Gaan na inhoud

Lotarius I

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Lotarius I 795 - 29 September 855 was 'n Karolingiese keiser wat oor die Midderyk geheers het. Hy was Lodewyk die Vrome se oudste seun en Karel die Grote se kleinseun.

Sy pa Lodewyk was 'n swak heerser. Hy het Lotarius in 817 tot medekeiser gemaak en sy jonger broers Pepyn en Lodewyk tot konings van Akwitanië en wat nou Duitsland is. In 819 hertrou Lodwyk met Judith uit die Welf-familie en in 823 word 'n halfbroertjie gebore, Karel, wat later die naam Karel die Kaalkop sal kry. Die verdeling van die erfenis moet nou verander word en in 830 lei dit tot 'n burgeroorlog wat tien jaar duur en die Vikings die kans gee om die keiserlike gesag verder te ondergraaf. In 833 neem Lotarius sy pa gevange en verneder hom vier maande lank. In 838 sterf Pepyn van Akwitanië en kry Karel hierdie gebied, hoewel Pepyn 'n seun het (Pepyn II) wat ook sy deel opeis. Ná Lodewyk se dood op 20 Juni 840 breek oor die erfenis opnuut 'n oorlog tussen die broers uit. [1] In 841 beveg Lodewyk die Vrome se seuns mekaar in die slag van Fontenoy.[2] Die slag is onbeslis, maar Lotarius se poging om sy broers te onderwerp faal. Op 14 Februari 842 sweer sy twee broers naby Straatsburg 'n eed om mekaar te help en Lotharius moet met die Verdrag van Verdun in Augustus toestaan dat die ryk in drie dele verdeel word.

Karel die Kaalkop kry die westelike deel, Lodewyk die Duitser die oostelike. Lotarius se deel bestaan uit die huidige Nederland, België, die Ryn se linkeroewer in Duitsland, die ooste van Frankryk (Elsas, Lotaringe), die weste van Switserland en die noorde en midde van Italië tot aan die grens met die vorstedom Benevento. Hierdie ryk het net vyftien jaar bestaan omdat dit onder Lotarius se seuns opnuut in drie dele verdeel is. Lotarius I het nooit die suidelike deel van sy ryk aan die suidkant van die Alpe besoek nie. Hy het reeds in 844 sy oudste seun Lodewyk as onderkoning Italië toe gestuur en in April 850 het hy vir hom medekeiser gemaak. [1]

Familie

Sy vrou was Irmingard, die dogter van Hugo van Tours (uit die Etichoniede-huis) [3] Hy het drie seuns: Lodewyk II, wat Italië en die keisertitel erf, Lotarius II wat die gebied van Friesland to die Alpe erf en Karel van Provence. Hy het ook 'n dogter Rotrud

Wetgewing

In Lotarius se tyd begin mense opnuut om woude te kap en in landbougebied om te sit. Aanvanklik word vuur gebruik, omdat dit vinnig werk, maar dit is ook gevaarlik en verkwistend. In 840 verbied Lotarius dit en dreig om oortreders met loesing of die skeer van hul kop te straf. Hulle moet die byl gebruik. [4]

Religie

In sy laaste jare keer Lotarius hom na sy geloof. In 852 skenk hy pragtig versierde reliekwieëkassies en relikwieë aan die klooster van Prüm. In 855 abdikeer hy en tree toe tot hierdie klooster. [2] Hy skryf ook aan Hrabanus Maurus, die aartsbischop van Mainz en 'n beroemde teoloog om vir hom 'n kompendium te skryf met homilieë -kort preke- vir elke dag van die jaar, wat hy kan saamneem op reis en elke dag tydens die maaltyd voorgelees kan word.[5]

Verwysings

  1. 1,0 1,1 Medieval European Coinage: Volume 1, The Early Middle Ages (5th-10th Centuries), Philip Grierson, Mark Blackburn, Cambridge University Press, 2007, ISBN 052103177X, ISBN 9780521031776
  2. 2,0 2,1 Religious Franks, Rob Meens, Oxford University Press, 2016, ISBN 0719097630, ISBN 9780719097638
  3. Ius hereditarium Encountered I: The Meingaud-Walaho Inheritance, Donald C. Jackman, 2010, ISBN 193646652X, ISBN 9781936466528
  4. The Middle Ages: A Very Short Introduction Miri Rubin, OUP Oxford, 2014, ISBN 0191019550, ISBN 9780191019555
  5. The Uses of the Past in the Early Middle Ages, Sjabloon:Outeurs, Cambridge University Press, 2000, ISBN 0521639980, ISBN 9780521639989