Saltonmeer
Saltonmeer | |
---|---|
Nasa-Satellietbeeld van die Saltonmeer | |
Kaart van die Saltonmeer se dreineringsgebied | |
Koördinate: | 33°19′N 115°49′W / 33.317°N 115.817°W |
Ligging: | Verenigde State |
Soort: | Binnemeer |
Oppervlakte: | 889 km² (343 myl²) |
Maksimum diepte: | 13 m (43 vt) |
Volume: | 7,4 km³ (6 myl³) |
Opvangsgebied: | 21 700 km² (8 360 myl²) |
Invloei: | Alamo, New, Whitewater |
Nedersettings: | Bombay Beach, Desert Beach, Desert Shores, Salton City, Salton Sea Beach, North Shore |
Die Saltonmeer (Engels: Salton Sea) is 'n vlak soutmeer in die Inland Empire in die suidooste van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, geleë in die Coloradowoestyn wes van die Chocolate Mountains regstreeks op die San Andreas-breuk en sowat 50 kilometer suid van Palm Springs. Die grens tussen die administratiewe distrikte Imperial en Riverside County loop dwarsdeur die meer.
Dit is die grootste meer in die deelstaat met 'n gemiddelde oppervlak van meer as 1 300 km² wat deur die New-, Whitewater-, Alamo- en 'n aantal kleiner riviere asook water uit nabygeleë agrariese besproeiingsgebiede gevoed word, terwyl geen water uit die meer afvloei nie. Die grootte van die wateroppervlak varieer as gevolg van wisselvallige neerslae.
Die meer het eers in 1905 ontstaan nadat vloedwater van die Coloradorivier in die nabygeleë Yuma in Arizona die walle van sleg geboude besproeiingskanale oorstroom en gebreek het en daarna sowat twee jaar lank na die Salton-depressie gestroom het. Die Saltonmeer is dus net soos Death Valley benede seevlak geleë. Tans is sy oppervlak 69 meter laer as seespieël, met 'n maksimale waterdiepte van 16 meter. Sy soutgehalte is met 44 gram per liter hoër as dié van die Stille Oseaan (35 g/l), maar laer as dié van die Groot Soutmeer (met tussen 50 en 270 g/l).
Aangesien die water vinnig verdamp uit die Coloradorivier in die warm woestynklimaat, bou steeds hoër soutkonsentrasies op. Die soutgehalte styg tans jaarliks met sowat een persent.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Navorsers neem aan dat die Coloradorivierdelta in die suidelike deel van die Imperial Valley oor 'n tydperk van sowat drie miljoen jaar gevorm is of dat hierdie proses tenminste oor die hele Pleistoseen-gletsertydperk voortgeduur het. Die rivierdelta het uiteindelik die weskus van die Golf van Kalifornië (wat ook as See van Cortez bekend gestaan het) bereik en hier 'n massiewe natuurlike dam geskep wat die Saltonmeer van die Golf se noordelike waters afgesny het. Sonder hierdie dam sou die Golf so ver noord as die stad Indio strek en die hele Salton-depressie saam met die Imperial Valley en groot dele van die Anza-Borrego-staatspark lankal oorstroom wees.
As gevolg van hierdie geologiese proses was die Saltonbekken sedertdien, afhangende van die wisselende watertoevoer uit riviere en die wisselende balans tussen watertoevoer en verdamping, 'n varswatermeer of droë woestynvlakte. Net wanneer daar voldoende reën en watertoevoer uit die riviere was, het 'n meer begin vorm in 'n natuurlike siklus wat oor 'n tydperk van honderdduisende jaar steeds weer herhaal is - totdat die meer in 1905 deur vloedwater herskep is.
Daar is geologiese bewyse dat die bekken periodies deur 'n groter aantal mere beslaan is. Die water van golwe het diep in omliggende heuwelhellings gesny wat teen verskillende hoogtes oos en wes van die huidige meeroewer geleë is en dui sodoende die historiese oewerkante aan. Wisselende watervlakke het in die bekken nog so onlangs soos enkele honderd jaar gelede voorgekom. Die laaste van die Pleistoseen-mere in die bekken was die Cahuillameer (wat op ouer kaarte ook as LeConte- of Blakemeer aangedui word) wat na die Amerikaanse professor en geoloog William Phipps Blake vernoem is.
Die Saltonbekken, wat oorspronklik deel van 'n uitgestrekte binnelandse see was wat groot dele van Suid-Kalifornië bedek het, was vroeër 'n belangrike mynboustreek waar sout grootskaals ontgin is. Gedurende die Spaanse heerskappy in Kalifornië is na die gebied as "Coloradowoestyn" verwys, 'n naam wat van die Rio Colorado (Coloradorivier) afgelei is. Toe in 1853 en 1855 opmetings vir die bou van 'n spoorweglyn gedoen is, is die bekken "Die Vallei van die Ou Meer" (The Valley of the Ancient Lake) genoem. Op 'n aantal ou kaarte van die Amerikaanse Kongresbiblioteek word die streek as Cahuilla Valley - 'n verwysing na die plaaslike Indiaanse stam - en as Cabazon Valley aangedui - 'n verwysing na Chief Cabazon, 'n plaaslike Indiaanse hoof. Die naam Salt Creek is vir die eerste keer op 'n kaart uit die jaar 1867 gebruik, terwyl Salton Station op 'n spoorwegkaart van 1900 verskyn, alhoewel hierdie spoorweghalte reeds sedert die laat 1870's bestaan het.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Saltonmeer.