Gaan na inhoud

Beeld

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Schalk Pienaar was net drie maande lank die eerste redakteur van Beeld toe hy in Januarie 1975 om gesondheidsredes moes uittree.

Beeld is 'n Afrikaanse koerant wat sedert 16 September 1974 in Johannesburg en Pretoria uitgegee word. Media24 het op 18 Junie 2024 aangekondig die laaste gedrukte en e-uitgawe van die koerant sal op 30 September 2024 verskyn.

Stigting

[wysig | wysig bron]

Die koerant is gestig as Nasionale Pers se teenvoeter vir Perskor se destydse vier Transvaalse dagblaaie, maar veral Die Transvaler. Nasionale Pers, wat in Kaapstad gesetel is en die suidelike, meer verligte groepering in die destydse Nasionale Party verteenwoordig het, was destyds in 'n stryd gewikkel met Perskor, wat die noordelike, meer behoudende groepering verteenwoordig het. Perskor het ten tyde van die stigting van Beeld twee Pretoriase dagblaaie, Hoofstad (wat smiddae verskyn het) en Oggendblad (wat soggens verskyn het), en twee Johannesburgse dagblaaie, die middagblad Vaderland en die oggendblad Die Transvaler uitgegee. Beeld het uiteindelik die stryd gewen met die verdwyning van al vier die destydse Perskor-dagblaaie. Sedertdien het geen ander Afrikaanse dagblad nog sy verskyning in die destydse Transvaal gemaak nie.

'n Vorige redakteur onthou

[wysig | wysig bron]

Ton Vosloo, redakteur van Beeld van 1977 tot 1983, bestuderende direkteur van Naspers van 1984 en nie-uitvoerende voorsitter van 1997 af, skryf oor die ontstaan van Beeld: "Hef aan het voorgelê met Beeld 2 (hy verwys na die Sondagkoerant Die Beeld as Beeld 1), wat op 16 September 1974 deur ’n optimistiese Naspers as ’n dagblad van stapel gestuur is. Daar is hoë projeksies van inkomste en verkope gemaak. Maar om op dag een te verskyn, moes ’n bende Naspersers die produk in die haglikste omstandighede in Doornfontein moontlik maak. Om geld te bespaar, is ’n ou meubelpakhuis in ’n propperse koerant-omgewing omskep. In die weke voor lansering het joernaliste in snerpende koue in die halfdonker, onvoltooide gebou met lampies, flitse en soms kerse gesukkel om te werk. Die trappe was halfklaar en die hyser het nie gewerk nie. Alles was raap en skraap om gereed te wees vir ’n vroeë geboorte. Die opposisie het hul tande daar buite geslyp. Reeds in die mark was, aan die Engelse kant, The Star, The Rand Daily Mail en The World.

"Dit was ’n grootse gesukkel om die eerste uitgawe van Beeld persklaar te kry, maar die koerant het die rolpers gehaal. Hier word die eerste uitgawe gebore. Aan die Afrikaanse kant was Die Transvaler en Die Vaderland. Marius Jooste van Perskor het in Pretoria die nuwe opposisie, Oggendblad en Hoofstad, begin om Beeld die hoof te bied. ’n Bloedige geveg het gewag. Die spanning het so hoog geloop dat van ons manmoedige (oormoedige?) joernaliste wat dit gewaag het om in Vegkop, Perskor se naaste kroeg, ’n dop te gaan maak, in vuisgevegte oor lojaliteite betrokke geraak het.

"Ons was baie trots op Pirries (wyle Johan Parreira, ’n oudpolisieman en toe misdaadverslaggewer) wat sy vuiste goed kon gebruik. In die hoofredaksie was daar optimisme. Ons sou 140 000 koerante per dag verkoop en die Afrikaanse mark huidjie en muidjie verower, sommer net so. Ons het weddenskappe gemaak oor waar ons ná die eerste dag se verkope (wat vanweë baie reklame en verwagtinge hoog sou wees) sou stabiliseer. Ek het gesê dit sou by 28 000 trek en het baie suur kyke gekry. Maar ek het die Rand beter geken as die Kapenaars wat aan die koerant gewerk het, want ek was toe al 11 jaar lank daar bedrywig. My credo was: Die koerant moet sesuur die oggend op ’n intekenaar se stoep wees. Maar ons sou eers ’n intekenarebasis moes bou. Dag een se verkoopsyfer was ’n nogal goeie 104 000, as ek reg onthou.

