Testamente van die Twaalf Stamvaders
Die Testamente van die Twaalf Stamvaders is deel van die apokriewe boeke wat met die Bybel verbind word. Dit handel oor die sterwenswense van die twaalf seuns van Jakob. Dit was deel van die Oskan- Armeense Ortodokse Bybel van 1666. Fragmente van soortgelyke geskrifte is by Qumran ontdek, maar daar is verskillende menings oor of hulle dieselfde tekste is. Dit word algemeen beskou as openbarende (voorspellende) geskrifte.
Die testamente is oorspronklik in Hebreeus of Grieks geskryf en het hulle finale vorm in die 2de eeu n.C. aangeneem. In die 13de eeu is hulle aan die Westerse wêreld bekend gestel deur die agentskap van Robert Grosseteste, die biskop van Lincoln, wie se Latynse vertaling van die werk dadelik gewild geraak het. Hy het geglo dit was werklik die werk van die twaalf seuns van Jakob, en dat dele wat later ingevoeg is, ware Joodse profesieë bevat;[1] hy het die Jode daarvan beskuldig dat hulle die testamente weggesteek het "oor die profesieë van die Redder wat daarin voorkom".
Met die kritiese metodes van die 16de eeu is Grosseteste se siening verwerp en die boek is vir byna vier eeue afgeskiet as 'n Christelike vervalsing.[2] Geleerdes verskil steeds oor of dit 'n oorspronklik Joodse dokument is wat deur Christene aangepas is, en of dit 'n Christelike dokument is wat oorspronklik in Grieks geskryf is maar geskoei is op vroeëre materiaal in 'n Semitiese taal.[3] Hulle is geneig om dit as 'n Christelike werk te hanteer, of daar 'n ouer Joodse weergawe is of nie.
Etiek
[wysig | wysig bron]Die testamente het baie verskillende etiese motiewe, waarvan een van die belangrikstes die toepassing van God se gebooie is. In dié verband begin die etiek in die testamente op 'n presiese manier; elke testament bespreek 'n sekere deug of ondeug. Dit word dan gevolg deur 'n baie vae en algemene verwysing na God se wet en gebooie.[4]
Nog 'n tema wat H.W. Hollander breedvoerig bespreek het,[5] is die rol wat Josef in die etiek speel. Hy word dikwels voorgehou as 'n voorbeeld van 'n etiese man en die dade van die stamvaders word dikwels opgeweeg teen dié van Josef.
Opsomming
[wysig | wysig bron]Die werk word verdeel in 12 boeke, wat elk ten doel het om die sterwenswense van een van die twaalf stamvaders te onthul. In elk vertel die stamvader eers van sy lewe, terwyl hy fokus op sy sterk punte, deugde of sondes deur gebruik te maak van biografiese materiaal in beide die Hebreeuse Bybel en Joodse tradisie. Daarna doen hy 'n beroep op sy lesers om die een na te streef en die ander te vermy. Die meeste van die boeke eindig met profetiese visioene.
Ruben
[wysig | wysig bron]Die Testament van Ruben is grootliks 'n vermaning teen wellus en teen die sonde van Ruben wat seks gehad het met Bilha, 'n houvrou van sy pa. Dit lyk of die skrywer in elk geval die onderwerp van ontug wou behandel en dit aan Ruben oorgelaat het om dit te bespreek vanweë sy verhouding met Bilha wat in die Bybelse kanon vertel word.
Die testament voeg by dat hy op Bilha spioeneer terwyl sy in die geheim bad; toe sy later dronk word, verkrag hy haar. Dié wending kom uit hoe Genesis 49:4 gelees word[6], en soos dit staan in die Boek van Jubileë.[7]
Josef word aan die ander kant uitgebeeld as die ideaal, omdat hy Potifar se vrou weerstaan het.
Simeon
[wysig | wysig bron]Die Testament van Simeon bestaan hoofsaaklik uit kritiek op afguns. In die Genesisverhaal word Simeon uitgebeeld as dat Josef hom in kettings vasgemaak het, en volgens die skrywer van die testament wou Simeon vir Josef doodmaak weens jaloesie. Volgens die verhaal in die testament was dit Juda wat Josef as slaaf verkoop het, en beeld dit Josef uit as die ideaal van deug en mededeelsaamheid.
Die testament 5:4-6 val Simeon se kinders aan weens die sonde van rassevermenging (ook in Numeri 25). Dit noem nie die aanval op Sigem, wat Simeon in die Tora saam met sy broer Levi doodgemaak het, nie. Dit noem in plaas daarvan die feit dat Simeon teen Levi oorlog gemaak het. Kugel lei af die testament stem saam met Jubileë 30:23 dat die aanval op Sigem "geregverdig" was.[8]
Levi
[wysig | wysig bron]Die Testament van Levi is 'n openbarende seksie. Dit is een van die langstes en gaan hoofsaaklik oor arrogansie. Oor die tema van die Levi-priesterskap verduidelik die testament hoe Levi se nakomelinge die amp bederf het weens hulle arrogante verontagsaming van die regte regulasies.
