessis (1987:8-
14), recordings made by the researcher in the Murraysburg district in June 2010, Jackal and
Wolf stories told by Dana Niehaus (2011), and stories from the volumes Die Kaskenades van
Jakkals en Wolf (Rousseau, 2011), Die Mooiste Afrikaanse Sprokies (Grobbelaar & Verster,
2007), and Jakkals en Wolf (Grobbelaar & Verster, 2011).
Both Bremond’s action logic and Greimas’s actantial model proved valuable in describing
the structure of the stories and the unique formations of patterns that emerged from the analysis.
For example, the actantial roles (Greimas) in Jackal and Wolf stories represented indications
of an underlying deep structure informing countless re-telling of the different stories. Regarding
the structure of events (Bremond), it was noticeable that in some of the stories, the episodes
followed one another successively, while in others the episodes were embedded in previous
episodes.
A comparative reading of the Jackal and Wolf trickster stories revealed significant
relationships between the structural elements of the different stories. For example, the stories
all take place in a universal past; there are usually three characters in these stories, but usually
it is only Wolf that is defeated. The characters are mostly male, and the few female characters
present in the stories remain in the background. The characters constantly find themselves in
a space that fluctuates between a domesticated and an undomesticated world. The stories are
mainly told by an external narrator-focaliser who narrates and observes and who is not limited
to a particular position. These stories are most often told by male storytellers. Many of the
storytellers are highly attuned to the audience and they often adapt the stories to suit their
target audience (South African children). Many of the storytellers engage the audience by
making use of ingenious techniques; for example, by directly involving the audience in dialogue
or offering moral lessons.
It clearly emerged that the identity of the hero in these stories depends on the perspective
from which the events are considered. The investigated corpus shows that the stories can be
described as trickster tales in more ways than one, and that they follow the general patterns
of trickster tales. It is also clear that the identified structures remain dynamic.

KEYWORDS: actants, analysis, deep structure, folktale, narrative, patterning, structure,


structural elements, trickster, trickster story

TREFWOORDE: aktante, dieptestruktuur, narratief, ontleding, patroonmatighede, triekster,


trieksterverhaal, struktuur, struktuurelemente, volksverhaal

Opsomming
In hierdie artikel word verslag gedoen van ’n deduktiewe ontleding van ’n versameling Jakkals-
en-Wolfverhale met betrekking tot struktuurelemente, strukturele patrone, variasiepatrone en
inhoud volgens die beginsels van strukturalistiese narratologie. Die struktuurmodelle wat reeds
deur ander navorsers in volks- en trieksterverhale uitgewys is, is ook aan hierdie korpus getoets.
Daar is bevind dat Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale ooreenstem met die universele patrone
van trieksterverhale. Dit het ook geblyk dat die held in hierdie verhale bepaal word deur die
oogpunt waaruit die gebeure beskou word. Jakkals is onder meer ’n metafoor van die triekster
wat in ’n sosiaal beter posisie geplaas word deur die feit dat hy slim is en daarin kan slaag om
die fisiek sterkere te uitoorlê. Daar is bevind dat die struktuur van die Afrikaanse Jakkals-en-
Wolfverhale in sekere opsigte uniek is – ’n universele verlede, unieke karakters, ’n beperkte

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
186

ruimte, ’n verteller-fokalisator, gebeure waarvan die episodes op mekaar volg, episodes wat
ingebed is in ’n handelingsreeks en vertellers wat ingestel is op die kindergehoor. Dit is duidelik
dat die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale dinamies
gebly het. ’n Wyer soektog behoort geloods te word om meer volksverhale, in veral die Suid-
Afrikaanse konteks, wetenskaplik te versamel sodat meer verhale met mekaar vergelyk kan
word ten einde tot ’n algemener gevolgtrekking te kan kom oor die struktuur en patroonmatig­
hede in Suid-Afrikaanse volksverhale.

1. Inleiding en agtergrond

Trieksterverhale word wydverspreid in Afrika vertel, en in hierdie Afrikaverhale neem die


trieksterkarakter veral die vorm van ’n dier aan, soos Hasie, Skilpad en Spinnekop (Mwinlaaru
& Nkansah, 2018:251; Willis, 1993:274). Die algemeenste trieksterfiguur in Afrikaanse
trieksterverhale is Jakkals (Kannemeyer, 1978:212; Pretorius, 2020; Schmidt, 1985:60). Soos
verduidelik in paragraaf 2.2.1 voldoen Jakkals, in Jakkals-en-Wolfvehale aan die eienskappe
van die trieksterfiguur wat in trieksterverhale voorkom en daarom kan Suid-Afrikaanse Jakkals-
en-Wolfverhale geklassifiseer word as trieksterverhale.
Von Wielligh (1926) trek parallelle tussen hierdie verhale en die wêreldbeskouing van
die tradisionele (Afrikaanse) gemeenskap (1700–2015). Jakkals-en-Wolfverhale is uniek in
Afrikaans aangepas (kyk Bleek, 1864). Van Rensburg (1983) en Pretorius (2020) meen dat
hierdie verhale onder meer hul oorsprong het by die Nederlanders wat aan die Kaap aangekom
het en Reinaard die Vos as gewilde slaaptydstorie aan hul kinders vertel het. Ook in die ander
gemeenskappe (veral onder die Khoi) is die stories herskep en verkontekstualiseer sodat dit
deel van vandag se Jakkals-en-Wolfverhaleskat is (Van Niekerk, 2018). Daar is dus ’n sterk
vermoede dat Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale hul ontstaan grootliks in die Nederlandse
tydperk aan die Kaap het.
Aucamp (2009:16) en Ikomi (2018:277) is van mening dat daar in die storieverteltradisie
soveel tekste is as wat daar vertellers is. Elke verteller se besondere styl en invalshoek beïnvloed
dus die storieproduk. Voorts verduidelik Aucamp (2009:16) dat vertellings soos “nomades”
is wat van een kultuurgroep na ’n ander “swerf” en mutasies ondergaan. Die Jakkals-en-
Wolftrieksterverhaal is daarom vermoedelik getransponeer om by ’n nuwe ruimte en tyd aan
te pas, en sodoende is nuwe Jakkals-en-Wolfverhale gebore.1
In die proses van mutasie en transponering moes hierdie verhale noodgedwonge ook
verandering in struktuur en inhoud ondergaan het. Geen uitgebreide bronne oor die strukturele
aard van Jakkals-en-Wolfverhale kon gevind word nie. Hierdie tekort kan moontlik toegeskryf
word aan die skynbare eenvoud van die verhale en die feit dat dit blykbaar hoofsaaklik gerig
is op kinders en dus nie wyd bestudeer is nie.
Nuttig en uitsonderlik in hierdie verband is die werk van Dundes (1971), wat ’n basiese
patroonmatigheid in Afrikavolksverhale identifiseer, asook Paulme (1977:64-103), wat
trieksterverhale uit Afrika morfologies ontleed het aan die hand van Propp (1979) se funksies
en Dundes (1971) se modelle. Dundes (1971:176) identifiseer die volgende basiese strukturele
patroon met betrekking tot bepaalde genres, die trieksterverhaal inkluis: vriendskap, kontrak,
skending (bv. deur middel van misleiding), herstel (van skending) en die einde van vriendskap.

