Gaan na inhoud

Normandiërs

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Normandiërs

Totale bevolking: Bestaan nie meer as identifiseerbare volk nie. Opgegaan in ander volke deur vermenging en assimilasie. Vandag slegs van geskiedkundige belang.
Belangrike bevolkings  in:
Taal: Oudnormandies, Latyn, Oudnoors
Geloofsoortuiging: Christenskap, Noorse heidendom
Verwante etniese groepe: Histories: Skandinawiërs • Gallo-Romeine • Franke
Modern: Jèrriais • GuernésiaisFranse

Die Normandiërs was 'n krygsvolk in wes-Frankryk. Hulle was oorspronklik Wikings (in Wes-Europa ook as Noormanne bekend) uit Skandinawië wat hulle in die 9de eeu in Normandië gevestig het. Die Normandiese dinastie het 'n reuse politiese, kulturele en militêre impak op middelleeuse Europa en die Nabye Ooste gehad.[1][2] Die term word ook gebruik om te verwys na emigrante uit die graafskap wat ander gebiede soos Engeland en Sisilië verower het.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Van Wiking tot Normandiër

[wysig | wysig bron]

Na die Beleg van Chartres in 911 het Rollo (Hrolf), leier van die Wikings, die gebied tussen die Seinerivier en die Noordsee van die Franse koning Karel die Eenvoudige verkry, in ruil vir beskerming teen invalle van ander Wiking-bendes.[3] Legende wil dit hê dat Rollo die wapenstilstand deur 'n onderdaan laat verseël het, en dat hierdie onderdaan, wat die voet van die Franse koning gesoen het, dit boontoe gegooi het as teken van omverwerping. Dit was 'n vroeë aanduiding dat die Normandiërs nie van plan was om as onderdane van die Franse koning op te tree nie.

Alhoewel Rollo volgens heidense tradisies begrawe is, is dit algemeen bekend dat sy opvolgers die Christendom heelhartig aangeneem het.[3] Vroomheid sou dus een van die kenmerke word van hierdie vegtervolk, wat hulle binne slegs een of twee geslagte sou bekwaam as bouers van katedrale met 'n eie argitektoniese styl: die Normandies-Romaanse styl. Rollo se opvolger, Willem Langswaard, was een van die hoofborge van die Mont St-Michel-abdy.

Hulle het nie slegs tot bekwame katedraalbouers ontwikkel nie, maar ook bekwame administrateurs geword. Die resep vir hul sukses, wat ook in latere verowerings gebruik sou word, was gebaseer op die beginsel van "arriveer, vernietig, oorwin". Hierna het hulle plaaslike gebruike aangeneem en met vroue uit die verowerde gebiede getrou en sodoende gemeng met die plaaslike bevolkings van Wes-Franke en Gallo-Romaanse inwoners, en ook hul kulture en gebruike aangeneem.[4][5][6] Deur plaaslike gebruike aan te neem, het hulle letterlik Franse geword. Hulle het byvoorbeeld die Galloromaanse taal van die gebiede wat hulle verower het vir hulself toegeëien, met hul Oudnormandiese dialek wat weldra bekend geword het as Normandies, Normaund of Normandies-Frans, wat 'n belangrike letterkundige taal is en vandag steeds gepraat word in dele van Normandië (die Cotentinais- en Cauchois dialekte) en in die nabygeleë Kanaaleilande (Jèrriais en Guernésiais). Hulle het ook wyndrinkers geword. Tog het hulle getrou gebly aan sekere aspekte van hul Skandinawiese herkoms, soos die Skandinawiese/Germaanse gebruik om familiename te laat verwys na "seun van". Name wat op "seun" of "sen" geëindig het, is derhalwe in Frans vertaal as "fils de", wat later in Engels gekorrupteer sou word na "fitz", soos byvoorbeeld in die vanne "Fitzgerald" of "Fitzneil". Selfs die wreedste kenmerke van hul oorsprong het staande gebly. 'n Voorbeeld hiervan het plaasgevind tydens 'n opstand van die plaaslike bevolking in die jare nadat Rollo 'n eie hertogdom van die Franse koning verkry het: die opstandelinge se hande en voete is terstond afgekap, en die opstand is vinnig beëindig.

