Gaan na inhoud

Derde Konsilie van Konstantinopel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Eerste 7 ekumeniese konsilies

1. Nicea I (325)
2. Konstantinopel I (381)
3. Efese (431)
4. Chalcedon (451)
5. Konstantinopel II (553)
6. Konstantinopel III (680681)
7. Nicea II (787)
Aanvaarding deur kerke

1-2: Assiriese Kerk;
1-3: Oriëntaal-Ortodoks;
1-4: Anglikaans, Luthers, Calvinisties, Protestants;
1-7: Rooms-Katoliek, Oosters-Ortodoks

Die Derde Konsilie van Konstantinopel van die Christelike kerk in die Romeinse Ryk was die sesde ekumeniese konsilie en is in 680 byeengeroep deur keiser Konstantyn IV van Bisantium tydens die pousskap van Agato en Leo II. Die leerstelling van monoteletisme is bespreek en uiteindelik deur beide die konsilie en die pous verwerp. Daar is besluit Christus is werklik God en werklik mens, elk met sy eie wil en energie.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
Pous Agato

Monoteletisme was ’n kompromisleerstelling wat deur patriarg Sergius I van Konstantinopel voorgestel is met die ondersteuning van keiser Herakleios nadat die Tweede Konsilie van Konstantinopel nie daarin kon slaag om die Miafisiete terug te lok na die kerk nie. Laasgenoemde groep het geglo dat Christus net een natuur en een wil het, in teenstelling met die kerk se standpunt soos geneem op die Konsilie van Chalcedon dat Hy ’n menslike en goddelike natuur het.

Aangesien niks by Chalcedon oor Christus se wil besluit is nie, was monoteletisme ’n kompromis tussen die Chalcedoniërs, wat kon aanvaar dat Christus een wil het as Hy twee nature het, en die Miafisiete, wat kon aanvaar dat Christus twee nature het as Hy een wil het.

Dié leerstelling is deur verskeie pouse teengestaan en het gelei tot ’n skeuring tussen die kerk in die Oos-Romeinse en Wes-Romeinse Ryk. Met die dood van Herakleios in 641 is hy deur sy kleinseun Konstans II opgevolg. Dié het ’n verbod op die bespreking van God se wil en energie geplaas in ’n poging om verdere onenigheid te voorkom.

Pous Martinus I, ’n groot teenstander van monotelitisme, het in 649 ’n sinode in Rome gehou wat dié leerstelling en Konstans se verbod op die bespreking daarvan verwerp.[1] Hy het pogings gesteun om die bewind oor te neem omdat hy geglo het ’n nuwe en ortodokse keiser sou goddelike beskerming vir die ryk kry teen sy vyande. Dit is egter as hoogverraad beskou en pous Martinus is verhoor, skuldig bevind en verban.[2]

Met Konstans se dood in 668 is hy opgevolg deur sy seun Konstantyn IV. Hy wou vrede met Rome herstel en het dadelik aan die pous geskryf en gevra dat ’n konferensie oor die saak gehou word.

Verrigtinge

[wysig | wysig bron]

Op 7 November 680 het slegs 37 biskoppe byeengekom vir die Derde Konsilie van Konstantinopel. ’n Brief van pous Agato is voorgelees waarin hy die amptelike beleid van die kerk stel: dat Christus ’n goddelike én ’n menslike wil en energie het.

Die meeste van die biskoppe het die brief aanvaar. Daar is terselfdertyd besluit dat Christus se menslike wil "onderworpe is aan sy goddelike en almagtige wil". Dié besluite is na Agato se opvolger, Leo II, gestuur en hy het dit bekragtig.[3]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
  1. Joseph N. Tylenda, Saints and Feasts of the Liturgical Year, (Georgetown University Press, 2003), 60.
  2. A. Edward Siecienski, The Filioque: History of a Doctrinal Controversy, (Oxford University Press, 2010), 74.
  3. Joseph Brusher, S.J., Popes Through the Ages Geargiveer 6 Februarie 2006 op Wayback Machine.