1
Bryla (2018:6) merk in hierdie verband op dat trieksters as bewoners van die kruispaaie van die
lewe gesien kan word. Hulle funksioneer ook as bedrieërs op die drumpel van kulturele stelsels,
wat met behendigheid en gemak tussen hierdie kulturele stelsels beweeg.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
187

Hierdie patroonmatigheid sluit aan by Galin (1981:247) se identifisering van drie stadia in die
trieksterverhaal, naamlik die beplanning van ’n poets, die uitvoering van die poets en die toe-
eiening van die poets. Paulme se bevindinge oor die struktuur van Afrikaverhale sluit ook by
die aard van trieksterverhale aan (kyk 2.3).
In die navorsing waaroor hier onder verslag gedoen word, is daar op die volgende probleem
gefokus: Watter patroonmatighede kan in die struktuur en algemene inhoud van geselekteerde
Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale geïdentifiseer word?

2. Konseptuele teoretiese raamwerk

Om die korpus verhale sinvol te kon ontleed, was dit nodig om relevante teoretiese perspektiewe
te gebruik. Daarom word daar vervolgens ’n oorsig gegee van navorsing wat reeds oor
narratiewe, folklore,2 volksverhale, trieksterverhale en Jakkals-en-Wolfverhale gedoen is. Die
grondbeginsels van die strukturalisme word ook oorsigtelik verduidelik, omdat dit ’n belangrike
instrument was om die patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse
Jakkals-en-Wolftrieksterverhale sinvol te kon vasstel.

2.1 Narratief

Die kleinste eenheid wat as ’n narratief beskou kan word, kan beskryf word as die talige
weergawe van die temporele opeenvolging van twee gebeurtenisse wat ’n verandering
teweegbring. Dutton (2009:118) sien groter algemene patrone in die narratief en meen dat die
mees abstrakte karakterisering van stories uit menslike wil en die een of ander vorm van verset
daarteen bestaan. Bremond (1977:186) beklemtoon andersyds ’n prototipiese logiese struktuur
in verhale: “Elk verhaal bestaat uit een taalhandeling waarbij een opeenvolging van
gebeurtenissen van menselijke belang geïntegreerd wordt binnen de eenheid van een en dezelfde
handeling.”3 Die narratief volg tipies ’n patroon van oorsaak en gevolg, soos Bremond (1977)
uiteensit: a) die storie begin met ’n toestand van ekwilibrium; b) die ekwilibrium word ontwrig
en ’n disekwilibrium ontstaan; c) en die disekwilibrium word opgelos en die storie eindig weer
in ’n ekwilibrium (Todorov, 1977:118). Todorov se narratiewe teorie, in ooreenstemming met
dié van Dundes, is op Bremond (1977) se patroon van oorsaak en gevolg gebaseer. Ook
Groenewald (1990:133) en Paulme (soos aangehaal in Kam, 2007:138) onderskryf Todorov
se teorie. Hierdie siening word in samehang met Bremond (1977:184) se drie logiese fases
van ’n proses van narratiewe moontlikhede aanvaar, naamlik die moontlikheid van ’n proses,
die verwerkliking of uitvoering daarvan en die afsluiting van die proses.4

2.2 Volksverhale

Jakkals-en-Wolfverhale is nie net narratiewe nie, maar kan meer spesifiek geklassifiseer word
as volksverhale. Die term “volksverhaal” word breedvoerig deur Simpson en Roud in A

2
Folklore is die versamelnaam vir tradisionele gelowe, gebruike en stories van ’n gemeenskap wat
mondelings oorgedra word van generasie tot generasie. Folklore sluit onder meer in legendes,
fabels, mites, volksverhale, “ouvroustories”, volksliedere en tradisies (Steenberg, 2013).
3
Du Plooy (1986:165) sluit hierby aan deur die stelling dat waar opeenvolging ontbreek, daar geen
verhaal is nie, maar wel beskrywing, gevolgtrekking of liriese ontboeseming.
4
Bremond se logika van narratiewe moontlikhede word breedvoeriger bespreek onder die opskrif
“Struktuur en struktuurontleding”.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
188

Dictionary of English Folklore (2003) bespreek. Hulle beskou “volksverhaal” as ’n term wat
in ’n breër of enger sin gebruik word. In die breër sin het volksverhale betrekking op alle
prosa-narratiewe wat tradisionele patrone van stories, of ontwikkelingslyne in stories, volg.
Die meeste van die verhale is gevorm deur tradisionele elemente (motiewe) saam te voeg of
’n gevestigde plot (verhaaltipe) oor te dra van een held, of een lokaliteit, na ’n ander. Die
basiese katalogus vir volksverhale in die enger sin is die tipes volksverhale wat deur Thompson
(1955) geklassifiseer is.
Neethling (1977:40) verklaar dat die narratiewe praktyke van ’n groep op ’n spesiale
manier deur volksverhale gevorm word weens die geskiedkundige en kulturele belang van
volksverhale. Hierdie stelling kom ooreen met Aucamp (2009) en Ikomi (2018) se siening dat
daar verskeie variasies van ’n sekere verhaal binne ’n enkele geografiese gebied mag voorkom.
Aucamp (2009) verklaar dat die kern van verhale in ’n bepaalde geografiese gebied weinig
mag verskil, maar dat die besonderhede wat die verhale inkleur, meermale ’n veranderlike
kwaliteit het. Die verhaal word aangepas om by die vertelsituasie en die ouderdom, kultuur,
topografie, politiek en so meer van die gehoor te pas.

