Gaan na inhoud

Willem Anker

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Willem Anker
Gebore3 Februarie 1979 (1979-02-03) (45 jaar oud)
NasionaliteitSuid-Afrikaans
BeroepSkrywer
Bekend virRomans, teaterstukke
TitelDr.

Dr. Willem Anker is 'n Afrikaanse romanskrywer, dramaturg en akademikus.[1] In 2004 skryf hy die teaterstuk, Skroothonde, wat die Aartvarkprys by Aardklop vir innoverende werk wen. In 2006 ontvang hy die Sanlamprys vir Afrikaanse toneel vir sy teks, Slaghuis. Sy eerste roman, Siegfried (2007), is met die UJ-prys vir debuutwerke sowel as die Jan Rabie/Rapportprys bekroon. Sy roman Buys (2014) is ook goed ontvang en is met die WA Hofmeyr-, UJ- en kykNET-Rapport-pryse en in 2016 met die Hertzogprys bekroon.[2]

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Hy is die oudste kind en enigste seun van Johan Anker, wat later professor word aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Op driejarige ouderdom verhuis die gesin na Wellington, waar hy in 1996 aan die Hoërskool Hugenote matrikuleer. Na skool werk hy vir 'n ruk by 'n vriendin se pa as angorahaar-wewer Hy studeer verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1999 'n B.A.-graad met Afrikaans, Engels en Filosofie as hoofvakke en daarna 'n B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands behaal. In sy studentejare werk een Desembervakansie deeltyds as kroegman by die Mexican Kitchen. In 2003 behaal hy 'n M.A.-graad in Kreatiewe Skryfwerk onder Marlene van Niekerk (waar die roman wat later “Siegfried” sou word deel van sy projekte is), waarna hy vir drie maande oorsee gaan en onder andere in Edinburg in Skotland as sekuriteitswag en vir twee dae by 'n verhuisingsbesigheid werk. By sy terugkeer na Suid-Afrika doseer hy kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch terwyl hy terselfdertyd besig is met sy D.Litt.-graad in Afrikaanse Letterkunde. Hy behaal dan ook hierdie graad in 2007 met 'n verhandeling oor “Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach”.[3] Hy skryf die skoolhandboek “Trefkrag” vir Afrikaanse huistaalleerlinge en lewer gereelde bydraes vir Die Burger se boekebylae. Hy is getroud met Christine Truter en bly op Stellenbosch.[4]

Skryfwerk

[wysig | wysig bron]

