Gaan na inhoud

Gesag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Gesag of outoriteit is die vermoë van 'n persoon of organisasie om 'n ander persoon of 'n groep te lei. Gesag vorm die basis van die samelewing, sodat dit gedissiplineerd verloop en nie in anargie oorgaan nie. Die uiteinde van gesag is gewoonlik konformering en gehoorsaamheid ten opsigte van 'n voorafbepaalde stel reëls. Ongehoorsaamheid word ontmoedig en in ekstreme gevalle gestraf, terwyl goeie gedrag beloon word.

Gesag oor ander is 'n groot verantwoordelikheid en moet met groot omsigtigheid en regverdigheid benader word. Indien nie sal mense te na gekom word en kan hulle selfs teen die gesag rebelleer. Perke word gewoonlik aan gesag gestel om te verhoed dat dit nie misbruik word nie. As voorbeeld moet 'n polisieman binne die raamwerk van die landswet optree, terwyl 'n prefek slegs die skoolreëls kan toepas.

Gesag word gewoonlik in hiërargieë aangetref. So kan organisasies in vlakke van bestuur ingedeel word. In die gesin het die ouers gesag oor die kinders, maar staan ook onder gesag van die staat (landswette) en is uiteindelik aan die goddelike gesag onderdanig.

Tipes gesag

[wysig | wysig bron]

Daar word tussen drie tipes gesag onderskei:

  • Tradisionele gesag
Tradisionele gesag is 'n absolute en harde gesag. In die antieke Romeinse wêreld het 'n pa absolute mag oor sy kind uitgeoefen, wat selfs daarop kon uitloop dat hy sy seun kon laat doodmaak (Clarke 2000:87).
  • Charismatiese gesag
Charismatiese gesag gaan oor positiewe beïnvloeding en oorreding. 'n Navolgenswaardige voorbeeld word dus gestel wat deur mense gevolg wil word.
  • Rasioneel-Burokratiese gesag
Burokratiese gesag is wettige of legitime gesag wat op rasionele gronde gebaseer is. Dit vind gewoonlik binne 'n bepaalde raamwerk met voorafbepaalde reëls en regulasies plaas.