2.2.1 Trieksterverhale

Trieksterverhale is ’n tradisionele vorm van literatuur wat die avonture en mislukkings van
welbekende volksfigure vertel en kan daarom gesien word as ’n onderafdeling van volksverhale.
Wanneer daar na die eienskappe van die trieksterfiguur gekyk word, voldoen Jakkals in meer
as een opsig daaraan. Daarom kan Jakkals-en-Wolfverhale ook as trieksterverhale geklassifiseer
word. ’n Triekster is ’n figuur wat die beste illustreer hoe ’n mens nié in die samelewing
behoort op te tree nie. Sy manewales verteenwoordig presies wat gesonde en volwasse mense
nié doen nie (Abrahams, 1983:23-155; Maurone, 2002:229). Individue met slegs ’n bietjie
emosionele intelligensie sal weet dat dit onaanvaarbare gedrag is en dat die optrede van
trieksterkarakters wat menslike swakhede uitbuit, gestraf sal word omdat dit die samelewing
onbeskerm laat voel (Haslam et al., 2021:48).
Die hoofkarakters in trieksterverhale wy dikwels hul energie aan konstruktiewe doelwitte,
maar het meermale selfsugtige motiewe. Die verklaring hiervoor kan onder meer wees dat die
triekster se onvolmaaktheid nie ’n openlike bedreiging vir die orde inhou nie. Die trieksters
is dikwels suksesvol, maar moet soms hulself verdedig en word dan heel dikwels die slagoffers
van hul eie dade (Williams, 2000:2). McDermott (2005:i) merk op dat trieksterverhale sagkens,
maar humoristies die sterk- en swakpunte van die mensdom aan die gehoor demonstreer.
Volgens Booker (2010:308) is die triekster op ’n slinkse manier meedoënloos in die gebruik
van sy mag deur voor te gee dat hy optree in die held se beste belang terwyl hy eintlik probeer
om die held te vernietig. Booker verduidelik dat die eintlike doel van die triekster is om die
held te verblind en sy gewete in te perk sonder dat die held daarvan bewus is.

2.2.2 Struktuur en struktuurontleding

Struktuurontleding het ten doel om ’n basiese onderliggende patroon binne die letterkunde te
ontbloot en verslag te lewer van al die elemente waaruit die geheel bestaan en hoe die elemente
onderling met mekaar verband hou om die geheel te vorm. Hierdie struktuur staan voortaan
in hierdie bespreking as die “dieptestruktuur” bekend. Dit is die stelsel onderliggend aan die
manifestasies, oftewel die patroon onder die oppervlakte. Verskeie navorsers stel metodes
voor waarop hierdie dieptestruktuur ontbloot kan word.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
189

Dit is vervolgens belangrik om te let op wat navorsers as strukturalisme beskou. Volgens


De Gramont (1970:4) is strukturalisme die soeke na onverwagte harmonie. Dit is die soeke
na ’n stelsel van verhoudings verborge in ’n reeks verskynsels. De Gramont (1970:4) wys
daarop dat daar in enige vertelling elemente is waarvan sommige toevallig is en ander
struktureel. Strukturele elemente is die elemente wat onveranderlik bly ongeag hoeveel keer
die storie vertel word.
Culler (1975:14) verduidelik dat struktuur veral aan die hand van binêre opposisies ontleed
kan word: “Indeed, the relations that are most important in structural analysis are the simplest:
binary oppositions.” Binêre opposisies is stelle teenoorgestelde waardes wat die struktuur van
die teks ontbloot. In die lig hiervan het Lévi-Strauss (1972) nie soseer belang gestel in die
volgorde waarin gebeure gerangskik is om die plot te vorm nie, maar eerder op die dieper
rangskikking van temas gelet.
Culler (1975:11) verduidelik dat die begrip van verbandhoudende entiteite uiters belangrik
is vir die semiotiek of struktuurontleding van alle soorte sosiale en kulturele verskynsels, want
in die formulering van die reëls van ’n stelsel word die eenhede volgens die reëls georden en
dus moet vasgestel word wanneer twee objekte of aksies as voorbeelde van dieselfde eenheid
tel. Wanneer die strukturalis ’n element se integrasievermoë wil openbaar, is dit eers nodig
om die verhouding van die element met ander entiteite op dieselfde vlak te definieer (Culler,
1975:13). Hierdie verhouding van entiteite kan sintagmaties of paradigmaties van aard wees.
Wanneer ’n stelsel ontleed word, is dit nodig om die paradigmatiese verhoudings (funksionele
kontraste) en die sintagmatiese verhoudings (die moontlikhede van kombinasies) te spesifiseer.
Barthes en Duisit (1975:242) voer aan dat strukturele ontleding slegs gedoen kan word
as die organisasie van die inhoud van die narratief verstaan word. Dit wil sê, die verskillende
vlakke van ooreenkomste moet binne die hiërargiese perspektiewe geplaas word voordat
strukturele ontleding uitgevoer kan word. ’n Verhalende teks funksioneer op ’n horisontale en
’n vertikale vlak; die verhaallyn kan eers ten volle begryp word wanneer die horisontale
verhaalverloop geprojekteer kan word op die vertikale as wat die lineêre betekenis aanvul en
verdiep. Die leser kan met ander woorde nie net van een woord na ’n ander lees nie, maar
moet ook van een vlak na ’n ander vlak beweeg om die ware betekenis van die verhaal raak
te sien.
Barthes en Duisit (1975) onderskei drie vlakke in die verhalende teks wat beskryf en
ontleed moet word, naamlik die vlak van die funksies, die vlak van handeling en die vlak van
vertelling. Hierdie drie vlakke is progressief geïntegreer (Du Plooy, 1986:153). In hierdie
verband omskryf Oosthuizen (1987:199) strukturalisme as ’n wetenskaplike metode wat
gebaseer is op die veronderstelling dat ’n begrip van die verhouding tussen dinge belangriker
is as ’n begrip van die dinge self; daarom probeer strukturalisme konsekwent om “dele” en
die “gehele” wat hulle konstitueer, te verstaan aan die hand van die verhoudings waarin hulle
tot mekaar staan.
Barthes (1977:101) beskou ’n groep funksies wat duidelik bymekaar hoort as ’n reeks.
Volgens Barthes (soos aangehaal in Du Plooy, 1986:156) is dit die herkenning van reekse en
die verhoudings tussen die reekse asook die begrip van die betekenis van die reekse en die
betekenis van dié verhouding tussen reekse wat die struktuur van die verhaal blootlê.
Volgens Bremond (soos aangehaal in Brink, 1987:22) begin die narratiewe opset by
funksies en hul aaneenskakeling in logiese reekse, waarvan die elementêrste model drie fases
behels: ’n funksie wat die moontlikheid tot ’n handeling open; ’n tweede wat daardie moont­
likheid verwerklik; en ’n derde wat die resultaat daarvan beliggaam. Vir Bremond ontstaan
’n verhaal wanneer gebeure in reekse gegroepeer word. Die elementêrste reeks is wanneer ’n

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
190

moontlikheid ontstaan dat iets kan gebeur. ’n Handeling kan hierdie moontlikheid verder
versterk of dit laat sneuwel. Indien dit sneuwel, hou die proses op. Wanneer ’n handeling die
gebeure versterk, gaan die gebeure voort en sukses kan bereik word; of die handeling gaan
wel voort, maar dit misluk. In figuur 2.1 word hierdie proses skematies voorgestel.