Die testament het 'n beskrywing van die aanval op Sigem. Daar word gesê Jakob het 'n huwelik tussen Sigem en sy dogter Dina voorgestel, en aan Sigem die opsie gegee het om hom te laat besny. Levi was van die begin af teen die besnydenis. Anders as Jubileë en as Kugel reg het, die Testament van Simeon, was huwelike tussen Israeliete en bekeerdes wettig volgens die Testament van Levi.[9]
Juda
[wysig | wysig bron]Die Testament van Juda gaan hoofsaaklik oor moed, geldgierigheid en ontug. Dit begin met die uitbeelding van Juda as idealisties dapper, met dapperheid voor wilde diere en suksesvolle militêre veldtogte, wat soms geskoei is op dade met in die kanonieke boeke met Jakob vereenselwig word. Dit het daarna egter 'n xenofobiese fokus en kritiseer Juda se huwelik met 'n nie-Israeliet en sy seksuele aktiwiteit met Tamar, sy skoondogter wat in dié tyd "voorgegee" het sy is 'n prostituut.
Volgens die verhaal het Juda seks met Tamar en sy vrou gehad toe hy dronk was, en het hy sy vrou se pa omgekoop om hom met haar te laat trou.
Issaskar
[wysig | wysig bron]Die Testament van Issaskar handel hoofsaaklik oor asketisme, wat deugsaam uitgebeeld word. Die verhaal begin egter met die Bybelse verhaal van Lea wat Jakob se "nagtelike dienste" koop deur liefdesappels aan Ragel te gee (Genesis 30:16). Ragel word uitgebeeld as deugsaam omdat sy kuiser as Lea is.
Die res van die verhaal beeld Issaskar self uit terwyl hy 'n goddelike en eenvoudige landboulewe lei. Dit is geskoei op Genesis 49:14-15: “Issaskar is 'n sterk pakdier, hy gaan lê tussen sy twee saalsakke. Hy sien 'n goeie woonplek, 'n mooi landstreek, en daarvoor onderwerp hy hom aan dwangarbeid, doen hy slawewerk."
Sebulon
[wysig | wysig bron]Sebulon was die sesde seun van Lea en Jakob. Hy word beskryf as 'n uitvinder en filantroop, en die teks vertel wat hy geleer het uit die sameswering teen Jakob.
Die Testament van Sebulon noem dat hy in die 114de jaar van sy lewe dood is, twee jaar ná Josef. Hy erken teenoor sy seuns dat hy die sonde van onkunde teen Josef gepleeg het.
Dan
[wysig | wysig bron]Die Testament van Dan gaan oor woede en leuens, maar veral woede. Dan veruidelik eers sy gevoel van jaloesie teenoor Josef. Die gees van woede het hom in die versoeking gestel om Josef te vermoor. Gelukkig het God nie Josef in Dan se hande laat beland nie.
Dan vertel dan hoe die gees van woede werk. Dit maak jou oë toe en verwring jou sig. Daarom herken jy nie mense vir dit wat hulle werklik is nie. Verder versteur dit die brein sodat God dit verlaat en Beliar dit inneem. Daarom sê Dan aan sy seuns om God se gebooie te volg en na aan God te lewe. Hy voorspel dan sekere dinge oor die toekoms en vertel van 'n redder wat uit Levi en Juda sal voortkom wat mense se siel van Beliar sal bevry.
Die testament eindig in 'n kanttekening waarin gesê word Dan se profesieë het inderdaad waar geword.
Naftali
[wysig | wysig bron]Die Testament van Naftali het openbarende elemente. Dit begin met die stamboom van Bilha, sy moeder, wie se vader glo Roteus was. In Naftali se visioen gryp Levi die son en Juda die maan. Josef gryp 'n bul en ry daarop. Hy het nog 'n droom waarin hy 'n storm ter see sien, asook hoe die broers geskei word. Daar is weer 'n herhalende verwysing na seksuele verhoudings.[10]
'n Afskrif van die Testament van Naftali is by Qumran onder die Dooie See-rolle ontdek wat uit grot 4 (4Q215) kom.
Gad
[wysig | wysig bron]Die Testament van Gad begin met Gad se haat teenoor Josef. Hoofstuk 2 begin met Gad wat vertel oor liefde vir mekaar. Hy raai sy seuns aan om mekaar lief te hê en haat uit hulle hart te weer.