Die Normandiërs het ook hul eie gebruike gehad wat nie by hul Skandinawiese voorsate of by die plaaslike bevolkings van die gebiede wat hulle verower het ontstaan het nie, soos byvoorbeeld hul haarstyl. Beide die Bayeux-tapisserie en freskos in die Kerk van Monreale in Sisilië toon duidelik aan dat die Normandiërs hul koppe tot by die kroontjie geskeer het. Aan die voorkant van die kop het hulle hul hare langer laat groei en soms verbind. Die vermenging in Normandië het 'n etniese en kulturele "Normandiese" identiteit in die eerste helfte van die 10de eeu geskep, en die identiteit sou voortgaan om oor die eeue te ontwikkel.[7]

Konsolidasie en uitbreiding

[wysig | wysig bron]

Rollo en sy opvolgers het relatief vinnig hul gebied uitgebrei, en hul verowerings het later uitgebrei tot aan die grense van Bretagne. Die Normandiërs, afstammelinge van bekwame seevaarders, moes hulself uit suiwer nood in die loop van een of twee geslagte as bekwame stratege omvorm. Een van die hoekstene van hul militêre sukses was die vorming van 'n berede leër wat later die mees gevreesde kavallerie in Europa sou word. Nog 'n hoeksteen was om vinnig 'n "Mottekasteel"[8] te bou. Hierdie kastele was perfek geskik om 'n veroweringsoorlog te voer. 'n Groot deel van Wes-Europa is steeds besaai met die oorblyfsels van hierdie mottekastele. Later sou hierdie kastele vervang word deur klipkastele. In die meeste Europese lande, soos in Engeland, is vestings gebou met die doelwit om skuiling te bied aan 'n heer se onderdane in die geval van 'n vyandelike inval. Die Normandiese vestings het die uitsluitlike doel gehad om 'n gevestigde mag te beskerm, en was dus ook in daardie opsig gerig op oorlogvoering. Die Toring van Londen is 'n voorbeeld van so 'n tipiese Normandiese kasteel.

Verowering van die Britse eilande

[wysig | wysig bron]
Normandiese verowerings

In die 11de en 12de eeue het die Normandiërs groot veranderinge in Europa teweeggebring. Die Normandiërs was van 'n vroeë datum af in kontak met Engeland. Hul oorspronklike Wiking-broers was steeds besig om die Engelse kus te plunder en te verwoes, en het ook die meeste van die belangrike hawens oorkant Engeland oor die Engelse Kanaal besit. Die verhouding het uiteindelik noue bloedbande teweeggebring deur die huwelik van Emma, suster van Richard II van Normandië, en Ethelred. Om die rede het Ethelred in 1013 na Normandië gevlug toe hy geforseer is om afstand te doen van sy koninkryk deur Sven Vurkbaard. Sy tyd in Normandië (tot 1016) het hom en sy seuns wat hy by Emma gehad het beïnvloed, en hulle het in Normandië gebly na Knoet die Grote se verowering van die eiland.

Toe Eduard die Belyer, op uitnodiging van sy halfbroer Harthacnut, uiteindelik in 1041 teruggekeer het van sy vader se toevlug, het hy teruggekeer met 'n Normandiese opvoeding en ingerigtheid. Hy het ook verskeie Normandiese raadgewers en vegters saamgebring, en sommige van die vegters het 'n Engelse kavalleriemag op die been gebring. Hierdie konsep het nooit gewild geword nie, maar dit is 'n tipiese voorbeeld van Eduard se houding. Hy het vir Robert van Jumièges as Aartsbiskop van Kantelberg, en vir Ralph die Bedeesde as Graaf van Hereford, aangestel.

Onder Willem I, wat in die geskiedenis sou opgaan as Willem die Veroweraar, is Engeland op 14 Oktober 1066 verower tydens die beslissende Slag van Hastings.