Figuur 2.1: ’n Skematiese voorstelling van Bremond se handelingslogika (aangepas uit


Bremond, 1977:184).

Greimas (1966) stel belang in die verhoudings tussen elemente en beskryf die verhouding van
die akteurs tot die gebeurtenisse. Sy aktansiële model gee die verhouding van die akteurs tot
die doel wat nagestreef word, weer. Hy stel nie net belang om die sintagmatiese, lineêre
ontplooiing van die verhaal te volg nie, maar ondersoek ook die paradigmatiese moontlikhede
van elke gegewe. Greimas bied dus ’n minder dinamiese model aan van die verhaalstruktuur
as Bremond, wat sy aandag toespits op ontwikkeling, wording en verandering (Brink, 1987:23).
Greimas identifiseer die hoofrolle in die handeling van ’n verhaal; alle akteurs wat in dieselfde
baan beweeg of aan dieselfde afdeling behoort, noem hy “aktante” – karakters beoordeel
volgens die funksie wat hulle vervul. “Vir elke ‘strewe’ wat geïdentifiseer word, onderskei
Greimas dan ’n subjek en ’n objek, ’n bestemmer5 en ’n bestemde van die funksies; en
subkategorieë van helpers en teenstanders. So ’n aktansiële model vorm vir Greimas die
substraat van al wat verhaal is” (Brink, 1987:23). Greimas se aktansiële model kan dus gebruik
word om alle verhale se dieptestruktuur te ontbloot.
Greimas se teorie van modaliteite (wyse van voorstelling aan die hand van subjek versus
objek, begunstiger en begunstigde of helper en teenstander) is nuttig omdat dit die analis in
staat stel om te differensieer tussen verskillende soorte plot binne narratiewe trajekte. Greimas
(1966:202-206) stel voor dat narratiewe spanning geskep word deur die aanvanklike strewe
van die subjek na die objek en deur die teenstander se bewuste poging om die subjek se soektog
na die objek te belemmer.
Strukturaliste (onder andere Todorov, 1977:108-119) verklaar dat patrone die analis sal
lei na die onderliggende konvensies van die ontwikkeling van narratiewe. Wanneer daar ’n
vaste patroon of grammatika geïdentifiseer kan word, lê die waarde van die ontleding juis
daarin dat dit afwykings kan blootlê. Fokkema en Kunne-Ibsch (1978:69) sluit hierby aan en

5
Brink se term “bestemmer” word gewoonlik vertaal as “begunstiger” en die term “bestemde” as
“begunstigde”.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
191

verklaar soos volg: “Even if an author does not obey this logic we must be acquainted with
it; his disobedience derives all its meaning precisely in relation to the norms which this logic
imposes.” Dit is daarom veral die afwyking van ’n gevestigde norm wat baie betekenisvol kan
wees.

2.2.3 Basiese elemente en hul onderlinge verhoudings

Dit is nuttig om na algemene strukturele patrone in die volksverhaal, soos reeds geïdentifiseer
deur ander navorsers, te kyk en die bruikbaarheid daarvan te ondersoek vir die bepaling van
patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-
Wolftrieksterverhale. Culler (1975:5) verduidelik: “The object is itself structured and is defined
by its place in the structure of the system, whence the tendency to speak of ‘structuralism’.”

Invloedryke beskouings van patroonmatigheid in die volksverhaal

Omdat die trieksterfiguur meestal in volksverhale voorkom, is dit belangrik om ondersoek in


te stel na die begrip van patroonmatighede in volksverhale. Alan Dundes (1971:176) het ’n
basiese tematiek in bepaalde volksverhale geïdentifiseer wat die volgende behels: vriendskap,
kontrak, skending (bv. deur middel van misleiding), herstel (van skending) en die einde van
vriendskap. Denise Paulme (1977:64-103) het trieksterverhale gebruik en hulle morfologies
aan die hand van Propp (1979) se funksies en Dundes (1971) se modelle ontleed. Dit het haar
in staat gestel om die volgende sewe tipes verhale te identifiseer volgens hul morfologiese en
narratiewe struktuur: stygende, dalende, sikliese, spiraal-, spieël-, uurglas- en komplekse
verhale.
Neethling (1977:41-43) eien die volgende basiese strukturele kenmerke in die volksverhaal
wat nou aansluit by Paulme se morfologiese en narratiewe struktuur van die volksverhaal:
• Taal, woordgebruik en gebeure is eenvoudig.
• Episodes volg vinnig op mekaar.
• Die tyd en ruimte asook die karakters word onmiddellik bekendgestel.
• Die slot is kort en bondig.
• Daar is herhaling.
• Karaktertipes toon uiterlike en innerlike ooreenstemming.
• Die karakters is meestal eendimensioneel, met geen karakterontwikkeling wat
plaasvind nie.
Die vraag is nou hoe Suid-Afrikaanse volksverhale met die voorgaande algemene strukturele
patrone in die volksverhaal vergelyk.

Die struktuur van die Suid-Afrikaanse volksverhaal

Navorsers het in die sewentigerjare opnuut bewus geraak van die Suid-Afrikaanse volksverhaal
met die herontdekking van Bleek en Lloyd se boek Reynard the Fox in South Africa (1864).
Intussen is ander navorsing oor patroonmatighede in die struktuur van die Suid-Afrikaanse
volksverhaal opgeteken.
Lotz (1959:118-121) identifiseer die volgende strukturele eienskappe in Suid-Afrikaanse
volksverhale, waarvan sommige mag ooreenstem met ander navorsers se bevindinge:

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
192

• Die hoofmotief word deurgaans op standhoudende wyse gehandhaaf.


