Gaan na inhoud

José Manuel Barroso

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
José Manuel Barroso
José Manuel Barroso

President van die Europese Kommissie
Ampstermyn
22 November 2004 – 1 November 2014
Vise Margot Wallström
Catherine Ashton
Voorafgegaan deur Romano Prodi
Opgevolg deur Jean-Claude Juncker

Minister-president van Portugal
Ampstermyn
6 April 2002 – 17 Julie 2004
Voorafgegaan deur António Guterres
Opgevolg deur Pedro Santana Lopes

Persoonlike besonderhede
Politieke party Partido Social Democrata (Portugal)
Europese Volksparty
Eggenoot/-note Maria Margarida Pinto Ribeiro de Sousa Uva

José Manuel Durão Barroso (Portugese uitspraak: ʒuˈzɛ mɐnuˈɛɫ duˈɾɐ̃w bɐˈʁozu, Lissabon, 23 Maart 1956 Portugal is 'n Portugese politikus van die Partido Social Democrata. Hy was President van die Europese Kommissie van November 2004 tot November 2014.

Loopbaan

[wysig | wysig bron]

Barroso het 'n regsgraad van die Universiteit van Lissabon. Hy het ook 'n Master of Arts (MA) in ekonomiese en sosiale wetenskappe van die Universiteit van Genève verwerf. Hy het etlike jare aan die universiteite van Lissabon en Georgetown Universiteit in Washington D.C. gewerk, waar hy sy doktors-graad verwerf het.

Barroso se politieke aktiwiteite het, voor die Anjelierrevolusie van 25 April 1974, tydens sy studies begin. Hy was toe geaffilieer met die kommuniste. In Desember 1980 het hy 'n lid geword van die sentrum-regse PSD (Partido Social Democrata), waarmee hy vandag geaffilieer bly.

Hy het onder andere die volgende poste in die politiek beklee:

  • Assistent Staatsekretaris vir Binnelandse Sake (1985-1987)
  • Staatsekretaris van Buitelandse Sake (1987-1992)
  • Minister van Buitelandse Sake (1992-1995)
  • Eerste Minister van Portugal (2002-2004)

Irak-inval 2003

[wysig | wysig bron]
Barroso, Azoren-top Irak 2003

Onder Barroso se leierskap het Portugal hom by die sogenaamde 'koalisie van die gewilliges' aangesluit. Dit was lande wat met die VSA en die VK saamgewerk het tydens die inval en die besetting van Irak. Barroso het in Maart 2003 'n beraad vir hierdie doel in die Asore gereël.

President van die Europese Kommissie

[wysig | wysig bron]

Durão Barroso is op 29 Junie 2004 as die nuwe president van Europese Kommissie benoem. Sy kandidatuur is op 20 Julie 2004 deur die Europese Parlement goedgekeur. Op 12 Augustus het Durão Barroso die lede van 'sy' Kommissie aangekondig. Nie almal van hulle kon egter op die goedkeuring van die Europese Parlement staatmaak nie. Daar was baie kritiek op die konserwatiewe Italiaanse kandidaat Rocco Buttiglione, veral vanweë sy sienings oor gays en vroue. Toe dit gelyk het of 'n meerderheid van die Parlement derhalwe teen die Kommissie sou stem, het Barroso op 27 Oktober 2004 besluit om die Parlement se vrae uit te stel voor sy Kommissie die amp aangeneem het.

Op 4 November 2004 het Barroso toe 'n nuwe voorstel vir die samestelling van die Kommissie voorgelê. Rocco Buttiglione, wat die pos vir Justisie, Vryheid en Veiligheid moes bestuur, is vervang deur die voormalige Italiaanse minister van Buitelandse Sake Franco Frattini. Die Letse kandidaat Ingride Udre is uit die pos van Belasting- en Doeane-unie onttrek. Die Hongaarse kandidaat László Kovács is daar aangestel. Aan Kovács sou aanvanklik die Energie-portefeulje gegee word, maar het nie die Europese Parlement die indruk gegee dat hy veel daarvan weet nie. Laasgenoemde portefeulje sou nou deur die nuwe Letse kandidaat: Andris Piebalgs bestuur word.

In hierdie nuwe samestelling is die nuwe Kommissie deur die Parlement aanvaar. Barroso is sedert 22 November 2004 president van die Europese Kommissie.

Op 8 Junie 2005 het die Europese Parlement 'n voorwaardelike mosie van wantroue teen Barroso verwerp, wat deur die Euroskeptiese LEP Nigel Farage ter tafel gelê is oor 'n vakansie wat Barroso aan boord van 'n seiljag geneem het van 'n Griekse skeepsmagnaat.[1] ’n Week later het Latsis se maatskappy ondersteuning van die EC ter waarde van 10,3 miljoen euro ontvang. Dit blyk egter dat die bootreis plaasgevind het voordat Barroso sy amp beklee het en die hulpmaatreël is reeds deur die vorige Europese Kommissie goedgekeur. Die uitslag van die stemming was 589 teen, 35 voor, 35 onthoudings.

Tweede kommissie Borroso

[wysig | wysig bron]

Op Woensdag, 16 September 2009 is Barroso herkies vir 'n tweede ampstermyn. Van die 736 Europese parlementslede het 718 gestem: 382 voor, 219 teen, 117 onthoudings. Die stemming was geheim, maar verklarings het getoon dat die meeste Christen-Demokrate, Konserwatiewes en Liberale vir hom gestem het, asook die Portugese en Spaanse Sosialiste.

Barroso is vanaf 1 November 2014 deur Jean-Claude Juncker as president opgevolg. As Portugese Europese Kommissaris is hy opgevolg deur Carlos Moedas.

Goldman Sachs

[wysig | wysig bron]

In Julie 2016 is aangekondig dat Barroso by die Amerikaanse beleggingsbank Goldman Sachs sou aansluit.[2] Hy is as nie-uitvoerende voorsitter van die internasionale bankbesigheid aangestel en sal ook as adviseur optree. [2]

Barroso se aanstelling by Goldman Sachs, wat as 'n skuldeiser van die Griekse staat 'n negatiewe rol in die ontstaan ​​van die Europese soewereine skuldkrisis gehad het, het tot 'n herrie gelei. ’n Groep EU-amptenare het ’n petisie begin om hom te ontneem van die pensioen wat hy by die EU opgebou het, wat meer as 140 000 keer onderteken is.[3][4] Die Europese Kommissie het 'n ondersoek deur sy etiekkomitee gelas na Barroso se stap, wat kan bots met die verpligting van oud-kommissarisse om met integriteit op te tree. Sy opvolger Jean-Claude Juncker het 'n beroep op EU-personeel gedoen om Barroso as 'n lobbyis in plaas van 'n voormalige kommissaris te behandel.[4]

Persoonlik

[wysig | wysig bron]

Barroso is getroud en het drie kinders.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. De Standaard Barroso overleeft motie van wantrouwen, 8 juni 2005
  2. 2,0 2,1 Het Financieele Dagblad Barroso aan de slag bij zakenbank Goldman Sachs, 8 juli 2016, geraadpleegd op 10 juli 2016
  3. "EU staff petition attacks Barroso over Goldman Sachs job". The Guardian. 29 Augustus 2016.
  4. 4,0 4,1 "Barroso hits back at Brussels over inquiry into Goldman Sachs role". The Guardian.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.