"En toe begin dit val: 40 000, 25 000, tot by 13 000, dink ek. Verkope het toe by so 19 000 gestabiliseer. Dit was ’n ramp. Deur middel van industriële sabotasie het die inligting by ons mededingers uitgekom – en het hulle nie gekraai nie. Beeld het egter stadig maar seker begin terugveg. Die syfers het stadig geklim tot by sowat 37 000. Die Transvaler se verkoopsyfer was sowat 38 000 toe Beeld begin is, maar dié syfer het wonderbaarlik tot byna 50 000 gelig.

"Dit was ’n skok toe Schalk Pienaar ná drie maande in 1975 vanweë swak gesondheid as redakteur moes uittree. Johannes Grosskopf het die leisels geneem, en ek het in 1977 as redakteur oorgeneem. Grosskopf het aande op sy knieë met rekenaaruitdrukke van verkooppatrone deurgebring en die sirkulasie-afdeling verwens oor sy onvermoë om punte waar die koerant uitverkoop was, betyds aan te vul. Hy kon wel in later jare ’n behae daarin skep dat Beeld vir Die Transvaler met werklike verkope ver verbygesteek het, maar Perskor het die stryd verleng deur bedrog te pleeg toe hy duisende koerante in ’n ou mynskag afgesmyt en dit as sirkulasie getel het.

Beeld het hergroepeer en ons redaksiebeleid was: Slaan die harde nuus hárd. Die koerant het naam gemaak met sy skerp nuusdekking en vreeslose politieke aanslag. Ons het ons vlag aan die verligte maspaal gespyker. Ons het, byvoorbeeld, nuus gemaak toe ’n dapper vroulike verslaggewer haar tydens 1976 se onluste swart gesmeer en met ’n Volkswagen na Soweto gery het om die nuus te gaan haal. Sy het haar lewe gewaag en ek moes haar wys op haar ondeurdagte optrede, maar haar nietemin op die skouer klop vir die inisiatief wat sy geneem het.

"Ons het ook ’n wenresep gevind in ’n nuwe speletjie genaamd Minipot, wat derduisende nuwe lesers gelok het. Dit het nietemin tien jaar geneem voordat Beeld winsgewend geword het. Al vier Perskor se dagblaaie het uiteindelik gevou en die sogenaamde persstryd het tot ’n einde gekom. Beeld is steeds die enigste dagblad anderkant die Vaalrivier. Die koerant is vandag ’n ster onder dagblaaie en dit voltooi Naspers se gedugte drietal: Beeld, Volksblad en Die Burger."[1]

Beeld word versprei in vier van Suid-Afrika se provinsies waar dit ook die enigste Afrikaanse dagblad is: Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, en Noordwes. Dit was lank die grootste Afrikaanse dagblad in die land met 'n sirkulasie van meer as 100 000, maar het in 2012 teruggesak tot 73 455[2] en in die tweede kwartaal van 2014 tot 59 544. In die laaste kwartaal van 2014 was dit 52 276 en in die tweede kwartaal van 2015 50 536. Beeld verskyn van Maandag tot Vrydag in breëbladformaat en Saterdag in ponieformaat. Van dié Saterdag-uitgawe het in die vierde kwartaal van 2014 gemiddeld 46 043 eksemplare verkoop. Die weekdagsirkulasie het in Junie 2017 tot 39 961 gedaal. In die tweede kwartaal van 2019 was dit 31 123 en in die eerste kwartaal van 2020 28 291. 'n Jaar later, in die eerste kwartaal van 2022, was dit 21 596 en in die tweede kwartaal 21 015.

'n Ander bekende Afrikaanse dagblad, Die Burger is 'n susterkoerant van Beeld. Beeld verskyn van Maandag tot Saterdag (Naweek-Beeld, waarvan die sirkulasie in die tweede kwartaal van 2019 37 410 was en in die eerste kwartaal van 2020 34 198). In die eerste kwartaal van 2022 was dit 29 120. Sondae wanneer Beeld nie verskyn nie, verskyn Rapport, die gewildste Afrikaanse Sondagkoerant.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Geloof, hoop...en sakke vol geld, Die Burger, 22 Oktober 2010
  2. Time to rethink newspapers' formulae, The Media Online. URL besoek op 17 Julie 2013.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]