Canal Saint-Martin
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die Canal Saint-Martin is 'n kanaal in die ooste van die Franse hoofstad Parys wat die Canal de l'Ourcq met die Seine-rivier verbind. Die besluit om die kanaal te bou is reeds in 1802 deur Napoléon Bonaparte geneem, maar eers in 1825 kon die projek voltooi word. Die kanaal se hoogteverskil van 25 meter word deur nege sluise gehanteer.
Meer as die helfte van sy totale lengte - 2 069 van altesaam 4 600 meter tussen die Rue du Faubourg du Temple en die plein Place de la Bastille - is in die middel van die 19de eeu oordek om breër boulevards en openbare ruimtes aan die oppervlak te skep. Terwyl die kanaal sy oorspronklike funksies as watertoevoer en waterweg vir goederevervoer lankal ingeboet het, is die rustige, boomomsoomde promenades langs sy oewers net soos sy sluise en romantiese brûe tans gewild by Parysenaars en besoekers - net soos bootvaarte. Die mees nabygeleë moltreinstasie van Paris Métro is Stalingrad (lyne 2, 5 en 7).
Kastaiingbome en pleine met eetplekke langs die kanaaloewers, geleë in die Paryse ooste se historiese werkersklasbuurte, skep saam met voetgangerbrûe in die Venesiaanse styl 'n aantreklike atmosfeer wat as inspirasie vir misdaadskrywers soos Georges Simenon en Léo Malet en die filmregisseur Marcel Carné (1909−1996) gedien het. Carné se rolprentdrama Hôtel du Nord van 1938 speel in die gelyknamige hotel langs die kanaal af. In 2001 is tonele vir Le Fabuleux Destin d'Amélie Poulain, Jean-Pierre Jeunet se romantiese komedie waarin Audrey Tatou die hoofrol vertolk het, langs die Canal Saint-Martin verfilm.