Gaan na inhoud

Vincent van Gogh

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vincent van Gogh

Selfportret (1886)
Geboortenaam Vincent Willem van Gogh
Gebore (1853-03-30)30 Maart 1853
Zundert, Nederland
Sterf 29 Julie 1890 (op 37)
Auvers-sur-Oise, Frankryk
Nasionaliteit Vlag van Nederland Nederland
Veld Skildery, tekening
Opleiding Anton Mauve
Beweging Post-Impressionisme
Werke Bedroom in Arles, 1888
Tournesols, 1888
De sterrennacht, 1889
Portret van Dr. Gachet, 1890
Sien, 1882–1883

Vincent Willem van Gogh (30 Maart 185329 Julie 1890) word aanvaar as die beste Nederlandse skilder naas Rembrandt van Rijn, alhoewel hy slegs een skildery tydens sy eie leeftyd verkoop het. Hy het al sy werk - 'n indrukwekkende totaal van 900 skilderye en 1100 sketse - geproduseer gedurende 'n periode van slegs die dekade voor sy selfmoord (waarskynlik weens 'n bipolêre gemoedsversteuring). Na sy dood, met behulp van die uitstalling van 71 van sy werke in Parys, op 17 Maart 1901, het sy roem vinnig toegeneem.

Van Gogh se invloed op ekspressionisme, fauvisme en die vroeë abstrakte beweging was enorm. Die Van Goghmuseum in Amsterdam is opgedra aan sy werk en dié van sy tydgenote. Ook die Kröller-Müllermuseum in Otterlo (ook in Nederland), het aansienlik baie van sy werk.

Verskeie van sy skilderye is onder die duurste in die wêreld. Drie van hulle is die Portret van Dokter Gachet, Irisse en Portret van die kunstenaar sonder baard.

Sy lewe en sy werk

[wysig | wysig bron]
Irisse (1890)
Die aartappeleters (1885)
Kafeeterras in die aand (1888)

Vincent van Gogh is gebore in Zundert, Nederland, as die seun van Anna Cornelia Carbentus en Theodorus van Gogh, 'n Protestantse predikant. Later het sy suster hom as 'n ernstige en introspektiewe kind beskryf.

Sy broer Theo was vier jaar jonger as hy, maar hulle was baie naby aan mekaar. Theo het dwarsdeur Vincent se lewe hom finansieel ondersteun. Die groot volume van hul briefwisseling is in 1914 publiseer.

Nadat hy aanvanklik vir 'n kunsfirma gewerk het, wat hom eers na Londen, en toe na Parys verplaas het, het hy 'n onderwysersassistent geword, en toe na Amsterdam teruggekeer om teologie te studeer.

'n Jaar later, in 1878, het hy opgeskop, en toe 'n lekepredikant geword in België in 'n arm myngemeenskap. Hy is na ses maande laat loop. Tydens hierdie tydperk het hy begin om houtskoolsketse te maak.

In 1880, op aandrang van sy broer, het hy voltyds begin skilder.

In 1881 het hy verlief geraak op sy weduwee-niggie Kee Vos, maar sy wou niks van hom weet nie. Later het hy ingetrek by 'n straatvrou, Sien Hoornik, en haar kinders. Hy wou met haar trou, maar sy pa was streng hierteen gekant, en ook Theo het hom hiervan afgeraai. Hulle is later toe wel uitmekaar uit.

Aanvanklik het hy konsentreer op die skilder van arbeiders en plattelandse landskappe. later het hy Japannese kuns ontdek, en 'n paar skilderye in hierdie styl geverf.

In die lente van 1886 het Van Gogh saam met sy broer Theo in 'n huis op Montmartre, te Parys, ingetrek. Hier het hy skilders soos Edgar Degas, Camille Pissarro, Émile Bernard, Henri de Toulouse-Lautrec en Paul Gauguin leer ken. Hy het deur hulle die Impressionisme ontdek, en veral van puntillisme leer hou.

In 1888, verlaat hy Parys en trek na Arles, in Bouches-du-Rhône, Frankryk. Hy het baie van die landskap daar gehou, sy geel huis geverf en ander kunstenaars soontoe genooi. Net Paul Gauguin het daarop gereageer, en in 'n gees van wedersydse bewondering het hulle 'n rukkie saamgewerk. Toe hulle stry kry, het Van Gogh 'n deel van sy linkeroor afgesny en dit aan 'n onthutste straatvrouvriendin gegee. Op dié tydstip het hy opgehou met kolletjies verf en begin om klein strepies te maak.

Hy het erg aan depressie begin ly, en hy is in 1889, op eie versoek, in die gestig te Saint Remy de Provence, Bouches-du-Rhône, Frankryk, opgeneem. Tydens sy verblyf het die hospitaal en die hospitaaltuin sy onderwerpe geword, en het sy strepies vir warrelinge plek gemaak.

In Mei 1890 het hy die hospitaal verlaat en die sorg van 'n dokter, Paul Gachet, in Auvers-sur-Oise naby Parys, opgesoek. Dit het hom ook afstandsgewys nader aan sy broer, wat kort tevore getroud is, gebring. Gachet is deur Pissarro aanbeveel; hy het al heelwat kunstenaars behandel. Die enigste ets wat van Gogh ooit gemaak het, is van die melankoliese Gachet gedoen. Van Gogh se depressie het vererger, en op 27 Julie, op die ouderdom van 37 jaar, na 'n sessie van intense skilderwerk, het hy homself in die borskas geskiet. Twee dae later is hy dood, met sy geliefde broer Theo aan sy sy. Theo het vertel dat sy laaste woorde was "La tristesse durera toujours" of "Treurigheid sal vir altyd duur". Hy is in die begraafplaas van Auvers-sur-Oise begrawe; Theo sterf net ses maande later, nie in staat om oor die dood van sy broer te kom nie. Op sy vrou se versoek is Theo langs Vincent begrawe.

Van Gogh het net een van sy skilderye tydens sy leeftyd verkoop. Die Rooi Wingerd, geskilder in 1888, word tans vertoon in die Pushkinmuseum in Moskou, Rusland.

Sy roem het baie vinnig daarna gegroei: groot uitstallings is kort na sy dood begin hou: in Parys 1901, Amsterdam 1905, Keulen 1912, New York 1913, en Berlyn 1914.

Befaamde skilderye

[wysig | wysig bron]

† verwys na skilderye wat onlangse rekordhouers is vir die duurste skilderye ooit.

Van Gogh se invloede

[wysig | wysig bron]
  • Skool in Den Haag
  • Die skilder Jean-François Millet (1814-1875). Hy het ook op die arbeiderslewe gekonsentreer.
  • Die skrywer Émile Zola (1840-1902). Van Gogh het sy romans baie bewonder.
  • Japannese houtblokafdrukke.
  • Die Impressionisme, veral die puntilliste Georges Seurat (1859-1891) en Paul Signac (1836-1935).
  • Paul Gauguin (1848-1903)

Galery

[wysig | wysig bron]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.