Salt Lake City (Afrikaans: Soutmeerstad, in Engels dikwels kortweg SLC genoem) is die hoofstad en grootste nedersetting in die Amerikaanse deelstaat Utah, geleë in die sentrale noordelike gedeelte van die deelstaat en 15 myl (24 km) oos van die naamgewende Groot Soutmeer (Great Salt Lake). Die stad se oorspronklike naam, Great Salt Lake City, was 'n verwysing na dié uitgestrekte soutmeer en is in 1868 verkort tot Salt Lake City. Sy bevolking is op 1 Julie 2019 beraam op 200 567. In die sensus van 2010 is dit bepaal as 186 440.

Salt Lake City

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Utah
 Administratiewe distrik (county) Salt Lake
 Koördinate 40°45′N 111°53′W / 40.750°N 111.883°W / 40.750; -111.883
 Oppervlak:  
 - Totaal 286,99 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 288 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Julie 2019) 199 723
 - Bevolkingsdigtheid 701,84/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 257 936
 Tydsone UTC -7 (MST)
 - Somertyd UTC -6 (MDT)
 Klimaat  
 - Tipe Halfdroë klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 12 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie -5,4 / 17,7 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 408,9 mm
 Burgemeester Erin Mendenhall (D)
 Amptelike webwerf slc.gov
Deseret Village laat die bou- en leefstyle van vroeë setlaars herleef in die This Is the Place Heritage Park
Die Tabernacle Choir en orrel in die LDS Conference Center. Die LDS-Kerk se algemene vergaderings word twee keer per jaar hier gehou. Die orrel is gebou deur Schoenstein & Co. in San Francisco

Salt Lake City het besondere status as administratiewe hoofstad van 'n deelstaat, as setel van 'n groot universiteit, die Universiteit van Utah, en as wêreldhoofkwartier van 'n welvarende kerkgemeenskap. Terwyl sy lughawe sowel in die VSA asook op internasionale vlak as een van die mees stiptelikes beskou word.[1] Met 'n metropolitaanse bevolking van meer as een miljoen is dit die grootste stedelike sentrum in die Groot Bekken (Great Basin). Sy belangrikste residensiële buurstad en tweede grootste stedelike nedersetting in Utah, West Valley City, is eers so onlangs soos 1 Julie 1980 geïnkorporeer. Oorspronklik net 'n reeks boerderye suidwes van Salt Lake City, geleë in 'n gebied wat deur Heiliges net over Jordan (anderkant die Jordanrivier) genoem is, het dit in die 20ste en 21ste eeu vinnig gegroei. In 2010 was dit die etnies mees diverse stad in Utah waar die persentasie minderhede sowat 45 persent beloop het.[2]

Omrede sy droë klimaat met baie warm somers en koue winters en sy geïsoleerde ligging ver van groot nedersettings en kusgebiede het die Soutmeervallei betreklik lank feitlik onbewoon gebly. Op 24 Julie 1847 het die Profeet en pionier Brigham Young met 148 volgelinge, almal lidmate van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (LDS-Kerk, in die omgangstaal dikwels Mormoonse Kerk genoem), die wye oop vallei bereik en besluit This is the place – Hierdie is die plek. Kerklidmate, wat elders in die Verenigde State aan godsdienstige vervolging blootgestel was, het hier 'n veilige toevlugsoord gevind – die bestemming van hul groot trek vol ontberings – oor 'n afstand van 1 300 myl vanuit Illinois na die Amerikaanse Weste. Binne twee dekades het sowat 70 000 gelowiges uit die ooste hulle hier gevestig. Danksy die Kerk se toegewyde internasionale sendingwerk, wat reeds teen die middel van die 19de eeu begin is, is die setlaars se geledere aangevul deur bekeerlinge uit die buiteland, onder wie ook enkele nuwe lidmate uit Suid-Afrika. Die onherbergsame plek in 'n droë vallei is deur middel van besproeiing in 'n vrugbare landboustreek omgeskep wat as basis vir latere bevolkingsgroei gedien het.

