Gaan na inhoud

Groothertogin Maria Aleksandrowna van Rusland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Hierdie naam is volgens die Oos-Slawiese gebruik; die patroniem is Aleksandrowna en die van is Romanowa.

Groothertogin Maria Aleksandrowna
Foto deur Charles Bergamasco, 1876.
Foto deur Charles Bergamasco, 1876.
Huis Holstein-Gottorp-Romanof
Gebore 17 Oktober [O.S. 5 Oktober] 1853[1][2]
Sint Petersburg, Russiese Ryk
Oorlede 24 Oktober 1920 (op 67)
Zürich, Switserland
Eggenoot Alfred, Hertog van Sakse-Koburg en Gotha
Kinders Alfred, Marie, Victoria Melita, Alexandra, Beatrice
Vader Aleksander II van Rusland
Moeder Marie van Hesse en by Ryn

Groothertogin Maria Aleksandrowna (Russies: Мария Александровна; 17 Oktober [O.S. 5 Oktober] 1853 - 24 Oktober 1920) was die vyfde kind en enigste oorlewende dogter van Aleksander II van Rusland en sy vrou, Marie van Hesse en by Ryn.[3][4] Sy was die Hertogin van Edinburg en later van Sakse-Koburg en Gotha as die vrou van Alfred, Hertog van Sakse-Koburg en Gotha. Sy was die jonger suster van Aleksander III van Rusland en die tante van die laaste tsaar, Nikolaas II.

Getroude lewe

[wysig | wysig bron]
Die verlowingsfoto van groothertogin Maria en prins Alfred, 1873.
Groothertogin Maria en haar kinders.

Maria is in 1874 getroud met prins Alfred, die Hertog van Edinburg, die tweede oudste seun van koningin Victoria en prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha.[5] Om dit te vier, het ’n klein Engelse bakkery die nou internasionaal gewilde Mariebeskuitjie gemaak, met die hertogin se naam bo-op gegraveer.[6] Sy was die enigste lid van die Huis van Romanof wat in die Britse koninklike familie ingetrou het. Die egpaar het vyf kinders gehad: Alfred, Marie, Victoria Melita, Alexandra en Beatrice.

Maria het die eerste paar jaar van haar huwelik in Engeland gewoon. Sy het nooit by die Britse hof aangepas[7] of haar afkeer van haar aangenome land oorkom nie.[2] Sy het haar man vergesel op sy verplasings as admiraal van die Britse vloot in Malta[8] (1886-'89) en Devonport (1890-'93).

Die Hertogin van Edinburg het baie deur Europa gereis. Sy het haar familie in Rusland dikwels besoek en vir lang tye in Engeland, Rusland en Duitsland gewoon waar sy familie- en sosiale aangeleenthede bygewoon het.

In Augustus 1893 het Maria die Hertogin van Sakse-Koburg en Gotha geword toe haar man die hertogdom van sy kinderlose oom, Ernst II, geërf het.[9] Sy het die lewe in Duitsland geniet en was daar aktief in kulturele aangeleenthede en welsynwerk. Sy het haar dogters baie ondersteun,[2] maar was krities teenoor haar eiesinnige seun, Alfred, wat in 1899 oorlede is. Haar man is in 1900 oorlede.[10]

Latere lewe

[wysig | wysig bron]

Ná haar man se dood het sy in Koburg gewoon. In die Eerste Wêreldoorlog was haar lojaliteit verdeel. Sy het Duitsland se kant gekies teen dié van haar geboorteland.[11]

Baie van haar familielede, insluitende haar broer Paul en haar broerskind tsaar Nikolaas II is in die Russiese Rewolusie dood en sy het haar aansienlike fortuin verloor.

Ná die oorlog het die Hertogdom van Sakse-Koburg en Gotha in November 1918 ophou bestaan. Maria is in 1920 dood[12] terwyl sy in bannelingskap in Switserland gewoon het.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Nelipa, Alexander III His Life and Reign, p. 22
  2. 2,0 2,1 2,2 Gelardi, From Splendor to Revolution
  3. Gilbert, Alexander II and Tsarkoe Selo, p. 40
  4. Mandache, Dearest Missy, p. 5
  5. Van der Kiste, Alfred: Queen Victoria's Second Son, loc 2267
  6. La Tienda, 2-Pack Maria Cookies by Cuetera, archived from the original on 27 September 2007, https://web.archive.org/web/20070927192312/http://www.tienda.com/food/products/co-01-2.html, besoek op 14 Maart 2009 
  7. Zeepvat, The Camera and the Tsars, p. 94
  8. Mandache, Dearest Missy, p. 13
  9. Mandache, Dearest Missy, p. 137
  10. Gelardi, From Splendor to Revolution, p. 171
  11. Beéche, The Coburgs of Europe, p. 222.
  12. Sullivan, A Fatal Passion, p. 346

Aangehaalde bronne

[wysig | wysig bron]
  • Beéche, Arthur E. The Coburgs of Europe. Eurohistory.com, 2014. ISBN 978-0-9854603-3-4
  • Gilbert, Paul. My Russia: The Children's Island, Alexander Park, Tsarkoye Selo. Gepubliseer in Royal Russia: a Celebration of the Romanov Dynasty & Imperial Russia in Words & Photographs. No 4. Gilbert's Books, 2013. ISBN 978-1-927604-04-5
  • Gelardi, Julia P. From Splendor to Revolution: The Romanov Women 1847–1928. St Martin Press, 2011. ISBN 978-1250001610
  • Mandache, Diana. Dearest Missy. Rosvall Royal Books, 2011, ISBN 978-91-975671-7-6
  • Nelipa, Margarita. Alexander III His Life and Reign. Gilbert's Books, 2014. ISBN 978-1-927604-03-8
  • Sullivan, Michael John. A Fatal Passion: The Story of the Uncrowned Last Empress of Russia, Random House, 1997, ISBN 0-679-42400-8
  • Van der Kiste, John. Alfred: Queen Victoria's Second Son. Fonthill Media, 2015. ISBN 978-1781553190.(Kindle-uitg.).
  • Zeepvat, Charlotte. The Camera and the Tsars, Sutton Publishing, 2004. ISBN 0-7509-3049-7.

Skakels

[wysig | wysig bron]