Gereformeerde kerk Durban-Noord

Die Gereformeerde kerk Durban-Noord is ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in die grootste stad in KwaZulu-Natal, Durban, maar die gemeentegrense sluit ook die gebied van Umhlanga af noordwaarts tot by Stanger in.

Gereformeerde Kerk
Durban-Noord
Vorige naam  Noord-Durban
Sluit in  Ballito
Blythdale
Durban-Noord
Durban-Sentraal
Strandfront
La Lucia
Mandini
Morningside
Musgrave
Overport
Red Hill
Salt Rock
Sunningdale
Stanger
Umdloti
Umhlali
Umgeni Park
Umhlanga Rocks
Zinkwasi
Denominasie  Gereformeerde Kerk
Klassis  KwaZulu-Natal
Huidige predikant(e)  G.J.J. (Giepie) van der Merwe
Belydende lidmate  105
Dooplidmate  16
Adres Waterkantstraat 121
Durban-Noord
Geskiedenis
Stigtingsdatum  23 November 1952
Eerste predikant  Dr. E.J.G. Norval (1953–'58)
Datum ingelyf  2013
Ingelyf by  Ladysmith
Dr. E.J.G. Norval,van 19553 tot 1958 die eerste predikant.
Ds. P.B. de Klerk, leraar van 1966 tot 1977.
Ds. J.J. De Wet Kruger, leraar van 1983 tot sy aftrede in 1998.

Ds. J. Venter het op 23 November 1952 ’n erediens in ’n kerkgebou by Montpellierweg (nou Sandile Thusiweg) 112, Berea, gehou. By hierdie geleentheid is die nuwe Gereformeerde kerk Noord-Durban afgestig van die Gereformeerde kerk Durban, die tweede en voorlaaste afstigting in dié oorwegende Engelse hawestad. Later (omstreeks 1983) het die naam Durban-Noord geword. In 1968 het ook nog Durban-Wes aan die beurt gekom, maar nadat Pinetown se afstigting in 1986 dié gemeente blykbaar sodanig verswak het dat dit nie selfstandig kon voortbestaan nie, het dit in 1990 ontbind en met leraar en al oorgegaan na Durban.

’n Tweede kerk in Durban het nodig geword omdat die enkele leraar van Durban, ds. P.J. de Klerk, die hele Natalse kusgebied met amper 600 belydende lidmate moes bedien. Onder ds. E.J.G. Norval se leiding is besluit om ’n kerkgebou op te rig. Geld was skaars; daarom het die GKSA se Administratiewe Buro ’n lening van £9 000 toegestaan. Selfs in dié kerkverband se eeufeesjaar (1959) het Noord-Durban nog net 202 belydende lidmate gehad, vergeleke met die moederkerk se 472, oftewel meer as ’n derde van al die Doppers in Natal. Ds. Norval het die hoeksteen van die Totiussaal in Floridaweg, dieselfde straat waarin die NG gemeente Berea se kerkgebou geleë was, gelê.

Intussen het die gemeente sendingwerk in KwaMashu gedoen en twee erwe bekom. Op 29 Augustus 1959 is twee kerkgeboue toe in gebruik geneem. Die Gereformeerde kerk KwaMashu, in 2015 die grootste Gereformeerde gemeente in KwaZulu-Natal, het dié twee kerke minstens nog in 2010 gebruik.

Teen 1984 het dit soveel beter gegaan met Durban-Noord, wat dikwels net danksy sustentasie kon oorleef, dat die kerkraad dit oorweeg het om ’n nuwe kerkgebou op te rig. In daardie jaar is die Totiussaal teen vervangingswaarde verkoop en ’n erf by Waterkantweg 121, Durban-Noord, aangekoop. Op 1 Oktober 1985 het die bouwerk begin met ’n lidmaat, Julian Thom, as bouheer wat toesig gehou het en die gemeente as eienaarbouer. Die boukoste en die koste van die grond het sowat R330 000 beloop. Die inkomste deur die verkoop van die saal en ook ná talle bydraes, was R290 000. Dora van der Walt het die kerkdeur plegtig oopgesluit op 2 November 1986.

Durban-Noord het einde 1998 185 belydende lidmate gehad en die moedergemeente 240. Einde 2014 het Durban-Noord 138 belydende lidmate gehad en die moedergemeente 74. In min of meer dieselfde tyd het die 14 NG gemeentes in Durban en omstreke se belydende lidmate van sowat 10 000 tot sowat 6 600 afgeneem.

Met die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.

Predikante

wysig
  1. Norval, dr. Ernst Jacobus Gustavus, 1953–1958
  2. Van der Walt, Pieter Gert Lodewyk, 1959–1965
  3. De Klerk, Pieter Bouman, 1966–1974 (in kombinasie met Empangeni), 1974-1977 (net Noord-Durban)
  4. Welding, Jozua Francois, 1977–1983
  5. Kruger, Johannes Jacob De Wet, 1983–1998
  6. Coetsee, Human Beukes, 1998–2008
  7. Saaiman, dr. De Wet, 2008–2011
  8. Van der Merwe, Gideon Johannes Jakobus, 2012 – hede

Bronne

wysig

Eksterne skakels

wysig