As dramaturg is hy verantwoordelik vir die teks van die toekomsdrama “Skroothonde”, wat in 2004 die Beeld Plus Aartvark-prys op Aardklop verower en letterlik in 'n skrootwerf afspeel. Die aarde is verwoes deur die mens se obsessiewe drang om alles te verbruik wat die aarde het om te offer. Ironies genoeg is die mees beskikbare kommoditeit petrol, die ontginning waarvan die aarde se natuurlike hulpbronne vernietig het. Die groep mense wat in die skrootwerf woon het geen ander heenkome nie, maar droom tog van 'n beter bestaan. Saam met Tertius Kapp skryf hy ook die teks van “Sielsiek[5] wat in 2006 by Aardklop opgevoer word.[6] Dit is 'n ruimtelike teaterstuk wat binne 'n sielsiekegestig afspeel, met die probleme en kwessies waarmee die inwoners worstel wat 'n mikrokosmos van die kontemporêre samelewing voorstel. Een van die karakters dien as gids wat die gehoor van een lokaal en toneel na die volgende begelei. “Slaghuis[7] is 'n drama wat die werke en karakters van Etienne Leroux as verwysingsraamwerk gebruik. Leroux probeer om sy laaste boek klaar te skryf, maar word kort-kort deur die karakters van sy vorige romans lastig geval. In 'n Walpurgisnag word Leroux deur sy eie karakters afgeslag. In 2006 word “Slaghuis” na geslaagde opvoering by die Aardklop Kunstefees met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater bekroon. “Sakrament” maak sy buiging in 2009 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Hierin gee Anker 'n apokaliptiese visie van die gewelddadige Suid-Afrika, met verwysings na die Griekse tragedies (onder andere “Die Bacchant” van Euripides). Die hoofkarakter is 'n oud-misdaadjoernalis wat geknak het onder die wreedheid waarmee hy daagliks gekonfronteer is en nou sy ou koerantstories oorvertel, elke keer meer gewelddadig. As laaste sakrament gee hy hom oor aan die ergste wreedheid denkbaar. Sy naam is ook Dionusos, die Griekse god van oorgawe aan chaos. “Skrapnel[8][9] is 'n opdragwerk vir die Aardklop Kunstefees. Hierin sterf die 22-jarige Suid-Afrikaner Christiaan Rudolph de Wet Botha (Chris), wat in 2005 op 'n werksvakansie in Londen is, tydens die bomaanvalle op Londen se bus- en moltreinstelsels. Die drama ondersoek die doelloosheid van die jongmense se lewens, met geen visie en standvastigheid nie. Hierdie posisie word op ironiese wyse gekontrasteer met die bomaanvaller se doelgerigtheid. Die skrapnel-motief hou nie net met die ontploffing tydens die aanval verband nie, maar belig ook die skrapnel van Chris se lewe as voorbeeld van die fragmente van die doellose lewe van 'n ontheemde generasie. Anker ontvang in 2009 by Aardklop die AngloGold Ashanti Aardklop-Smeltkroesprys vir die teks van “Skrapnel” en hierdie drama wen ook in 2010 die ATKV se prys vir dramatekste. By die Woordfees van 2010 kry hy die tweede prys vir 'n drama vir “Skrapnel”. Hierdie drama word later gepubliseer, nadat die dramaturg die teks grondig hersien het en byvoorbeeld die hoofkarakters vervang het met X en Y, wat die naamloosheid en gebrek aan identiteit van hulle lewens verder beklemtoon. “Samsa-masjien[10] wen in 2012 die ATKV-prys vir 'n dramateks. Dit is 'n drama oor die verlies aan taal, oudword, aftakeling en afskeid, wat met galgehumor aangebied word. Die drama tree in gesprek met Franz Kafka se “Metamorphosis”. In Kafka se verhaal ontdek Gregor Samsa een oggend dat hy in 'n insek verander het, vir wie almal gril en waarvan almal ontslae wil raak. Slegs sy suster Grete is simpatiek, maar sy draai ook teen hom wanneer hy haar vioolkonsert ontwrig. In Anker se verhaal woon Gregor Samsa en sy vrou Josefine by hulle dogter Grete, 'n kopieskrywer, en haar man Tjaart, 'n psigiater. Gregor is obsessief oor insekte en oor klank, veral die klank van insekte en van voertuie, wat hy op band opneem saam met gesprekke, ook van sy oorlede seun. Hy word stelselmatig al meer soos 'n insek, wat deur die sielkundiges en psigiaters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementia-lyers. Die karakters se familie-verhoudings in die verlede was disfunksioneel. Dit lei tot 'n gebrek aan kommunikasie en intimiteit tussen die karakters, wat gedurig by mekaar verbypraat en eindelik  bly slegs die klank van Gregor se deurmekaar band oor as simbool van wankommunikasie. Tesame met die verlies aan taal is daar ook die disintegrasie van verhoudings. Hierdie drama word in 2014 vir ses Kanna-toekennings[11] benoem (waarvan dit vier wen) na opvoering daarvan by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn. Dit word daarna ook benoem vir ses Fiësta-toekennings.

Anker vertaal die drama “Crave” van die Britse dramaturg Sarah Kane, wat as “Smag” op kunstefeeste opgevoer word. Manfred Karge se drama van 'n vrou wat haar man se rol na sy dood moet oorneem vertaal hy as “As die broek pas” en dit maak sy debuut by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2010. By die Woordfees van 2010 kry hy die eerste prys vir 'n drama vir “As die broek pas”, terwyl die tweede prys toegeken word aan “Skrapnel”. By dieselfde geleentheid kry hy ook die tweede prys as woordkunstenaar.