In hul Soutmeerstad het Kerklidmate een van die Verenigde State se suksesvolste utopiese gemeenskappe gevestig – 'n selfversorgende samelewing met 'n teokratiese regering wat op landbou gesteun en aanvanklik, net soos die patriarge van die Ou Testament, poligamie (veelwewery) goedgekeur het. Selfs die straatuitleg is volgens die bepalings van die Boek van Mormon en Profeet en Kerkstigter Joseph Smith, Jr. se visie vir die City of Zion, New Jerusalem beplan – met 'n wydte van 132 voet vir hoofstrate. Die Salt Lake City-tempel vorm die middelpunt vir 'n koördinateplan waarvolgens strate genommer is. Die setlaargemeenskap kon nogtans net vir 'n beperkte tydperk, tussen 1847 en omstreeks 1890, in sy oorspronklike vorm bestaan voordat dit sy leefstyl aan die Amerikaanse hoofstroomkultuur moes aanpas. Terwyl Salt Lake City in die dekades tot 1930 van die grootste veranderinge van enige groot Amerikaanse nedersetting ondergaan het, is baie van die vroeë tradisies laat vaar. Binne Salt Lake City se stadsgrense het die persentasie Kerklidmate tot sowat 30 persent gedaal.

Gaandeweg het Salt Lake City dieselfde pad geloop soos ander stede in die VSA. 'n Kapitalistiese ekonomie het die ou landboustelsel vervang wat deur die Kerk ontwerp is, terwyl moderne vervoer- en ander infrastruktuurgeriewe, nywerhede ontwikkel is, net soos meer wêreldlike vorme van vermaak en kulturele diversiteit, en 'n moderne samelewing wat gelyke regte vir vroue gewaarborg het. Salt Lake City huisves vandag steeds die internasionale hoofkwartier van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae in 'n kantoorgebou op Tempelplein wat tussen 1962 en 1972 opgerig en – nadat dit gedeeltelik reeds in gebruik was – in 1975 amptelik ingewy is. Hierdie besige administratiewe spilpunt van 'n wêreldkerk met 28 bogrondse en drie ondergrondse verdiepings hanteer so veel pos dat 'n eie poskode daaraan toegewys is.

Ongeag die kerk se behoudende karakter is Salt Lake City 'n kulturele spilpunt wat een van die grootste volwasse LGBT-bevolkings in die Verenigde State huisves en – ofskoon die deelstaatparlement deur Republikeinse kerklidmate oorheers word – in die verlede met Jackie Biskupski 'n lesbiese vrou en lid van die Demokratiese Party as burgemeesteres verkies het.[3] Die voortdurende dialoog tussen moderne Kerklidmate en wêreldlike of andersgelowige inwoners, wat intussen die meerderheid van Salt Lake City se bevolking vorm, dra by tot die stad se aangename en ontspanne atmosfeer en leefstyl. So mag besoekers deel in Kerklidmate se geesdrif vir musiek (die stad is die setel van die befaamde Tabernacle Choir at Temple Square en orkes) en gedurende die somermaande toegang tot vrye opelugkonserte geniet.

Lente en herfs is die mees aangename seisoene vir besoekers. Alhoewel die intensiteit van die sonlig gedurende die warm somers nie onderskat moet word nie, word Salt Lake City se droë berglug in vergelyking met byvoorbeeld Louisiana se hoë humiditeit of die soms bedompige somerweer in dele van Nieu-Engeland as aangenaam ervaar.

Boukuns

wysig
 
Die Olimpiese Winterspele van 2002 het aan Salt Lake City die geleentheid gegee om as perfekte gasheerstad op te tree
 
Salt Lake Temple teen sononder. Die tempel se voltooiing in 1893 (ná 'n boutyd van veertig jaar) het 'n nuwe periode in die verhouding tussen Utah se LDS-gemeenskap en die res van die nasie ingelui. Die dagblad Chicago Tribune het na die sakrale gebou verwys as die "Nuwe Wêreld se Sint Pieterskerk".[4] Die tempel is tans gesluit vir renovasie, maar ander geboue op Tempelplein staan steeds oop vir besoekers

Salt Lake City se argitektoniese erfenis met historiese geboue uit alle stylperiodes sedert die middel van die 19de eeu is een van die mees indrukwekkende in die Amerikaanse Weste en weerspieël die geesdrif van LDS-setlaars en die groot waarde wat stadsbewoners aan boukuns en ontwerp heg. Kerklidmate se belangstelling in argitektuur het sy oorsprong in twee nedersettings waar eerste indrukwekkende geboue ontstaan het voordat hulle in 1847 hul groot weswaartse trek na Utah begin het – Kirtland in Ohio en Nauvoo in Illinois. Die Kerk het bekwame boumeesters en argitekte, ambagsmanne, werktuie, argitektoniese vakliteratuur en gidse, stadsplanne en al hul kennis en ervarings, wat hulle in die ooste opgedoen het, na die Soutmeervallei saamgebring om in hul geloofde land Salt Lake City as die nuwe Stad Sion op te rig.[5]

