Gaan na inhoud

Suider-Afrika

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Suidelike Afrika)
Nasa-Satellietbeeld van Suider-Afrika
Ligging van Suider-Afrika
Klassifikasie van die term Suider-Afrika volgens verskeie bronne (donkergroen: VN-statistiek-afdeling, groen: geografies, liggroen: SAOG)

Suider-Afrika of Suidelike Afrika is die suidelike gedeelte van die kontinent van Afrika. Die gebied word nie altyd presies dieselfde afgebaken nie.

'n Algemene afbakening, veral vir geografiese en ekologiese doelwitte, is die gebied suid van die Zambezi-, Okavango- en Kunenerivier, die eilande aan hierdie gebied se kus en die gebiedswaters tot 200 seemyl van die kus, asook Prins Eduard-eiland en Marion-eiland in sub-Antarktika. Dit sluit dus die suide van Mosambiek (suid van die Zambezirivier), Botswana en Zimbabwe, sowel as Suid-Afrika, Lesotho en Eswatini, in. 'n Voorbeeld hiervan is die voëlgidse wat algemeen beskikbaar is en wat die verspreiding van die verskillende spesies in Suider-Afrika aandui.

Geopolities beskou die Verenigde Nasies die streek as die lande Namibië, Botswana, Suid-Afrika, Lesotho en Eswatini.

SAOG-lidmaatskap

[wysig | wysig bron]

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) word ook geassosieer met hierdie streek, met lande tot so ver noord as die Demokratiese Republiek van die Kongo, en so ver oos as Tanzanië en Madagaskar. Dit is in 1980 gestig om samewerking in die streek te bevorder.

Die gemeenskap sluit die volgende lande in:[1]

Platorand

[wysig | wysig bron]

Die platorand, wat die skeiding tussen die kusgebied en die binnelandse plato vorm, bestaan nie uit aaneenlopende bergreekse nie, en talle onderbrekings kom voor. In die noordooste van die subkontinent word die platorand gevorm deur die Natalse Drakensberge, wat uitloop in die hooglande van Lesotho, waar hoogtes van meer as 3 800 meter bereik word.

Dit vorm ook die hoogste deel van die subkontinent. Suidwaarts strek die platorand aanvanklik as die Stormberge, waarna dit weswaarts swaai in die reekse van die Kikvors- en Nuweveldberge. By die Komsberg swaai dit weer skerp noordwes en word voortgesit as die Roggeveldberge- en Kamiesberge. In Namibië verskyn dit as die Noukloofberge, die Khomas-Hoogland en die berge van die Kaokoveld.

Klimaatstreke

[wysig | wysig bron]

Klimaatsgewys kan die geografiese gebied in ses verskillende streke verdeel word:

Die suidelike gras- en boslandstreek

[wysig | wysig bron]
'n Graslandskap in Namibië

Dié gebied beslaan die grootste gedeelte van noordelike Namibië, noordoostelike Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, die Noordelike provinsie in Suid-Afrika, asook die oostelike gedeelte van Mpumalanga en 'n strook aan die weskus so ver suid as Port Elizabeth. Dit is 'n somerreënvalstreek, en dit ontvang gemiddeld 500 mm reën per jaar.

Die suidelike graslandstreek

[wysig | wysig bron]

Hierdie streek kom slegs in Suid-Afrika voor; oos van 26°O en suid van 25°S. Dit is ook 'n somerreënvalgebied, en die reënval is gemiddeld 500 mm per jaar.

Die suidwestelike halfwoestyn

[wysig | wysig bron]
Die Karoo, ná reën

Behalwe vir smal stroke aan die noord-, suid- en wesgrens van die Suider-Afrikaanse subgebied, beslaan die klimaatstreek feitlik die hele gebied wes van 26° O. Dit reën ook meestal net in die somer, maar slegs 200 mm per jaar.

Die woestynstreek

[wysig | wysig bron]
Die Namibwoestyn

Dit beslaan 'n nou strook met die kus van Namibië op, en binnelands saam met die Oranjerivier tot so ver as 21° O. Die Kalahariwoestyn en die Namibwoestyn vorm deel van hierdie streek. Dit reën gemiddeld minder as 125 mm per jaar. In die Namibiese kusstrook is die vog wat vanaf misbanke van die see af ingestoot word, dikwels die enigste bron van vogtigheid.

Die Kalahari, wat in die volksmond 'n woestyn genoem word, is nie 'n woestyn omdat dit 'n te lae neerslag ontvang of 'n te karige plantbedekking het nie. Die woestyntoestande bier word geskep deur die sanderige oppervlak waarin alle water onmiddellik wegsyfer. Gevolglik is oppervlakwater baie skaars. In die suidelike deel is die sand rooi van kleur en bou dit sowat 15 meter hoë ronde-rugduine, wat noordweswaarts strek.

Noordwaarts word die sand egter witgrys namate die reënval toeneem en verdwyn die duine geleidelik. In die noordelike deel van Namibië is die landskap al baie gelyk en vorm dit 'n vlak kom waarvan die Etoshapan die laagste deel is.

Die Kaapse fynbosstreek

[wysig | wysig bron]
Kaapse fynbos

Dit strek as 'n nou strokie van die suidkus van Suid-Afrika oos so ver as Port Elizabeth, en met die Weskus op so ver as St. Helenabaai. In die valleie reën dit ongeveer 200 mm per jaar, maar in die kusgebergtes kan dit tot 3000 mm per jaar reën, hoofsaaklik in die winter. Die gebied het van die grootste verskeidenheid plantspesies in die wêreld.

Die woudstreek

[wysig | wysig bron]
Woudlandskapdetail

Klein kolletjies woud- en boswêreld strek vanaf die Tsitsikammawoud, aan die kusgebied van die Oos-Kaapprovinsie van Suid-Afrika, oos en noordoos deur KwaZulu-Natal, noord met die Drakensberge deur Mpumalanga, en dan weer weswaarts na die Soutpansberge en in oostelike Zimbabwe in.

Dreinering

[wysig | wysig bron]

Die grootste gedeelte van die suidelike platogebied word gedreineer deur die Oranjerivier, die langste rivier in Suid-Afrika. Een van sy takriviere, die Vaalrivier, dreineer die grootste gedeelte van Gauteng en die Vrystaatse Hoëveld. Nog 'n tak van die Oranje, die Visrivier, wat die suidelike deel van Namibië dreineer, is veral bekend om die diep canyon waarin hy vloei. Laasgenoemde rivier vloei egter net af en toe en staan gevolglik as 'n episodiese rivier bekend.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "MEMBER STATES" (in Engels). Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2020. Besoek op 18 Maart 2018.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Gebiede van die Wêreld

Afrika

Noord (Midde-Ooste)  · Suid van die Sahara (Sentraal · Suider · Wes · Oos)

Amerikas

Noord · Sentraal · Karibiese Gebied) · Suid · Latyns

Asië

Sentraal · Oos · Noord-Asië (Verre-Ooste) · Suid (Indiese subkontinent) · Suidoos · Suidwes (Midde-Ooste)  · Wes

Europa

Sentraal · Noord · Suid · Wes · Oos

Oseanië

Australasië (Australië · Seeland) · Melanesië · Mikronesië · Polinesië

Poolgebiede

Noordpoolgebied · Antarktika

Oseane

Arktiese · Atlantiese · Indiese · Stille · Suidelike

Seë

Oorsig van Seë

Sien ook Kontinente van die wêreld