• Daar is ’n kort inleiding met min besonderhede.
• Onmiddellike aksie met gebeure wat vinnig op mekaar volg.
• Die dialoog is minimaal.
• ’n Eenvoudige knoop.
• Die klimaks word sonder onnodige omslagtigheid bereik.
• Die ontknoping en slot volg mekaar ewe snel op.
• Geen volledige karakterontwikkeling of karakteruitbeelding vind plaas nie.
• Sekere handelinge word herhaal (gewoonlik drie keer) en in dieselfde woorde
weergegee.
• Drie karakters ondergaan om die beurt dieselfde lot.
• Sommige verhale bevat gedeeltes wat gesing of geresiteer word.
• Karakters kan in twee of drie groepe verdeel word: protagonis (held), antagonis
(teenstander) en tritagonis (helper).
Steenberg (2013) verteenwoordig ’n meer onlangse perspektief op struktuur en wys daarop
dat die struktuur van die volksverhaal wissel. Sy sê ook dat die ruimte in die volksverhaal
vaag mag wees, maar dat daar tog verwysings na die geografiese gebied waar die verhaal
afspeel, mag wees.
Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale is volksverhale en meer spesifiek trieksterverhale.
Daarom kan daar verwag word dat die struktuur daarvan ’n kombinasie sal wees van die
struktuur van volksverhale en trieksterverhale, soos reeds beskryf is. Finnegan (2012:321)
pleit dat volksverhale gesien moet word as deel van ’n eie sosiale konteks en nie net as stories
wat die tyd deurstaan het nie. In hierdie sosiale konteks van Suid-Afrikaanse Jakkals-en-
Wolfverhale word dit dan ook duidelik dat Jakkals as die triekster optree wat vir Wolf telkens
mislei.

3. Metode

Uit die voorgaande het dit duidelik geword dat, om die strukturele en inhoudelike patroon­
matighede van die volksverhaal in die algemeen, en die trieksterverhaal in die besonder, te
identifiseer, die volgende gedoen moet word:
• ’n Ontledingsvlak moet gekies word.
• Die elemente of eenhede op daardie gekose vlak moet geïdentifiseer word.
• Die sintagmatiese en paradigmatiese verhoudings tussen die geïdentifiseerde elemente
en die geheel moet beskryf word.
• Die struktuur moet verbind word met die belangrikste funksies en verbindings tussen
die teks en ander groter betekenisraamwerke.
In hierdie artikel is ’n kombinasie van die struktuur van volksverhale en trieksterverhale beskou
as die beste manier om die verskillende verbandhoudende vlakke in die narratief te ontleed
en te verduidelik. In die ondersoek is die ontledingsvlakke gebruik wat gelyk is in die
narratologie, naamlik storie en verhaal. Die basiese elemente op die vlak van storie wat gebruik
is, was aktante, tyd, plek en onderliggende handeling. Verder is die elemente van karakters,
verhaalpatroon (plot), ruimte en temporele ordening, asook vertelwyse (verteller en fokalisator)
op die verhaalvlak gebruik.
Die volgende bronne of vertellers is gebruik om die korpus van verhale vir ontleding
saam te stel:

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
193

• Fink, A. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale – (amateur) mondelinge verteller.


• Fink, W. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale – (amateur) mondelinge verteller.
• NALN – versameling mondelinge verhale wat deur ’n projekspan onder leiding van
Du Plessis (1987:8-14) in Suid-Namibië onder die Griekwa-Afrikaners ingesamel is
om tekorte in variasietaalkunde aan te vul – mondelinge vertellers.
• Rousseau, L. 2011. Die kaskenades van Jakkals en Wolf – verteller.
• Grobbelaar, PW & Verster, S. 2007. Die mooiste Afrikaanse sprokies – verteller.
• Grobbelaar, PW & Verster, S. 2011. Jakkals en Wolf – verteller.
• Niehaus, D. 2011. Oom Dana Niehaus vertel Jakkals & Wolfstories – (professionele)
mondelinge verteller.
Onderwerpe waaroor deurgaans in mondelinge, sekondêr mondelinge en geskrewe vorme
vertel word, is uit die verhaalkorpus gekies sodat verhale met dieselfde onderwerpe met mekaar
vergelyk kon word. Die volgende onderwerpe is geïdentifiseer:
• Die botter-, room- of wynvat
• In die skaapkraal
• Vang vis
• Aan perd se stert vas
• Die bye
Vervolgens word die bevindinge van die studie bespreek.

4. Bespreking van bevindinge

Patrone met betrekking tot die storie en verhaal wat ontbloot is, word vervolgens bespreek.
Die volgende Jakkals-en-Wolfverhaal word as voorbeeld geplaas ter illustrasie vir die
bespreking van bevindinge:

Jakkals en Wolf in Boer se skaapkraal

Jakkals vertel vir ’n honger Wolf dat daar lekker vet skape in Boer se kraal is. Jakkals gaan
wys toe ook sommer vir Wolf waar die kraal met die vet skape is. Daar gekom begin die twee
gulsig te vreet aan Boer se skape. Jakkals is egter baie slimmer as Wolf en gaan meet homself
kort-kort by die skuiwergat wat die twee toegang tot die skaapkraal gegee het. Wanneer Jakkals
dan sien dat hy nou moet ophou vreet, maak hy of hy verder vreet, maar hou intussen vir Wolf
dop. Wanneer hy sien dat Wolf dik gevreet is en nie by die skuiwergat sal uitkom nie, hardloop
hy na Boer toe en kondig luidkeels aan dat Wolf in Boer se skaapkraal is. Boer vat sy sambok
en sy hond en hardloop skaapkraal toe om vir Wolf ’n les te leer. Daar gekom, looi Boer vir
Wolf met die sambok en sy hond byt vir Wolf, want Wolf is vasgekeer in die skaapkraal. Wolf
probeer so tussen die houe deur om by die skuiwergat uit te kom. Hy verstaan glad nie hoe
die gat wat hom toegang tot Boer se skaapkraal gegee het, skielik te klein geword het vir hom
en hom nie toelaat om te ontsnap nie.

4.1 Wat (storie)

Die reeks chronologiese gebeurtenisse wat oorwegend lineêr opeenvolgend in Suid-Afrikaanse


Jakkals-en-Wolftrieksterverhale weergegee word, lyk gewoonlik so:

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
194

• Jakkals eien iets wat in Jakkals en Wolf se basiese behoeftes kan voorsien. Albei het
’n behoefte aan kos en Jakkals het ook ’n behoefte om Wolf ’n streep te trek. Jakkals
maak sy plan met betrekking tot eersgenoemde aan Wolf bekend.
• Soms moet Jakkals Wolf oortuig om by sy planne in te val.
• Die plan word uitgevoer (meestal ten koste van Wolf).
• Wolf word te na gekom (hy is dom en naïef) en as gevolg daarvan word Jakkals die
meeste van die tyd bevoordeel.

4.1.1 Plek

Die omgewing waarin hierdie stories afspeel, word nie in besonderhede beskryf nie. Die ruimte
is aangepas sodat die dierekarakters in die ruimte pas. Die ruimtes wissel egter oor die grens
van getemde na ongetemde ruimte en terug. Die plek is dus dinamies.