Die profeet Joseph Smith, Brigham Young en ander sleutelfigure in die Kerk se vroeë jare was goed ingelig oor argitektuur en het daarin belang gestel om stylvolle geboue te ontwerp en op te rig wat hul godsdienstige en kulturele oortuigings weerspieël het. Op 25 Junie 1833 het Joseph Smith sy ontwerp vir die City of Zion aan sy geloofsbroeders in Missouri gestuur – 'n stad met 'n beplande bevolking van tussen 15 000 en 20 000 en 24 tempels in sy sentrum. Die historiese stadsplan, wat nooit verwesenlik is nie, word in die biblioteeksargief van die Kerk se Historiese Afdeling in Salt Lake City bewaar.[6]

Houtraamgeboue was vir Young as latere Kerkleier heeltemal buite die kwessie. So is van begin af die voorkeur aan permanente steengeboue gegee. Aanvanklik was luggedroogde adobe-bakstene op 'n steenfondament die belangrikste boumateriaal vir openbare en kerkgeboue weens die gebrek aan steenkool en hout wat as brandstof vir die vervaardiging van gebrande bakstene benodig is. Binne 'n dekade na die stadstigting was daar reeds 'n gemeenskapsaal, vergaderingsale vir Kerklidmate, skoolgeboue, winkels, meule en privaat wonings – alhoewel geboue gewoonlik tot een of twee verdiepings beperk moes bly. Die Griekse Herlewingstyl (Greek Revival) was die oorheersende styl in die vroeë fase, met enkele geboue wat in die vroeë Neogotiese Styl (Early Gothic Revival) ontwerp is. Vanaf 1863 is tot bakstene as boumateriaal oorgegaan.

Met die voltooiing van die eerste spoorweg na Salt Lake City was daar geen beperkings op beskikbare boumateriale meer nie, terwyl die stad ook meer toeganklik geword het vir bekwame argitekte en nuwe tegnologieë uit die oostelike deelstate en Europa en nuwe aankomelinge wat nie aan die Kerk verbonde was nie (sogenaamde gentiles). Die beskikbaarheid van bakstene en yster het geboue met twee tot vier verdiepings moontlik gemaak, terwyl ook nuwe boustyle ingang gevind het tot die Soutmeerstad – die Franse Tweede Empire- en die Victoriaanse Italianate-styl gedurende die 1870's en 1880's en die hele spektrum van gesofistikeerde Victoriaanse style wat in die 1880's en 1890's in die Verenigde State gewild geraak het soos Queen Anne, Victorian Romanesque, Victorian Eclectic, Shingle en Eastlake. Die neoklassieke teenbeweging in dieselfde periode het met ontwerpe volgens style soos Neoclassic Revival, Beaux-Arts, Chateauesque, en Georgian Revival bygedra tot die stadsbeeld.

Vervoer

wysig

Padvervoer

wysig

Die stad se bynaam is Crossroads of the West – histories was Salt Lake City die kruispunt van groot setlaarsroetes vir ossewaens, later dié van spoorweë en vandag dié van twee grootpaaie, Interstates 15 en 80 (kortweg I-15 en I-80 genoem). I-15, wat in noord-suidelike rigting loop, het sy beginpunt in San Diego in die suide van Kalifornië en verbind Los Angeles en Las Vegas met Provo en Salt Lake City. I-80 loop in wes-oostelike rigting. Dit begin in San Francisco, loop deur Nevada en die Bonneville-soutvlaktes, Salt Lake City, Park City en Wyoming om uiteindelik in Chicago by die I-90 aan te sluit wat tot Boston loop. Die nommers van snelwegafdraaie in Utah is in 2005 gewysig – ouer padkaarte gee nie meer die korrekte nommers nie.

Onderwys

wysig

Universiteit van Utah

wysig
 
Salt Lake City se openbare biblioteek, ontwerp deur Moshe Safdie Associates (die argitekte-ateljee wat bekendheid verwerf het met Habitat 67 in Montreal), word as een van die beste biblioteke in die VSA beskou. Die setlaars van 1847 het die boeke van hul biblioteek uit Nauvoo na Utah saamgebring
 
Die TRAX-spoorstelsel se Red Line verbind die universiteitskampus met die middestad. Die foto wys Fort Douglas-stasie, met die Wasatch-bergreeks teen die agtergrond
 
Park Building huisves die universiteit se administrasie

Oorspronklik gestig as die Universiteit van Deseret op 28 Februarie 1850, is die Universiteit van Utah die oudste kampus van enige staatsuniversiteit wes van die Missouri-rivier. Die naam Deseret word in die Boek van Mormon gebruik om na 'n heuningby te verwys, die simbool van vlyt vir die 19de eeuse pioniers. Staat Deseret (State of Deseret) was ook die naam van die territorium en politieke entiteit wat – as voorloper van Utah – aansoek gedoen het om toelating tot die Unie. Eers ná enkele dekades het dit op 4 Januarie 1896 as Utah amptelik die status van 'n Amerikaanse deelstaat gekry.