Sy eerste roman, “Siegfried”,[12] is 'n eksperimentele roman met as hooffiguur die dertigjarige Siegfried Landman, 'n verstandelik gestremde wat na sy pa se dood moet oorleef in 'n wrede wêreld wat hy nie verstaan nie. Siegfried ly aan sindaktilie, 'n rare toestand waar die vingers en/of tone van die mens geweb is, sodat hy die voorkoms van 'n visman het – hierdie feit en sy van (Landman) is simbolies van die belangrike interaksie wat daar tussen Siegfried, die land en die see plaasvind. Die verhaal is vol verwysings na mites, soos dié van Atlantis en Richard Wagner se opera “Siegfried” en sy stryd teen die draak. Siegfried se reis en volwassewordingsproses tree in gesprek met die heldemites van weleer, waar die hoofkarakter vrees moet leer ken en oorkom. Onder die instruksies van sy pa onderneem hy saam met die bywoner Smit (wat hy Smet noem) 'n reis na Kaapstad, waarin sy volwassewordingsproses plaasvind. Hy neem ook 'n palmboompie saam om te gaan plant. Sy reis is onder streng instruksies om sy oom Bert Fischer in Atlantis te gaan opsoek, terwyl hy onderweg die palmboom by die reusepalms op die strandfront wil besorg. Die onmenslike ervarings waaraan Siegfried blootgestel word, stroop hom van alle waardigheid en hy beland eindelik weer by die uitgeworpe brugbewoners, wat hom verpleeg en versorg. Siegfried leer vrees ken, maar kan dit nie oorkom nie. Die Universiteit van Johannesburg-prys vir debuutwerk[13] en die Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende prosa word in 2008 aan “Siegfried” toegeken en in dieselfde jaar is hierdie boek op die kortlys vir die M-Net-prys.

In 2011 is hy die ontvanger van die Jan Rabie-Marjorie Wallace beurs vir skryfwerk,[14] om hom in staat te stel om sy tweede roman te skryf, waarin die grensboer Coenraad de Buys, gebore in 1761 en in die werklike lewe 'n adviseur van die Xhosa opperhoof Gaika en vriend van die sendeling Johannes Theodorus van der Kemp, die hoofkarakter is. Die roman word in 2014 onder die naam “Buys, 'n grensroman[15] gepubliseer. Die titel benoem die hoofkarakter van die roman as die fokuspunt uit wie se karakter en doen en late die onderliggende betekenis van die verhaal gevind kan word, met die subtitel wat reeds aanduidend daarvan is dat hier sprake is van vele grense waardeur gebreek word.[16] Die verhaal is beide 'n historiese roman wat as kern histories naspeurbare gegewens en karakters het, maar is ook 'n roman waarin Buys in sy alter ego as Alom-Buys soms die rol van alwetende verteller en skakel tussen hede en verlede speel.[17] Buys is 'n rebel wat teen feitlik alles in opstand kom en hom van die gemeenskap onttrek, om later as struikrower 'n bestaan te maak. Na die skielike dood van sy pa durf die agtjarige jong seun Buys die buitewêreld aan en bly eers by sy halfsuster Geertruy aan die ander kant van die familieplaas. Daarna trek hy na die oosgrens waar hy met 'n wit en 'n swart vrou trou en dan albei verlaat. Met sy betrokkenheid in misdaad word hy later vergesel deur allerlei meelopers, veral uitgeskoptes uit die samelewing. Die roman verken onder andere die soeke na die self in 'n wêreld oorheers deur magsug en korrupsie en gevul met geweld, as vernaamste uiting van selfgelding.[18] Op vernuftige wyse word die gebeure ook in verband gebring met eietydse gebeure, wat aan die verhaal 'n universele impak gee. In 'n wêreld waar identiteit en samehorigheid deurgaans die maatstaf is en was, is Buys iemand wat soomloos oor rassegrense, taalgrense, morele grense en fisiese grense beweeg en inderdaad rebelleer teen alle grense wat hy teenkom. Hy verset hom teen alle vorms van mag en onderdrukking, maar maak hom terselfdertyd skuldig aan buitensporige geweld, misbruik van mag en die mishandeling en onderdrukking van andere. Só verpersoonlik hy die mens se totale oorgawe aan die donker kant van die psige, waar die dierlike (in hierdie roman gesimboliseer deur die hond) oorheers. “Buys, 'n grensroman” word in 2015 bekroon met die Universiteit van Johannesburg-prys, die W.A. Hofmeyr-prys en die KykNet-Rapportprys vir fiksie.