4.1.2 Tyd

Die stories word meestal chronologies vertel. Die lees- of verteltyd wissel na gelang van hoe
uitgebreid die gebeure oorvertel word. Die verhale word in ’n soort algemene verlede vertel.
Wanneer die tydsaanduiding dan meer spesifiek weergegee word, veroorsaak dit ’n meer
realistiese tydsraam.
Met betrekking tot aktante en die aktansiële verhoudings kan daar twee moontlike
aktansiële modelle vir hierdie soort verhaal gekonstrueer word, afhangende uit wie se oogpunt
die gebeure beskou word. Die aktante in hierdie korpus verhale word saamgevat in tabel 1.

TABEL 1: Opsomming van aktante

UIT JAKKALS SE OOGPUNT UIT WOLF SE OOGPUNT


Subjek Jakkals Wolf
Objek Boer se begeerde produkte Boer se begeerde produkte (room,
(room, botter, wyn, skaapvleis, botter, wyn, skaapvleis, vis, perde-
vis, perdevleis, heuning) vleis, heuning)
Die slenter moet slaag
Begunstiger Wolf se goedgelowigheid Jakkals se uitgeslapenheid
Wolf se domheid Sy vermoë om slim planne uit
Wolf se grootte en krag te dink
Begunstigde Jakkals Wolf (negatief)
Helper Wolf Jakkals
Boer Jakkals se plan
Boer se honde Boer
Teenstander Vir Jakkals altyd leeg Boer
Jakkals
Boer se honde

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
195

Betreffende die uitgebreide storie ontbloot die vergelyking van die plotstruktuur in hierdie
korpus ’n oorkoepelende patroon. Die storie in al die vertellers se verhale begin in ’n
disekwilibrium vir Wolf en Jakkals, maar in ’n ekwilibrium vir Boer. Dan ontstaan daar vir
Boer ’n disekwilibrium, maar vir Wolf en Jakkals word die disekwilibrium vergroot. Die
disekwilibrium word opgelos vir Jakkals en Boer, en die storie eindig vir hulle in ’n ekwilibrium,
maar Wolf se disekwilibrium word enduit gehandhaaf. Hierdie patroon kan as ’n unieke patroon
beskou word vir Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale omdat dit afwyk van die patroon
van ekwilibrium, disekwilibrium en herstel wat Todorov (1977), Paulme (1977) en Taljaard
(1999) waargeneem het.

4.2 Hoe (verhaal)

4.2.1 Verhaalstruktuur

Baie elemente van die verhaalstruktuur stem ooreen met die bevindinge van Lotz (1959),
Neethling (1977) en Taljaard (1999), soos hier bo aangedui in die konseptuele en teoretiese
raamwerk. Jakkals-en-Wolfverhale se handelingslyn (gebeure) is duidelik en oënskynlik
eenvoudig. Soos aangetoon, begin elke verhaal waar Jakkals en Wolf honger is en Jakkals dié
behoefte gebruik om sy planne in werking te stel. Jakkals se planne om Wolf ’n streep te trek
word nooit direk aan die gehoor gegee nie, maar die gehoor, wat vertroud is met Jakkals-en-
Wolfverhale, is bedag op die feit dat Jakkals altyd daarop uit is om Wolf ’n streep te trek.
Die klimaks word sonder omslagtigheid bereik. Jakkals oortuig gewoonlik vir Wolf om
in te val by sy planne. Die knoop is eenvoudig. Jakkals verduidelik gewoonlik kortliks aan
Wolf wat hy beplan en hulle voer die plan dan uit.
Die meeste verhale word vertel sonder lang verduidelikings of beskrywings. Die episodes
volg mekaar vinnig op; daar is dadelik aksie en daar is gewoonlik nie groot tydspronge nie.
In etlike gevalle word groter tydspronge in die verhaal aangetref omdat die storie meer
uitgebreid vertel word.
Dis juis deur binêre opposisies wat struktuur geopenbaar word. In hierdie verhale is dit
die opposisie van dom Wolf teenoor slim Jakkals of gebrek by Wolf teenoor Jakkals en Boer
se oorvloed wat in elke verhaal herhaal word.

In sommige van die skaapkraalverhale is ’n gedeelte wat gesing of geresiteer kan word,
byvoorbeeld:
En toe hulle so stap, sing hierdie skelm Jakkals: “Die sieke dra die gesonde. Die sieke
dra die gesonde. Die sieke dra die gesonde.”
Die hoofmotief is die motief van die kleiner slimme wat die sterker domme oorwin. Hierdie
motief word deurgaans op standhoudende wyse gehandhaaf.

4.2.2 Tydspatrone

Temporele verhoudings

Met betrekking tot volgorde, volg die episodes van die verhale chronologies op mekaar. Daar
is min afwykings van die storievolgorde. Met betrekking tot frekwensie word die gebeure
meestal singulatief vertel.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
196

Duur

Die verhale word teen ’n vinnige tempo vertel. Die eiesoortige vertelpatrone lê juis daarin dat
daar meer tyd afgestaan word aan sommige episodes as aan ander. Die episodes waarin die
hoorder voorberei word op die slenter waarmee Jakkals vir Wolf gaan vang, asook die episodes
waar Jakkals dalk uitgevang kan word en hy sy skelmstreek moet verdedig, kry meer verteltyd.
In die botter-, room- of wynvatverhaal en in die skaapkraalverhaal word daar soms
opsommings aangetref. Met ander woorde, die verteltyd in die teks is hier minder as die
storietyd. Die tyd wat dit byvoorbeeld vir Jakkals neem om drie vate se wyn uit te drink en
alles wat daar rondom kan gebeur, word in een sin saamgevat.

4.2.3 Karakters en karakterisering

In hierdie verhale is daar ook telkens drie karakters ter sprake, soos in sprokies, naamlik
Jakkals (die protagonis), Wolf (die antagonis) en Boer (die tritagonis). Alhoewel Jakkals en
Wolf oor menslike eienskappe beskik, verteenwoordig hulle nie ’n duidelike beeld van die
universele mens nie. Die karakters is meestal eendimensioneel, met geen karakterontwikkeling
wat plaasvind nie. Karakteruitbeelding geskied hoofsaaklik deur middel van wat die karakters
sê en doen en deur direkte karakterisering deur die verteller. Dialoog speel meestal ’n
ondergeskikte rol. Daar word ook gebruik gemaak van indirekte karakterbeelding deur wat
die karakters van mekaar sê en deur die karakters se dialoog. Die verteller se mededeling gee
ook karaktereienskappe van die karakters weer.
Die drie hoofkarakters het geen kreatiewe benamings nie, maar word vernoem na hul
aard: Jakkals, Wolf en Boer. Daar is etlike gevalle waar ingewikkelder verhoudings tussen die
karakters subtiel deur aanspreekvorme aangedui word.
Die karakters in die verhale is meestal van die manlike geslag. Die vroulike karakters is
almal byspelers in die betrokke verhale en word terloops genoem. Die bye is die enigste
karakters wat as manlik (seur) en vroulik (miesies) voorgestel word, met ’n koningin as leier.
Dit is die manlike hoofrolspelers met wie rekening gehou moet word omdat die verhale
hoofsaaklik in ’n manlike wêreld afspeel.
Nie al die vertellers artikuleer die trieksterkaraktereienskap so duidelik nie. Hierdie tegniek
veroorsaak heel waarskynlik dat die gehoor die triek meer waardeer omdat die simpatie
uitgedoof is wat eintlik die verontregte (Wolf) toekom.

