Gaan na inhoud

Wes-Kaap

Koördinate: 34°S 20°O / 34°S 20°O / -34; 20
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Provinsie Wes-Kaap
iPhondo leNtshona-Koloni
Western Cape Province

Vlag

Wapen
Oppervlakte 129 462 km² (10,6% van S.A. oppervlakte,
4de grootste)
Bevolking (2011-sensus) 5 822 734[1]
Bevolking
(2020-skatting)
Geranglys 3de in S.A.
7 005 741
BBP 14,6% van S.A. BBP
Amptelike tale[1] Afrikaans (49,7%), Xhosa (24,7%), Engels (20,2%)
Etniese groepe[1] Bruin mense (48,8%),
Swart mense (32,8%),
Wit mense (15,7%),
Asiate (1,0%)
Hoofstad Kaapstad
Ander belangrike nedersettings Genadendal, Hermanus, George, Knysna, Stellenbosch, die Paarl, Wellington, Worcester, Robertson, Swellendam, Oudtshoorn, Saldanha, Vredenburg, Malmesbury, Somerset-Wes
Premier Alan Winde (DA)

Die Wes-Kaap (Engels: Western Cape, Xhosa: Ntshona-Koloni) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad en grootste nedersetting is Kaapstad. Dit het in 1994 'n afsonderlike provinsie geword toe die ou Kaapprovinsie in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap verdeel is. Die Prins Eduard-eilande, bestaande uit die Prins Eduard-eiland en Marion-eiland in die suidelike Indiese Oseaan, maak deel uit van die provinsie Wes-Kaap.

Kaapstad, met die N2-snelweg in die voorgrond
Wingerde in Constantia naby Kaapstad

Kaapstad is ook Suid-Afrika se moederstad en wetgewende hoofstad en huisves die imposante Parlementsgebou. Die Kaapstad-hawe (vroeër Tafelbaaihawe) is die naasbesigste hawe in die land (ná die Durban-hawe).

Ander belangrike plekke is onder meer Stellenbosch, die Paarl, Beaufort-Wes, George, Knysna, Oudtshoorn, Saldanha, Vredenburg, Worcester, Malmesbury, Mosselbaai en Vredendal.

Demografie

[wysig | wysig bron]
Meerderheidstale in die Wes-Kaap:

   Afrikaans

   Engels

   Xhosa

   Geen meerderheidstaal

Bevolking (2011-sensus): 5 822 734. Tale: Afrikaans (49,7%), gevolg deur Xhosa (24,7%) en Engels (20,2%). Volgens Statistiek Suid-Afrika se raming in 2017 het die Wes-Kaap se bevolking 6,51 miljoen beloop, oftewel 10,8% van die land se totaal.

Geografie

[wysig | wysig bron]
Uitsig oor Kaapstad en die Tafelberg

Die provinsie met 'n oppervlakte van 129 390 vierkante kilometer lê in die suidweste van die land, met die Atlantiese Oseaan aan sy westekant en die Indiese Oseaan in die suide. Die Noord- en Oos-Kaap lê onderskeidelik noord en oos. Die gebied om Kaapstad is 'n winterreëngebied, terwyl die suidelike deel langs die Indiese Oseaan die hele jaar deur reën ry. 'n Deel van die barre Groot Karoo lê in die Wes-Kaapse binneland. 'n Ketting van bergreekse (die Kaapse Plooigordel) waaronder die Sederberg, Hexrivierberge, die Outeniekwaberge en die Tsitsikammaberge skei die kusgebiede en die binneland.

Wet en regering

[wysig | wysig bron]
Setel van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement in Kaapstad

Die hoofstad van die Wes-Kaap is Kaapstad en die premier is Alan Winde. Die Grondwet van die Wes-Kaap is in 1998 aanvaar en in al drie amptelike tale van die provinsie (Afrikaans, Engels en Xhosa) beskikbaar.