Hastings se nadraai het groot gevolge teweeggebring. Engeland het 'n volledige militarisering ondergaan. Nêrens in Engeland was Normandiese kastele meer as 100 km van mekaar af nie. Die administrasie en verdeling van die gehele gebied is op so 'n ingrypende wyse verander dat 'n meerderheid adellike families en grondeienaars vandag steeds kan spog met 'n stamboom wat terugdateer na Normandiese adellikes. Die Engelse taal sou ook as gevolg van die Normandiese besetting 'n drastiese verandering ondergaan op 'n wyse wat tot vandag toe nog gehoor kan word. Die vrome Normandiërs het ook katedrale gebou, soos reeds in Normandië die geval was. Keer op keer was hierdie katedrale so groot dat hulle as 't ware 'n boodskap tuisgebring het by die plaaslike bevolking: dat hulle 'n verowerde volk was.

Ook Skotland het kennis gemaak met die Normandiërs, maar op 'n baie minder gewelddadige manier. Die Normandiërs is as 't ware deur die Skotte genooi. In Wallis was dinge daarenteen veel meer moeisaam. Terwyl Engeland binne 'n paar jaar "genormaliseer" is, het dit 200 jaar geneem om Wallis te onderwerp.

Ierland het ook groepe Normandiese huursoldate uitgenooi om bystand te verleen met interne konflikte. Die Wallies-Normandiese edelman, Richard de Clare, met die noemnaam van "Strongbow", sou die "uitnodiging" uiteindelik gebruik om Ierland te verower. Dit het 'n reaksie van Engeland ontlok. Hendrik II, die troonopvolger, kon nie so 'n digte konsentrasie van Normandiese edeles buite sy beheer naby die kus van sy ryk gedoog nie, en het gevolglik 'n Normandiese leër gestuur om Ierland sonder enige weerstand as 'n verowerde gebied by Engeland in te lyf.

Verowering van Suid-Italië

[wysig | wysig bron]

Normandiese krygers het sedert die jare dertig van die 11de eeu in Suid-Italië aan land gekom. Dit was 'n gebied wat op die breuklyn van 3 magte gelê het: die pouslike staat, die Bisantium en die More. Die drie seuns van Tancred de Hauteville, 'n Normandiese edelman, het ook daarin geslaag om in Suid-Italië vastrapplek te kry, deur onder andere 'n leër uit die Duitse gebiede, wat deur die Pous ingeroep is, te verslaan. Een so 'n seun was Robert, met die bynaam "Guiscard". Robert Guiscard was die grondlegger van die Normandiese dinastie en eerste hertog van Apulië. Guiscard se stiefbroer, Rogier I, het op uitnodiging van die Pous Sisilië van die More verower. Uiteindelik het Napels, Apulië en Sisilië gegroei tot een Normandiese koninkryk onder Rogier II, die Koninkryk Sisilië, wat sou uitgroei tot een van die magtigste Middeleeuse ryke ten tyde van die Kruistogte. Wanneer Italiaanse historici vandag van "il regno" praat, bedoel hulle Sisilië onder die Normandiërs. Ook hier het die Normandiërs hul beproefde resep toegepas. Sisilië het gou gegroei tot 'n multi-etniese koninkryk met 'n hoë mate van verdraagsaamheid. In die koninkryk van Sisilië kry ons 'n ander kant van die Normandiërs te sien. Koning Rogier II en sy nageslag het hulself gevestig as beskermhere van die wetenskappe, filosofie en die kunste, en vryheid van geloof is verseker onder hul heerskappy.

Kruistogte

[wysig | wysig bron]

Die Normandiërs het egter hoofsaaklik steeds krygers gebly, en toe die Eerste Kruistog van stapel gestuur is het die Normandiërs die boustene daarvan gevorm. Die seuns van onder meer Willem die Veroweraar en Tancred van Hauteville het deel uitgemaak van die leiers van die Eerste Kruistog. Hierdie kruistog sou lei tot bykomende Normandiese verowerings: die van Antiogië, asook ander gebiede in die Midde-Ooste.

