Gaan na inhoud

Mau Mau

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Troepe van die King's African Rifles dra voorrade terwyl hulle op die uitkyk is vir Mau Mau-vegters.

Die Mau Mau-opstande in Kenia was ‘n gevolg van die ontluikende Afrika-nasionalisme na die Tweede Wêreldoorlog.

Die organisasie

[wysig | wysig bron]

Die Mau Mau (1946-1960) was ‘n geheime guerrillabeweging onder die Kikoejoestam. Hulle was sterk anti-Britsgesind en het hulle beywer vir die regte van die Kikoejoe en het as doel gehad die verdrywing van alle blankes uit die land, die uitroeiing van die Christendom, die onafhanklikheid van Brittanje en die stigting van ‘n onafhanklike Kenia. Dit moes verkry word deur geweld, intimidasie en moord.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]

Verskeie lande in Afrika en die suidooste van Asië het geweld gebruik om van hul koloniale Europese oorheers bevry te raak. Die Europese lande was egter nie baie gewillig om die beheer oor hul kolonies sommer prys te gee nie. Kenia was vir die Britte van belang omdat dit tot ‘n mate die roete na hul kolonie Indië beskerm het. Later het die Britte in Kenia onder andere koffieplantasies aangelê wat vir die moederland van groot ekonomiese voordeel was.

Grondbesit

[wysig | wysig bron]

Toe die eerste Britse koloniste in Kenia arriveer, tref hulle dele aan wat baie dun of geheel ontvolk was en volgens hulle aan niemand behoort het nie. ‘n Oorsaak van die dun bevolking was dat die Kikoejoe land soms laat rus het voor verdere gebruik en ook soms weens die uitdunning van die bevolking weens siektes. Die Britte het nie die stelsel van eiendomsreg van grond deur ‘n stam begryp nie. Landbougrond was ‘n integrale deel van die maatskaplike en ekonomiese lewe van die Kikoejoe. Weens ‘n latere toename in die bevolking in die koloniale era was die lokasies oorbevolk. Die vrugbae Wit Hooglande in die weste van die land was toe gereserveer vir die uitsluitlike gebruik van die blanke setlaars, maar dit het aan die digbevolkte gebiede van die Kikoejoe gegrens. Hulle het gevoel die gebied is deur die Britte van hulle gesteel. Frustrasie het verder opgebou deur die koloniale owerheid se verbod op die verbouing van gewasse deur die inheemse bevolking wat ook deur die blankes op hul plase verbou word.

Oorsake van die onrus

[wysig | wysig bron]

Veral na die Tweede Wêreldoorlog het die ontevredenheid skerp toegeneem toe die soldate weer tuiskom met hul ervarings opgedoen in die buiteland. Daarna ontstaan daar onder die Kikoejoe allerlei politieke partye en kerklike en onderwysorganisasies waardeur die nuwe idees versprei word. Die mense begin besef hulle word uitgebuit en het geen sê in hul eie land se bestuur nie. Al hoe meer voel die mense dat die beperkings wat die koloniale owerheid op hulle plaas, hul menswaardigheid aantas en dat al die wantoestande eintlik toegeskryf kan word aan die aanwesigheid van die koloniale onderdrukker.

Geweld

[wysig | wysig bron]

In die gemeenskappe het die groep opstandige jongmense vinnig toegeneem. Wydverspreide agterdog en onrus met geweld en blatante haat het opgevlam. Wrede moorde, brandstigting, verminking van vee, intimidasie, die saai van angs, onder veral blankes en Indiërs, het plaasgevind. Die koloniale owerheid was nie hierop voorbereid nie en kon dit nie beheer nie. ‘n Noodtoestand is in 1952 uitgeroep en Britse troepe het in die land aangekom. Die goedgewapende Mau Mau het hul aanvalle op plase en statte voortgesit. Onder die Kikoejoe self het ‘n burgeroorlog uitgebreek. Derduisende mense het hul lewens verloor en nog derduisende is geïnterneer. Presiese getalle loop in die verslae van die opstande skerp uiteen. Langsaam het die Britse magte die Mau Mau teruggedryf. Hulle soek daarop skuiling in die digte bosse by Berg Kenia en die Aberdare-berge in die weste van die land. Op 12 Januarie 1960 word die noodtoestand opgehef en in 1963 verkry Kenia sy onafhanklikheid van Brittanje.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]