Die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement is ook in Kaapstad en dit voer die wetgewing volgens die provinsiale belange, wat in die Grondwet van Suid-Afrika bepaal is, deur, onder meer op die gebied van landbou, onderwys, omgewingsake, gesondheidsorg, behuising, taalbeleid, toerisme, handel en welvaart. In 2020 is die setelindeling in die Wes-Kaapse parlement: Demokratiese Alliansie 24, African National Congress 12, EFF 2, GOOD 1, ACDP 1, VF Plus 1 en Al Jama-ah 1.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Die Wes-Kaap is 'n belangrike sentrum vir handel, nywerhede en die landbou en 'n vername wynproduserende streek. Benewens druiwe, word ander vrugte asook groente gekweek. Noord en oos van Kaapstad is koring 'n belangrike gesaaide. Vissery is die belangrikste bedryf langs die Weskus, en in die Karoo word met skape geboer. Toerisme is ekonomies van die uiterste belang in die Wes-Kaap. Oudtshoorn is volstruiswêreld en huisves die skouspelagtige Kangogrotte.

Gedrukte media

[wysig | wysig bron]
Die Media24-sentrum in Kaapstad waarin Naspers se hoofkantoor gesetel is.

Die Wes-Kaap beskik in 2008 oor ses dagblaaie, waarvan drie in Engels, twee Afrikaans en een tweetalig Engels en Afrikaans was. Die vier Engelse of deels Engelse dagblaaie het meer te make met die stryd om die massamark op veral die Kaapse Vlakte as met die demografie van die provinsie. Tot omstreeks 1950 het die provinsie 'n Afrikaanse oggend- en middagblad (Die Burger en Die Suiderstem) asook 'n Engelse oggend- en middagblad (die Cape Times en die Cape Argus) gehad. Vroeg in die een-en-twintigste eeu tref die verskynsel van poniekoerante, geheel en al geskoei op die Britse lees, Suid-Afrika toe Naspers die Daily Sun in Gauteng van stapel laat loop en later ook Die Son in Kaapstad (as weekblad). Die Son het later 'n dagblad geword, toe Independent News & Media met sy eie poniedagblad vorendag gekom het, die Daily Voice. As teenvoeter hiervoor, laat loop Media24 die Engelse, daaglikse Cape Son van stapel. Intussen het Daily Voice agtergekom die werkersklas waarop die koerant gemik is, is oorweldigend Afrikaanssprekend en pas hulle die inhoud van die koerant aan om baie meer Afrikaans te bied.

Elke groot dorp in die suidwestelike gedeelte van die provinsie het sy eie Media24-weekblad, ná die groep mettertyd al die geslaagde, onafhanklike weekblaaie op die platteland uitgekoop het. Hulle is:

Media24 het koerante wat hulle eie drukkery besit het en daar gedruk het, soos op Vredenburg en Worcester, mettertyd verplig om dit te sluit en gebruik te maak van die geriewe by Paarl Print in die Paarl, wat teen groot koste opgerig is en sonder die samewerking van al die gemeenskapskoerante in die Boland-groep nie sy volle kapasiteit sou benut nie.

Enkele van die oorblywende, onafhanklike weekblaaie op die platteland is Ons Kontrei op Vredendal, wat in die munisipale gebiede Matzikama en Cederberg versprei word, en Tempo, wie se hoofkwartier ook op Vredendal is, maar wat van Darling tot op Vanrhynsdorp en in die munisipale gebied Saldanhabaai versprei word.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 (en) "2011-sensus" (PDF). Statistiek Suid-Afrika. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 13 November 2015. Besoek op 13 November 2015.

Bronne

[wysig | wysig bron]


Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]


Amptelike simbole van die provinsie Wes-Kaap

Blom: Boom: Voël: Dier:
die bakkiesblom die silwerboom die Kaapse suikervoël die bontebok
Disa unflora Leucadendron argenteum Promerops cafer Damaliscus pygarus
Provinsies van Suid-Afrika Vlag van Suid-Afrika
Gauteng | KwaZulu-Natal | Limpopo | Mpumalanga | Noord-Kaap | Noordwes | Oos-Kaap | Vrystaat | Wes-Kaap


Vlag van Suid-Afrika

Provinsie Wes-Kaap

Hoofstad:

Kaapstad

Streke:

Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Sentraal Karoo | Overberg | Tuinroete | Weskus

Grootste stede en dorpe:

Kaapstad | George | Mosselbaai | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Vredenburg | Worcester

Munisipaliteite:

Beaufort-Wes | Bergrivier | Bitou | Breedevallei | Kaap Agulhas | Cederberg | Drakenstein | George | Hessequa | Kaapstad | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Prins Albert | Saldanhabaai | Sentraal Karoo | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Tuinroete | Weskus | Witzenberg

34°S 20°O / 34°S 20°O / -34; 20