Die eerste klasse is nog in die middestad aangebied, op die hoek van 300 West en 250 North waar die huidige West High School geleë is. Saam met die territorium het ook die universiteit sy naam in 1892 gewysig tot Universiteit van Utah (dikwels kortweg The U genoem). In 1900 is die instelling verskuif na sy huidige kampus wat oorspronklik deel uitgemaak het van Fort Douglas, 'n militêre kamp uit die tyd van die Amerikaanse Burgeroorlog. Enkele universiteitsgeboue langs Presidents Circle dateer uit daardie tydperk. In 1940 het die kampus 143 akkers beslaan en was sowat 4 000 studente by die universiteit ingeskryf.

Die huidige kampus met sowat 300 geboue is meer as tien keer so groot, terwyl die getal inskrywings van voor- en nagraadse studente die 30 000-kerf verbygesteek het, met 'n voltydse personeel van 14 000. Die Universiteit van Utah is die grootste tersiêre onderwysinstelling in die deelstaat en een van die voorste navorsingsuniversiteite in die VSA wat belangrike wetenskaplike prestasies in geneeskunde behaal het met die ontwikkeling van kunsmatige harte, maar ook in rekenaarwetenskap (grafiek en internet), en genetiese wetenskappe. Die Huntsman-kankerinstituut is 'n erkende wêreldleier op die gebied van kankernavorsing.

Die kampus was een van die fokuspunte van die Olimpiese Winterspele en Paralimpiese Winterspele van 2002, waarby die universiteit se Rice-Eccles-stadion as Olimpiese stadion gedien het en universiteitskoshuise deel uitgemaak het van die Olimpiese dorp. Belangrike besienswaardighede is die besoekersentrum vlakby die stadion en die universiteit se Pioneer Memorial Theatre waar die bekende toneelgeselskap Pioneer Theatre Company opvoerings aanbied. Die kampus is teen 'n helling in die voetheuwels oos van die middestad geleë waar besoekers uitsigte oor die Salt Lake Valley en die Wasatch- en Oquirrh-bergreekse kan geniet.[7]

Verwysings

wysig
  1. (en) Business Wire, 3 Januarie 2020: Cirium: Delta Air Lines is revealed as the most on-time airline in North America for 2019. Besoek op 7 Augustus 2020
  2. (en) Mayor Mike Winder and the West Valley City Historical Society: Images of America – West Valley City. Charleston, SC: Arcadia Publishing 2012, bl. 8
  3. (en) CNN.com – Pride + Progress, 30 Mei 2019: The state that is a strange and deeply imperfect LGBTQ pioneer. Besoek op 16 Julie 2020
  4. (en) Gary Topping, Melissa Coy Ferguson, and the Utah State Historical Society: Images of America – Salt Lake City 1890–1930. Charleston SC • Chicago IL • Portsmouth NH • San Francisco CA: Arcadia Publishing 2009, bl. 120
  5. (en) Allen Dale Roberts: Images of America – Salt Lake City's Historic Architecture. Charleston, SC: Arcadia Publishing 2012, bl. 7
  6. (en) W. Ray Luce: Building the Kingdom: Mormon Architecture before 1847. In: BYU Studies, Journal 30:2, bl. 37
  7. (en) Lynn Arave and Ray Boren: Walking Salt Lake City. Birmingham, AL: Wilderness Press 2012, bl. 129-130

Eksterne skakels

wysig
Stadsbestuur

Toerisme

Buurte | Neighborhoods

Media

Hoëtegnologiebedryf

Argitektuur en stadsbeplanning

Geskiedenis


  Hoofstede van die Verenigde State  
HoofstedeAlbanyAnnapolisAtlantaAugustaAustinBaton RougeBismarckBoiseBostonCarson CityCharlestonCheyenneColumbiaColumbusConcordDenverDes MoinesDoverFrankfortHarrisburgHartfordHelenaHonoluluIndianapolisJacksonJefferson CityJuneauLansingLincolnLittle RockMadisonMontgomeryMontpelierNashvilleOklahoma CityOlympiaPhoenixPierreProvidenceRaleighRichmondSacramentoSaint PaulSalemSalt Lake CitySanta FeSpringfieldTallahasseeTopekaTrenton