Gaan na inhoud

Almagest

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie



Die Ptolemeïese stelsel of wêreldmodel. Afbeelding uit Andreas Cellarius se Harmonia Macrocosmica (1660/61)

Almagest


Skrywer



Claudius Ptolemeus (omstreeks 100-180)


Die 13 boeke van die Almagest

Almagest (Grieks: μαθηματική σύνταξις, Arabies: المجسطي al-maǧisṭī) is 'n wiskundige en sterrekundige verhandeling in dertien boekdele wat in die 2de eeu deur die Hellenisties-Griekse geleerde Claudius Ptolemeus in die destydse Romeinse provinsie Egipte saamgestel is. Almagest bevat 'n beskrywing van die heelal se geosentriese stelsel en 'n sterrekatalogus.

Almagest is nie net een van die hoofwerke van die antieke sterrekunde nie, maar word as een van die invloedrykste wetenskaplike tekste beskou wat ooit geskryf is. Die geosentriese model, wat sy oorspronge in die Hellenistiese metropool Alexandrië, die Middeleeuse Bisantynse Ryk en die Goue Tydperk van Islam het, is meer as twaalf eeue lank as grondleggende teorie aanvaar.[1]

Die boek dien daarnaas as die belangrikste historiese bron oor antieke Griekse sterrekunde, maar word ook deur studente in wiskunde gewaardeer aangesien dit die verlore werk van die Griekse wiskundige Hipparchos dokumenteer.

Titel, oorlewering en wetenskaplike betekenis

[wysig | wysig bron]

Die Almagest het waarskynlik teen die middel van die 2de eeu as sterrekundige leerboek en omvattende beskrywing van die astronomiese stelsel, wat deur Griekse geleerdes ontwikkel is, onder die titel Mathematike Syntaxis ("Wiskundige samestelling") ontstaan. Latere weergawes van die gesiene verhandeling het die titel Megiste Syntaxis ("Grootste samestelling") gedra wat as al-madjisti in Arabiese vertalings oorgeneem is en van daar as Almagest ingang tot die hedendaagse taalgebruik gevind het. In teenstelling met ander werke uit hierdie vroeë tydperk is die teks van Almagest volledig oorgelewer.

Die is Almagest gebaseer op die geosentriese Ptolemeïese wêreldmodel en behandel sy sterrekundige besonderhede. In teenstelling met Ptolemeus se ander beduidende sterrekundige werk, Hypotheseis ton planomenon ("Hipoteses oor die planete"), het dit geen natuurkundige inslag nie. Dit is eerder die wentelbane van hemelligame en hul wiskundige beskrywing wat in Almagest sentraal staan. Ptolemeus se noukeurige wiskundige modellering van planetebewegings maak dit moontlik om wentelbane presies te bereken sodat die Almagest in die tydperk tussen die 2de en 15de eeu tot die standaardwerk van wiskundige sterrekunde ontwikkel het.

Ptolemeus het veral daarin geslaag om die hele antieke kennis oor hemelsliggame stelselmatig saam te stel en sy wêreldmodel binne die bestek van Aristoteles se fisika uit te lig. 'n Belangrike hulpmiddel hierby was die antieke Griekse wiskunde wat 'n hoë wetenskaplike vlak bereik het. Die Almagest word tans as die hoogtepunt en afsluitende werk van die antieke sterrekunde beskou.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Ptolemy's Almagest. Translated and annotated by G.J. Toomer. Revised edition. Princeton, NJ: Princeton University Press 1998