4.2.4 Ruimtelike patrone

Direkte ruimtelike aanduidings

In die meeste van die verhale steek Jakkals en Wolf die grens tussen die getemde en ongetemde
wêreld dikwels oor – van veld na plaaswerf. Omdat die hoofkarakters diere is, lewer die
ruimtelike plasing in die natuur ’n bydrae tot die geloofwaardigheid van die verhaal. Die
plekke word selde in die verhale beskryf of benoem. Die ruimtelike aanduidings wat in die
verhale voorkom, is doelbewus en daarom funksioneel omdat dit bydra tot die voltrekking
van die skelmstreek wat Jakkals vir Wolf beplan, asook die meelewingsaspek, omdat dom
Wolf dit nie besef nie.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
197

4.2.5 Sintuiglike waarnemings

Visueel en taktiel

Visuele en taktiele waarnemings is nie volop in hierdie verhale nie.

Ouditief

Die gehoor hoor as’t ware die gesprekke tussen Jakkals en Wolf, en ook Boer, wanneer Dana
Niehaus (2011) gebruik maak van verskillende stemtone om onderskeid te tref tussen die
verskillende karakters.

4.2.6 Fokalisasie en stem

Die verhale word vertel deur ’n eksterne verteller-fokalisator wat sowel kyk as vertel en wat
nie beperk is tot ’n bepaalde posisie nie. Psigologiese faktore speel ook ’n rol in die fokalisasie
in hierdie verhale en beklemtoon so ook die rol van die eksterne fokalisator. Die verteller-
fokalisator rig hom soms direk tot die gehoor en verwys na die verteller en die gehoor se
gedeelde kennis. Soms dring die fokalisator wel in Wolf se gedagtes in en bied ’n direkte
weergawe van Wolf se gedagtes aan deur middel van Wolf se eie woorde (persoonsgebonde
fokalisasie).
Met tye rig die verteller hom ook direk tot die gehoor om kennis wat hy oor die karakter
het, te deel. As gevolg van die fokalisasie weet die gehoor soms meer as die karakter (meestal
Wolf). So tree die verteller eksplisiet na vore en staan met ander woorde nie op die agtergrond
nie. Die verteller artikuleer ook waardes en sienings en voed sodoende die gehoor op.
Hierdie verhale verteenwoordig ook die ewige stryd van Boer teen die natuurkragte, maar
oorwegend van die natuur se kant af gefokaliseer. Dit vorm as’t ware ’n subplot van die verhaal
– dit staan nie in die kern nie, maar vorm ’n soort algemene raam vir die verhaal.

4.2.7 Gebeure (handelingsreekse, handelingslogika)

Daar bestaan verskeie handelingsreekse in Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale, wat op


mekaar volg, parallel loop of in mekaar ingebed is. Die reekse volg oorwegend op mekaar,
maar die verhale verskil in die mate waarin ander reekse in die groter reekse ingebed word.
Die patroon van die twee parallelle reekse, naamlik die voorstelreeks en die triekreeks, bestaan
ook deurgaans in al die verhale.
Die verhale in hierdie korpus bestaan nooit uit minder as twee episodes nie en nooit uit
meer as agt episodes nie. Die verhale openbaar altyd oorkoepelend ’n verbetering vir Jakkals,
maar ’n verslegtingsproses vir Wolf. Die verbetering- en verslegtingsprosesse loop dikwels
parallel: wat vir Wolf na ’n verbetering lyk, bied vir Jakkals die moontlikheid om Wolf weer
’n streep te trek. Die verbetering- en verslegtingsprosesse word gelyktydig in die verhaal
voltrek. Die kernverhaal bly primêr, maar ander verhalende gedeeltes kan ook in die kernverhaal
ingebed word. Die aantal prosesse hang af van die mate waarin die verhaal uitgebrei word.

5. Slotsom

In hierdie ondersoek is gepoog om Jakkals-en-Wolfverhale te vergelyk deur die komponente


waaruit die verhale bestaan deur middel van spesiale metodes te skei en die verhale op grond
van hierdie komponente te vergelyk. Die ontleding by wyse van Greimas se aktansiële model

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
198

het dit moontlik gemaak om die betekenis van hierdie komponente sowel as die betekenis van
die verhaal in geheel duideliker na vore te bring. Vaste elemente van Jakkals-en-Wolfverhale
is geïdentifiseer en omskryf. Aktante is geïdentifiseer in ’n poging om die onderliggende
struktuur te vind wat voortbestaan ongeag hoeveel keer die storie vertel word. Dit het uit die
ontleding na vore gekom dat die held in hierdie verhale bepaal word uit wie se oogpunt die
gebeure beskou word. Daar is ook bevind dat die korpus wat ondersoek is in meer as een opsig
as volksverhale beskryf kan word en met die algemene patrone van trieksterverhale ooreenstem.
Die struktuur van Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale is in sekere spesifieke opsigte uniek
– ’n algemene verlede, unieke karakters, ’n meer beperkte ruimte, ’n verteller-fokalisator,
vertellers wat ingestel is op die kindergehoor en gebeure waarvan die episodes op mekaar volg
en soms episodes wat ingebed is. Dit het ook duidelik geword dat hierdie strukture dinamies
gebly het. Verskille tussen die Europese Reinaard die Vos en die Suid-Afrikaanse Jakkals-en-
Wolfverhale is gevind in die inhoudelike patrone omdat aanpassings van die verhale uit
Europese oorsprong noodwendig moes plaasvind ter wille van die Suid-Afrikaanse gehoor,
die gehoor se kultuur asook die natuurlike en sosiale omgewing.
Hierdie uiteensetting van die patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van
Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale mag die wetenskaplike gehoor met meer insig en
kennis laat wanneer daar na veral trieksterverhale uit die wyer Afrikakonteks geluister word.