Aser
[wysig | wysig bron]Die Testament van Aser is die kortste van die twaalf en begin, anders as die ander, nie met 'n sterfbedtoneel nie. Dit gaan oor die twee maniere om te lewe. Die belangrikste beroep in Aser is om die waarheid aan te hang met die enkelvoudigheid van geloof.
Josef
[wysig | wysig bron]Die Testament van Josef gaan hoofsaaklik oor kuisheid, en lyk of dit in 'n groot mate geskoei is op die verhaal van Josef in Genesis 39 in die Bybel waarin hy weerstand teen Potifar se vrou bied. Die verhaal brei uit oor die pogings van Potifar se vrou om Josef te verlei: Eers dreig sy Josef, dan probeer sy marteling en vleitaal, dan beplan sy om haar man te laat vermoor sodat Josef met haar kan trou, dan gebruik sy liefdesdrankies en eindelik dreig sy om selfmoord te pleeg.
Benjamin
[wysig | wysig bron]Die Testament van Benjamin is in 'n groot mate 'n aanhangsel by dié van Josef. Dit begin met die vertelling wat Josef aan Benjamin gegee het oor hoe hy aan die Ismaeliete verkoop is. Hy maan sy afstammelinge teen bedrog, maar ook teen ontug, nes al die ander broers.[10]
Profesieë
[wysig | wysig bron]Die Testamente van die Twaalf Stamvaders bevat 'n aansienlike getal profesieë oor die koms van die Messias. Uit 'n Christelike oogpunt kan 'n paar van die stellings verbind word met gebeure uit Jesus se lewe. Baie beskou dit as betekenisvol, omdat die boeke vermoedelik voor die geboorte van Jesus geskryf is.
'n Mens kan byvoorbeeld die volgende deel uit die Testament van Levi vergelyk met die Nuwe Testament:
Die hemel sal oopgaan, en uit die tempel van glorie sal heiligmaking oor hom kom, met die Vader se stem soos dié van Abraham aan Isak. En die glorie van die Hoogste sal oor hom uitgespreek word, en die gees van begrip en heiligmaking sal in die water op hom kom.
(Levi 5:21-22)
Uit Matteus:
Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” (Matteus 3:16-17)
Gebruik in die Nuwe Testament
[wysig | wysig bron]R.H. Charles het die aandag gevestig op die herhaaldelike gebruik van die testamente deur Paulus en ander skrywers van die Nuwe Testament, veral:
- 1 Tessalonisense 2:16 is 'n aanhaling uit die Testament van Levi 6:10-11;
- Romeine 12:19 kom uit Gad 6:7;
- Romeine 12:21 kom uit Benjamin 4:3;
- 2 Korintiërs 7:10 is 'n aanhaling uit Gad 5:7;
- Efesiërs 5:6 het eerste in Naftali 3:1 verskyn.[11]
Latere geleerdes debatteer oor dié saak.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Charles, Robert Henry (1908). The Testaments of the Twelve Patriarchs, with introduction, notes, and indices. Londen: Adam and Charles Black.
- ↑ Charles, Robert Henry. Testaments of the Twelve Patriarchs. Vol. 26. pp. 666–668. This article, written by the author of the Encyclopædia Britannica, contains a detailed exegesis of the Testaments.
- ↑ J. Davila. "A Difficult Case: The Testaments of the Twelve Patriarchs Geargiveer 1 Julie 2016 op Wayback Machine." Summary of lecture delivered on Feb. 20, 1997. Accessed March 10, 2008.
- ↑ Sien byvoorbeeld: TJu 26.1, TZ 10.5, TD 5.1, TD 6.10, TN 8.10, TG 3.1, TJo 19.6
- ↑ Hollander, H.W. Joseph as an Ethical Model in the Testaments of the Twelve Patriarchs (Leiden, 1981).
- ↑ Kugel, James (2006). The ladder of Jacob : ancient interpretations of the biblical story of Jacob and his children. Princeton, N.J: Princeton University Press. ISBN 978-0-691-12122-2. OCLC 698590791.
- ↑ Kugel 2006, pp. 110.
- ↑ Kugel 2006, pp. 73–5.
- ↑ Kugel 2006, ch. 3.
- ↑ 10,0 10,1 "www.Bibler.org - Dictionary - Twelve Patriarchs; Testament of the". 15 Julie 2012.
- ↑ Use of the testament of the twelve patriarchs by the New Testament authors
Skakels
[wysig | wysig bron]- Testaments of the Twelve Patriarchs by newadvent.org
- Testaments of the Twelve Patriarchs. In James Crossley en Alastair Lockhart (reds.), Critical Dictionary of Apocalyptic and Millenarian Movements.
- Jewish Encyclopedia: Testaments of the Twelve Patriarchs
- Bibler.org - Genesis 49
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.