In 2016 word die werk ook bekroon met die Hertzogprys, Suid-Afrika se mees prestigeryke letterkundige prys vir Afrikaanse werk; die Engelse vertaling daarvan, "Red Dog" (Die vertaler is Michiel Heyns), word in 2020 op die langlys vir die Bookerprys geplaas. Anker en Heyns word sodoende die eerste Suid-Afrikaners wat in die prys se huidige formaat daarvoor benoem word.[19]

Eerbewyse

[wysig | wysig bron]

In 2016 word hy by die KKNK[20] vereer met 'n Afrikaans Onbeperk-prys.[21]

Willem Anker het in 2015 die UJ-prys en in 2016 die Hertzogprys gewen vir sy roman Buys, 'n grensroman.

In 2021 wen hy die UJ-prys vir Skepsel.

Publikasies

[wysig | wysig bron]
  • 2000 Slaghuis
  • 2007 Siegfried
  • 2011 Skrapnel
  • 2014 Buys, 'n grensroman
  • 2015 Samsa-masjien
  • 2020 Skepsel

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Profiel op nb.co.za Geargiveer 27 Maart 2016 op Wayback Machine, besoek op 6 Februarie 2016]
  3. NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/2816 Geargiveer 27 Maart 2016 op Wayback Machine
  4. Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Willem_Anker
  5. Müller, Freddie “Spat” 29 September 2006
  6. LitNet: http://www.litnet.co.za/author/willem-anker/
  7. Bouwer, Anna-Retha “Beeld” 29 September 2006; Müller, Freddie “Spat” 29 September 2006
  8. Bouwer, Anna-Retha “Plus” 3 Oktober 2009
  9. Krüger, Lida “Tydskrif vir Letterkunde”, Jaargang 49 no. 1, Herfs 2012
  10. Crous, Marius “Beeld” 22 Junie 2015
  11. Pople, Laetitia “Kanna-pryse vir jonges” “Beeld” 13 Mei 2014
  12. Hambidge, Joan “Rapport” 11 November 2007; Pienaar, Vincent “Beeld” 10 Desember 2007
  13. Kitshoff, Suné “Debuut met ‘Siegfried’” “Plus” 25 Oktober 2007
  14. Rautenbach, Elmari “Anker is ‘nog oorbluf’ oor groot beurs” “Beeld” 15 Desember 2011
  15. Botha, Frederick J. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 52 no.2 Vierde reeks Lente 2015
  16. Human, Thys “Beeld” 10 November 2014
  17. Malan, Rian “Rapport” 7 Desember 2014
  18. De Kock, Leon “Weet jy van die mans in Buys se bed?” “Rapport” 25 Januarie 2015
  19. https://johannesburgreviewofbooks.com/2020/02/27/the-jrb-daily-2020-international-booker-prize-longlist-announced-including-south-african-author-willem-anker-for-his-novel-red-dog-translated-by-michiel-heyns/ Opgespoor en besoek op 16 Oktober 2020
  20. Anker, Willem “Wie nie waag nie, wen nie pryse nie” “Rapport” 22 November 2015
  21. KKNK: http://kknk.co.za/2015/11/24/willem-anker/ Geargiveer 5 Maart 2016 op Wayback Machine