Gaan na inhoud

Veenmos

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Veenmos
'n Klos Sphagnum, veenmos
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Divisie:
Klas:
Sphagnopsida
Subklas:
Sphagnidae
Orde:
Sphagnales
Familie:
Sphagnaceae
Genus:
Sphagnum
Spesies

Sphagnum affine
Sphagnum apiculatum
Sphagnum auriculatum
Sphagnum balticum
Sphagnum capillifolium
Sphagnum compactum
Sphagnum cuspidatum
Sphagnum cymbifolium
Sphagnum fallax
Sphagnum fuscum
Sphagnum girgensohnii
Sphagnum magellanicum
Sphagnum majus
Sphagnum molle
Sphagnum palustre
Sphagnum papillosum
Sphagnum platyphyllum
Sphagnum riparium
Sphagnum rubellum
Sphagnum russowii
Sphagnum squarrosum
Sphagnum subnitens
Sphagnum subsecundum
Sphagnum warnstorfii
en baie ander

Sphagnum is 'n genus van tussen 150 en 350 mosspesies wat algemeen as veenmos bekend staan as gevolg van die voorkoms daarvan in veenland. Lede van die genus kan groot hoeveelhede water in hulle selle stoor; sommige spesies kan so veel as twintig keer hulle droë massa in water hou wat die rede is waarom veenmos algemeen as 'n grondbymiddel verkoop word.

Sphagnum en die veen wat daaruit gevorm word verval nie maklik nie, weens die fenoliese verbindings in die mos se selwande. Veenmos kan ook die omringende gebied suurder maak deur katione soos kalsium en magnesium op te neem en waterstofione vry te stel.

Geografiese verspreiding

[wysig | wysig bron]

Veenmosse kom hoofsaaklik in die Noordelike Halfrond voor waar verskillende spesies die boonste laag van veenlande en nat toendragebiede bedek. Die mees noordelike kolonies veenmos kom in die Svalbard-eilandgroep, Noorweë in die Arktiese gebied by 81° N voor.

In die Suidelike Halfrond is die grootste veenmosgebiede in Nieu-Seeland, Tasmanië en die heel suidelike dele van Chili en Argentinië. Die Suidelike Halfrond het egter minder spesies in vergelyking met die Noordelike Halfrond. Baie spesies word gerapporteer vir bergagtige, subtropiese gebied in Brasilië, maar daar bestaan heelwat onsekerheid aangaande die spesifieke status van baie daarvan.

Gebruike

[wysig | wysig bron]

Vervalle, saamgepersde Sphagnum-mos word veenmos genoem. Veenmos kan as 'n grond bymiddel gebruik word wat die grond se waterhouvermoë verbeter. Dit is dikwels nodig wanneer met besonder sanderige grond gewerk word of vir plante wat verhoogde voginhoud vereis om te floreer. Een so 'n groep is die karnivoriese plante wat dikwels in moerasgebiede aangetref word. Gedroogde Sphagnum-mos word ook in noordelike Arktiese gebiede as 'n isolasiemateriaal gebruik. Veenmos is ook 'n sleutel-element in die verbouing van sampioene; swamvlok groei in kompos met 'n laag veenmos bo-op waardeur die sampioene opkom.

Anaerobiese suur Sphagnum-veenlande is bekend daarvoor dat dit soogdierliggame, insluitend menseliggame, vir duisende jare baie goed kan bewaar. Voorbeelde van bewaarde liggame is Tollundman, Haraldskærvrou, Clonycavanman en Lindowman. Sulke Sphagnum-veenlande kan ook menslike hare en klere bewaar. Een van die vernaamste voorbeelde in die opsig is Egtvedmeisie in Denemarke.

Dit word ook soms in perdestalle as kooigoed gebruik. Verder word dit saam met perdemis vir bemesting gebruik.

Groot veenland naby Ottawa, Ontario, Kanada.

Meer onlangs is veenmos suksesvol aangewend as 'n bestanddeel in 'n "hoë-tegnologie" metode om ontslae te raak van behandelde riool van septiese tenks. Dit is belangrik want dit maak dit moontlik om septiese tenks te gebruik in gebiede wat die regte soort grond ontbreek.[1]

Sphagnummos word reeds vir eeue lank gebruik om wonde te behandel. Dit werk as gevolg van die mos se vermoë om bloed te absorbeer.