Die Eerste Kruistog toon meer van die konflikgedrewe aspekte van die Normandiese bydrae tot die Europese wordingsgeskiedenis. Die Normandiese edelman Bohemund sou onder meer sulke wreedhede pleeg teenoor die Sarasene dat dit vandag steeds in die kollektiewe geheue van bevolkings in die Midde-Ooste vassteek, en dat islamitiese fundamentaliste vandag nog praat van "die kruisvaarders" wanneer hulle verwys na die Weste.

Einde van die Normandiese koninkryke

[wysig | wysig bron]

Uiteindelik sou die Normandiërs as volk verdwyn. Dit is nie soseer 'n bewys van hul tekortkominge nie, maar veral die sleutel tot hul sukses. Hulle was nie geïnteresseerd daarin om hul bloed suiwer te hou nie. Oral waar hulle gebiede verower het, het hulle dieselfde resep toegepas: verowering, assimilasie en vermenging met die plaaslike bevolking. Die Normandiërs het trouens sodoende 'n bloudruk verskaf waarop latere Europese kolonialisme hom sou ent.

Uiteindelik is die Midde-Ooste in sy geheel herower van die kruisvaarders, en het Antiogië in die hande van die Seljukse Turke beland. Die Koninkryk Sisilië is verower deur die Heilige Romeinse Ryk, en Engeland het in die hande gekom van die Plantagenêts. Uiteindelik het ook Normandië self haar relatiewe onafhanklikheid verloor toe die gebied verower is (1204) deur die koning van Frankryk.

Hertoë van Normandië en hul bewindsperiodes

[wysig | wysig bron]

Vertaling

[wysig | wysig bron]

Vir Nederlands- en Afrikaanstaliges is dit miskien verwarrend, maar die Engelse vertaling vir "Normandiër" is "Norman", en dié vir "Noorman", "northman" of "norseman", beide kan gebruik word. Die Engelse term "Norman" staan dus nie vir "Noorman" nie. Die verskil is belangrik omdat die Nederlandstalige literatuur, veral wat betref vertalings uit Engelse literatuur of vertalings wat daarop gebaseer is, beide terme soms omruilbaar gebruik, wat foutief is.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Norman Centuries – A Norman History Podcast by Lars Brownworth". normancenturies.com. Besoek op 20 Mei 2018.
  2. "The Norman Impact". History Today Volume 36 Issue 2. History Today. 2 Februarie 1986. Besoek op 31 Julie 2015.
  3. 3,0 3,1 "Norman". Encyclopædia Britannica. 
  4. Brown 1994, p. 18: "The first Viking settlers in Normandy, it is agreed, were predominantly Danish, though their leader, Rollo was of Norse extraction."
  5. Brown 1994, p. 19: "the Northmen of Normandy became increasingly Gallicized, increasingly Norman we may say, until by the mid-eleventh century they were more French than the French, or, to speak correctly, more Frankish than the Franks."
  6. Elizabeth Van Houts (2000). The Normans in Europe. Manchester University Press. p. 1. ISBN 9780719047510.
  7. "Sicilian Peoples: The Normans". L. Mendola & V. Salerno. Best of Sicily Magazine. Besoek op 31 Julie 2015.
  8. 'n Mottekasteel is 'n Europese vesting met 'n hout- of kliphok, geleë op 'n verhoogde grondgebied wat 'n motte genoem word. Dit is vergesel van 'n ommuurde binnehof en omring deur 'n beskermende sloot en palissade. Dit was betreklik maklik om met ongeskoolde arbeid te bou, maar was steeds in 'n militêre opsig 'n formidabele struktuur. Hierdie kastele is vanaf die 10de eeu regoor Noord-Europa gebou, en het in die 11de eeu vanaf Normandië en Anjou in Frankryk tot die Heilige Romeinse Ryk versprei. Die Normandiërs het die ontwerp in Engeland en Wallis bekendgestel. Mottekastele is in die 12de en 13de eeue in Skotland, Ierland, die Lae Lande en Denemarke gebou. Windsor-kasteel in Engeland is 'n goeie voorbeeld van 'n mottekasteel. Teen die einde van die 13de eeu is die ontwerp grootliks vervang deur alternatiewe vorme van versterking, maar die grondwerke bly 'n prominente kenmerk in baie lande.