Gaan na inhoud

Egiptiese siel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Antieke Egiptenare het geglo ’n mens se siel bestaan uit verskeie dele, soos die ren, ba, ka, sjeoet, ib en ach. Daarteenoor was daar die menslike liggaam, die ha (soms in die meervoud, haw, gebruik wat dui op die totaal van die liggaamsdele).

F34
jb (F34) "hart"
in hiërogliewe

Die ib (jb), of hart, is beskou as ’n belangrike deel van die Egiptiese siel. Daar is geglo die ib[1] is gevorm deur ’n druppel van die ma se bloed wat by bevrugting geneem is.[2]

Die hart was vir die Antieke Egiptenare die setel van emosie, gedagtes, wil en voorneme. Dit kan gesien word in die baie Egiptiese woorde wat die woord ib insluit, soos awt-ib: geluk (letterlik "breedte van hart"); xak-ib: vervreemd (letterlik "afgesny van hart").

In die Egiptiese godsdiens was die hart die sleutel tot die hiernamaals. Daar is geglo die hart is deur Anoebis en die gode geweeg tydens die "Weeg van die Hart"-seremonie. As die hart swaarder of ligter was as die veer van Maät, het die monster Ammit dit geëet.

Sjeoet

[wysig | wysig bron]

’n Mens se skadu of silhoeët, sjeoet (šwt), is altyd teenwoordig. Daarom het die Egiptenare geglo die skadu bevat iets van die mens wat dit verteenwoordig. Daar is soms na beelde van mense of gode as skadu's verwys.

Die skadu het ook ’n figuur van die dood, of ’n dienskneg van Anoebis, verteenwoordig en is uitgebeeld as ’n klein menslike figuur wat heeltemal swart geverf is. Soms het mense (gewoonlik farao's) ’n skadukissie gehad waarin ’n deel van hul sjeoet geberg is.

As deel van die siel, word die mens se ren (rn, "naam") by geboorte aan hom gegee en die Egiptenare het geglo die siel sal lewe solank as wat die naam geuiter word; dit verduidelik die moeite wat gedoen is om name te beskerm en die praktyk om dit dikwels te skryf. Hoe meer kere die naam gebruik is, hoe groter was die kans dat dit sou oorleef. ’n Cartouche is dikwels om die naam gebruik om dit te beskerm. Daarteenoor is die naam van staatsvyande, soos Achenaten, uit monumente gekap.

Ba in die vorm van ’n voël met ’n menslike kop.
G29
ba (G29)
in hiërogliewe
G53
ba (G53)
in hiërogliewe

Die ba was alles wat ’n individu uniek maak, soortgelyk aan die idee "persoonlikheid". (Nie-lewende dinge kon ook ’n ba gehad het – ’n unieke karakter. In die Ou Ryk is piramides dikwels die ba van hul eienaars genoem). Die ba leef voort nadat die liggaam gesterf het, en dit is soms uitgebeeld as ’n voël met ’n menslike kop wat uit die grafkelder vlieg om in die hiernamaals met die ka te verenig.

In die Kistekste is een vorm van ba wat ná die dood ontstaan het liggaamlik: eet, drink en seks. Louis Vico Žabkar het gemeen die ba is nie deel van die mens nie, maar die mens self, anders as die siel in ander godsdienste. Die idee van ’n heeltemal immateriële lewe was buite die begrip van die Egiptenare.[3]

’n Ander bestaansvorm van ba word uitgebeeld in die Boek van die Dooies waar dit na die mummie terugkeer en buite die grafkelder aan die lewe deelneem in ’n nie-liggaamlike vorm – dit is ’n weerspieëling van Ra wat elke nag met Osiris herenig.[4]

Die woord baoe (baw), die meervoud, beteken iets soos "mag", "indrukwekkendheid" en "reputasie", veral wat ’n god betref. Wanneer ’n god in menslike sake tussenbeide getree het, is gesê die god se baoe is aan die werk.

D28
ka (D28)
in hiërogliewe

Die ka was die Egiptiese idee van die lewenskrag wat ’n lewende mens onderskei het van ’n dooie een. Die dood het ingetree wanneer die ka die liggaam verlaat. Die Egiptenare het geglo Chnoem skep die liggaam van kinders op ’n pottebakkerswiel en plaas dit in die ma se liggaam. Na gelang van die streek, het óf Heket óf Meschenet die ka geskep deur dit met hul geboorte in hulle in te blaas as deel van hul siel wat hulle "lewend" maak. Dit stem ooreen met die idee van "gees" in ander gelowe.