In Nieu-Seeland word die spesies sphagnum cristatum en sphagnum subnitens per hand geoes en wêreldwyd uitgevoer vir gebruik in hangmandjievoerings, as 'n groeimedium vir jong orgideë en vermeng met ander potplantmengsels om die waterretensie-vermoë daarvan te verbeter.

Dit kan ook gebruik word as 'n substraat vir die aanhou van tarantulas aangesien dit vir die spinnekoppe maklik is om hulle daarin in te grawe en dit geen insekdoders bevat wat die spinnekop sou doodmaak nie.

Lewenswyse

[wysig | wysig bron]

Die veenmosse plant sowel geslagtelik as ongeslagtelik voort. Soos by alle mosse wissel 'n geslagtelike en 'n ongeslagtelike generasie mekaar steeds af. Die ongeslagtelike stadium word deur spore verteenwoordig wat in 'n goed ontwikkelde, bolvormige sporekapsel ontwikkel. Wanneer dit ryp is, word die spore kragtig afgewerp.

Die spore groei tot 'n breë, plat protonema (voorkiem) uit, wat aan die onderkant baie wortelagtige hegorgane (risoïede) het. Uit die voorkiem ontwikkel die eintlike mosplant, wat na verloop van tyd geslagsorgane vorm. Afhangende van die spesie ontstaan (manlike) anteridia en (vroulike) argegonia op dieselfde plant of op 2 afsonderlike individue. Na bevrugting van die eiersel ontwikkel die argegonium tot 'n nuwe spoorkapsel, waardeur die siklus voltooi is.

'n Aantal veenmosspesies kan in enige nat omgewing groei en is gevolglik baie algemeen, maar die meeste spesies het 'n spesifieke omgewing nodig. Veral die voedselrykheid (trofiese graad) van die staanplek is belangrik. Die verskillende soorte veen loon ook almal hul eie kenmerkende veenmosflora; op rietvene, rietlande, jong veenmoerasse, moerasagtige heidevelde en in turfgate word tel kens ander spesies aangetref.

Bowendien toon die meeste mosplantegroei 'n duidelike opvolging. Namate die veen ontwikkel en dus suurder word, word nuwe spesies gevestig, terwyl ander verdwyn. Vanweë die drooglegging van moerasse en die grootskaalse ontginning van moerasagtige gebiede, het die aantal voedselarme vene in Europa baie afgeneem en gevolglik het die aantal plante van die bepaalde omgewing ook seldsaam geword. Lewende veenmoerasse kom nog net sporadies voor. Die dikwels ongeoorloofde opgrawery van veenmosse vir gebruik deur bloemiste en tuiniers is nog 'n bedreiging vir hierdie plante en die ekologie.

Bewaring

[wysig | wysig bron]

Grootskaalse oes van veen is nie onderhoubaar nie. Dit neem duisende jare om die veenblokke wat in slegs een week geoes word te produseer. Die ontginning van groot hoeveelhede veen is veral 'n bedreiging vir hoogliggende veenlande.[2]

In sommige lande word sphagnummos, eerder as veen, op volhoubare metodes ontgin. In die geval word genoeg mos gelaat om dit toe te laat om weer te herstel. Die mos word dan in drie-jaarsiklusse geoes. As genoegsame mos nie agtergelaat word nie kan die moeras tot 'n dekade neem om te herstel. In Nieu-Seeland word die soort oes van mos met slegs tuinvurke en sonder swaar masjinerie gedoen. Helikopters word ook gebruik om die nuutgeoesde mos van die moeras na die naaste pad te vervoer om skade aan ander komponente van die ekostelsel te beperk.

Die grootste gevaar vir die voortbestaan van sphagnummosmoerasse is die opsetlike drooglegging daarvan om meer landbougrond te verskaf.

Gesondheidsgevare

[wysig | wysig bron]

Sphagnummos kan potensieel die kroniese swamsiekte sporotrichosis veroorsaak. Sporothrix schenckii spore dring die vel binne deur skaaf of krapplekke en ander kleiner wonde gedurende onbeskermde kontak met Sphagnummos.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Sien byvoorbeeld die Puraflo® passiewe afvoerwater-biofilterstelsel by Bord Na Mona – Environmental Products U.S. Inc.
  2. "Die ipcc.ie webwerf". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2007. Besoek op 5 Augustus 2007.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]