Gaan na inhoud

Bien Donné

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Bien Donné se opstal.

Bien Donné is 'n navorsingsplaas vir sagtevrugte by Simondium, Groot-Drakenstein digby die Paarl. Die herehuis op die plaas is 'n uitstekende voorbeeld van die Kaaps-Hollandse boustyl.

Ligging

[wysig | wysig bron]

Die plaas lê aan die linkeroewer van die Bergrivier. Oorkant die rivier is die Drakenstein-gevangenis en ten suide van die plaas lê die historiese plase Zandvliet (nou Solms-Delta) en Boschendal. Bien Donné lê op nagenoeg 33° 51' suid en 18º 59' oos.

[wysig | wysig bron]

Die plaas van 235 ha is sedert 1936 staatseiendom. Bladwisselende en sub-tropiese vrugtebome en 'n wingerd vir tafeldruiwe is aangeplant. In die boorde word toetse gedoen oor bemesting, insekbestryding, besproeiing en snoeimetodes. Navorsing word o.a. op die metodes van verkoeling, inmaak en vervoer van die sagtevrugte na markte in die buiteland gedoen. Uitstallings en boeredae word gereeld gehou om nuwe produkte aan produsente en verbruikers bekend te stel.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

In 1699 is die plase Watergat en Zonder Naam aan Pierre Lombard, die sieketrooster van die Hugenote, toegeken. Jan de Villiers van Boschendal word in 1762 die eienaar en sy seun bou die huis. Ses jaar later word Daniël Hermanus Joubert die eienaar. In 1837 word die twee plase verdeel en kry die deel waarop die huis staan die naam Bien Donné, dit beteken 'n “goeie geskenk”. Rhodes Fruit Farms het die plaas in 1929 gekoop.

Die indrukwekkende H-vormige huis is in 1800 deur Dawid de Villiers laat bou. Moslem-vakmanne is waarskynlik verantwoordelik vir die ryklik versierde gewels. Deur die jare heen is daar aan die buite- sowel as die binnekant tydens restourasiewerk veranderinge aan die huis aangebring. Bekende argitekte soos F.K. Kendall, Herbert Baker en Revel Fox was daarby betrokke.

Monument

[wysig | wysig bron]

Bien Donné se huis in die Kaaps-Hollandse styl is een van die mooiste huise in daardie styl wat nog bestaan. Die plaaswerf met die huis, wynkelder en buitegeboue aan die suidekant is tot provinsiale erfenisterrein verklaar. Dit sluit ook die grond binne die ringmuur, die leivoor en die dam aan die suidekant in.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0
  • Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 2. Kaapstad: Nasou, 1970.
  • Walton, James: Homesteads and villages of South Africa. Pretoria: J.L. van Schaik, 1952.
  • www.arc.agric.za
  • www.biendonne.com