Bibliografie

Abrahams, RD. 1983. African folktales: Traditional stories of the black world. New York, NY: Pantheon
Books.
Aucamp, H. 2009. In Von Wielligh (red.). Versamelde boesmanstories, Deel 1 en 2. Pretoria: Protea
Boekhuis.
Barthes, R & Duisit, L. 1975. An introduction to the structural analysis of narrative. New Literary History,
6(2):237-272.
Barthes, R. 1977. In Barthes (ed.). Image music text. London: Fontana.
Bleek, WHI. 1864. Reynard the fox in South Africa, or, Hottentot fables and tales. London: Trübner.
Booker, C. 2010. The seven basic plots: Why we tell stories. London: MPG Books.
Bremond, C. 1977. In Bronswaer, Fokkema & Ibsch (reds.). Tekstboek algemene literatuurwetenschap.
2de uitgawe. Baarn: Amboboeken.
Brink, AP. 1987. Vertelkunde: ’n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.
Bryla, M. 2018. Tracking the transnational trickster: Gary Shteyngart and his protagonists. Nordic Journal
of English Studies, 17(2):1-28.
Culler, J. 1975. Structuralist poetics. London: Routledge & Kegan Paul.
De Gramont, S. 1970. In Hayes & Hayes (eds). Claude Lévi-Strauss, the anthropologist as hero.
Cambridge, MA: MIT Press.
Dictionary of English folklore. 2003. “Folktale”. http://www.oxfordreference.com [19 June 2012].
Du Plessis, HGW. 1987. Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesiale verwysing na die Afrikaans van
die Van der Merwes, Deel 1. [Ongepubliseerde RGN-verslag].
Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworths.
Dundes, A. 1971. In Maranda & Maranda (eds). Structural analysis of oral tradition. Philadelphia, PA:
University of Pennsylvania Press.
Dutton, D. 2009. The art instinct: Beauty, pleasure, & humane volution. New York, NY: Bloomsbury
Press.
Fink, A. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale. [Klankopname]. 7 Junie, Murraysburg.
Fink, W. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale. [Klankopname]. 7 Junie, Murraysburg.
Finnegan, R. 2016. Oral literature in Africa. Vol. 1. Cambridge: Open Book.
Fokkema, DW & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of literature in the twentieth century. London: Hurst
& Company.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10
199

Galin, A. 1981. Semantics and structure: An analysis of two trickster tales. Semantics and Structure,
1(3):241-268.
Greimas, AJ. 1966. Structural semantics: An attempt at a method. Lincoln, NE: University of Nebraska
Press.
Grobbelaar, PW & Verster, S. 2007. Die mooiste Afrikaanse sprokies. Kaapstad: Human & Rousseau.
Grobbelaar, PW & Verster, S. 2011. Jakkals en Wolf. Kaapstad: Human & Rousseau.
Groenewald, HC. (ed.). 1990. Oral studies in Southern Africa. Pretoria: Human Sciences Research
Council.
Haslam, SA, Steffens, NK, Reicher, SD & Bentley, SV. 2021. Identity leadership in a crisis: A 5R
framework for learning for responses to Covid-19. Social Issues and Police Review, 15(1):35-83.
Ikomi, EO. 2018. In Awhefeada & Omoko (eds). Scholarship and commitment. Lagos: Malthouse Press.
Janse van Rensburg, FI. 1983. Van Vlaamse vos tot Afrikaanse jakkals: Verafrikaansing van die Reinaert.
Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.
Kam, SA. 2007. A new approach to the classification of African oral texts. Tydskrif vir Letterkunde,
44(1):136-154.
Kannemeyer, JC. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Kaapstad: Academica.
Lévi-Strauss, C. 1972. Structuralism and ecology. Spring: Barnard Allumnae.
Lotz, JD. 1959. Die dierverhaal in Zoeloe. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Verhandeling – MA).
Maurone, J. 2002. The trickster icon and objectivism. The Journal and Literature, 3(2):229-258.
McDermott, G. 2005. Jabuti the tortoise: A trickster tale from the Amazon. Orlando, FL: Voyager Books.
Mwinlaaru, IN. & Nkansah, SK. 2018. The trickster as a semiotic figure for construing postcolonial
experience: Kwakye’s “The clothes of nakedness”. Journal of the African Literature Association,
12(3):250-268.
Neethling, JS. 1977. Kinderletterkunde: Sy aard en onderrig. Kaapstad: Maskew Miller.
Niehaus, D. 2011. Oom Dana Niehaus vertel jakkals & wolfstories. Vol 1. Pretoria: Leo Musiek [CD].
Oosthuizen, JS. 1987. In Snyman & Du Plessis (reds.). Wetenskapbeelde in die geesteswetenskappe.
Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
Paulme, D. 1977. In Lindfors (ed.). Forms of folklore in Africa. Austin, TX: University of Texas Press.
Pretorius, F. 2020. Jakkals en Wolf bly geliefde karakters. Beeld, 5 Februarie. https://www.netwerk24.
com/ZA/Beeld/Metro-Gauteng/jakkals-en-wolf-bly-geliefde-karakters-20200204 [14 April 2021].
Propp, V. 1979. Morphology of the folktale. Austin, TX: University of Texas Press.
Rousseau, L. 2011. Die kaskenades van jakkals en wolf. Pretoria: LAPA Uitgewers.
Schmidt, S. 1985. Ancient European fairytales in Southern Africa. Lantern, 34(1):60-65.
Steenberg, E. 2013. In Cloete (red.). Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr. http://www.
litterm.co.za./index.php/v/269-volksverhaal [12 April 2021].
Thompson, S. 1955. Motif-index of folk literature: A classification of narrative elements in folktales,
ballads, myths, fables, mediaeval romances, exempla, fabliaux, jestbooks and local legends.
Indianapolis, IN: Indiana University Press.
Todorov, T. 1977. The poetics of prose. Oxford: Basil Blackwell.
Van Niekerk, J. 2018. Afrikaans stories of Jackal and Hyena: Oral and written traditions. Tydskrif vir
Letterkunde, 55(3). https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i3.5511 [14 Mei 2021].
Von Wielligh, GR. 1922. Dierestories soos deur Hotnots vertel, Deel 1, 2 en 3. Pretoria: Van Schaik.
Williams, A. 2000. Tricksters and pranksters. Amsterdam: Rodopi.
Willis, R. 1993. World mythology. New York, NY: Henry Holt & Company.

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 62 No. 1: Maart 2022


doi.10.17159/2224-7912/2022/v62n1a10

You might also like