Die Egiptenare het ook geglo die ka word onderhou deur kos en drank. Daarom is afgestorwenes van kos en drank voorsien, hoewel dit die kaoe in die kos is wat ingeneem is, nie die fisieke kos nie. Die ka is dikwels in Egiptiese ekonografie voorgestel as ’n tweede beeld van die koning, en dit het daartoe gelei dat die woord in vroeër werke as "dubbel" vertaal is.

Die ach-hiëroglief.

Die ach is verbind met denke, maar nie as ’n funksie van die brein nie; eerder die intellek van ’n lewende wese.

Die Egiptenare het geglo ’n mens sterf as die ka die liggaam verlaat. Seremonies wat daarna deur priesters uitgevoer is, insluitende die se-ach ("om ’n dooie mens ’n (lewende) ach te maak") en die wp r (Mondopeningseremonie), was nie net daarop gemik om die persoon se fisieke vermoëns in die dood te herstel nie, maar ook om die ba van die liggaam los te maak sodat dit in die hiernamaals met die ka kon verenig en so die ach ("doeltreffende een") opwek. Dié opwekking was net moontlik as die begrafnisrituele reg uitgevoer is en deur gereelde offerandes.

Die ach kon lewende mense goeie of slegte goed aandoen, na gelang van die omstandighede – soos nagmerries, skuldgevoelens, siekte ens. Dit kon ook opgeroep word deur gebede of geskrewe briewe wat in die grafkelder gelaat is om lewende familielede te help, soos om familiedispute te help oplos of om ’n beroep op ander dooies of gode te doen om sake op aarde te beïnvloed.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Britannica, Ib
  2. "Slider, Ab, Egyptian heart and soul conception". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Mei 2016. Besoek op 11 Augustus 2014.
  3. "A Study of the Ba Concept In Ancient Egyptian Texts.", p. 162–163, Louis V. Žabkar, University of Chicago Press, 1968. [1] Geargiveer 12 Mei 2013 op Wayback Machine
  4. Oxford Guide: The Essential Guide to Egyptian Mythology, James P. Allen, p. 28, Berkley, 2003, ISBN 0-425-19096-X

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Allen, James Paul. 2001. "Ba". In The Oxford Encyclopedia of Ancient Egypt, edited by Donald Bruce Redford. Vol. 1 of 3 vols. Oxford, New York, and Cairo: Oxford University Press and The American University in Cairo Press. 161–162.
  • Allen, James P. 2000. "Middle Egyptian: An Introduction to the Language and Culture of Hieroglyphs", Cambridge University Press.
  • Borghouts, Joris Frans. 1982. "Divine Intervention in Ancient Egypt and Its Manifestation (b3w)". In Gleanings from Deir el-Medîna, edited by Robert Johannes Demarée and Jacobus Johannes Janssen. Egyptologische Uitgaven 1. Leiden: Nederlands Instituut voor het Nabije Oosten. 1–70.
  • Borioni, Giacomo C. 2005. "Der Ka aus religionswissenschaftlicher Sicht", Veröffentlichungen der Institute für Afrikanistik und Ägyptologie der Universität Wien.
  • Burroughs, William S. 1987. "The Western Lands", Viking Press. (fiction).
  • Friedman, Florence Margaret Dunn. 1981. On the Meaning of Akh (3ḫ) in Egyptian Mortuary Texts. Doctoral dissertation; Waltham: Brandeis University, Department of Classical and Oriental Studies.
  • ———. 2001. "Akh". In The Oxford Encyclopedia of Ancient Egypt, edited by Donald Bruce Redford. Vol. 1 of 3 vols. Oxford, New York, and Cairo: Oxford University Press and The American University in Cairo Press. 47–48.
  • Jaynes, Julian. 1976. The Origin of Consciousness in the Breakdown of the Bicameral Mind, Princeton University.
  • Žabkar, Louis Vico. 1968. A Study of the Ba Concept in Ancient Egyptian Texts. Studies in Ancient Oriental Civilization 34. Chicago: University of Chicago Press