Gaan na inhoud

Sentour (kleinplaneet)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die ligging van bekende voorwerpe in en buite die sonnestelsel. Die sentoure is die voorwerpe in oranje wat meestal binne die Kuiper-gordel (in groen) en buite die Jupiter-trojane (in pienk) lê.

Sentoure is onstabiele kleinplanete wat eienskappe van beide asteroïdes en komete toon. Hulle word genoem na die sentoure in die Griekse mitologie, wat eienskappe van beide mense en perde gehad het. Sentoure het veranderlike wentelbane wat dié van een of meer van die groot gasplanete gekruis het, en het dinamiese leeftye van ’n paar miljoen jaar.[1] Daar is sowat 44 000 sentoure in die sonnestelsel met ’n deursnee groter as 1 km.[1]

Die eerste sentour-agtige voorwerp wat ontdek is, was 944 Hidalgo in 1920. Hulle is egter nie as unieke voorwerpe beskou nie tot met die ontdekking van 2060 Chiron in 1977. Die grootste bekende sentour is 10199 Chariklo, wat in 1997 ontdek is. Dit het ’n deursnee van 260 km, so groot soos ’n asteroïde van gemiddelde grootte.

Tot met 2008 is drie sentoure ontdek met komas: 2060 Chiron, 60558 Echeclus en 166P/NEAT. Chiron en Echeclus word dus as beide asteroïdes en komete geklassifiseer. Ander sentoure soos 52872 Okyrhoe toon vermoedelik komeet-aktiwiteite. Enige sentour wat naby genoeg aan die Son aangetrek word, is vermoedelik ’n komeet.

Wentelbane

[wysig | wysig bron]

Verspreiding

[wysig | wysig bron]
Die wentelbane van bekende sentoure. Vir die doel van die diagram word voorwerpe as sentoure geklassifiseer as hulle halwe lengteas tussen Jupiter en Neptunus lê.

Die diagram illustreer die wentelbane van bekende sentoure in verhouding met die wentelbane van die planete. Die voorwerpe se eksentrisiteit word deur rooi lyne voorgestel (wat strek van die perihelium tot die afelium).

Die sentoure se wentelbane toon ’n groot omvang van eksentrisiteit, van hoogs eksentriek (Pholus, Asbolus, Amycus, Nessus) tot ronder (Chariklo en die Saturnuskruisers Thereus en Okyrhoe).

Om die omvang van die wentelbane se parameters te illustreer wys die diagram ’n paar voorwerpe met baie ongewone wentelbane, wat in geel aangedui word:

  • 1999 XS35 (Apollo-asteroïde) het ’n uiters eksentrieke wentelbaan (e = 0,947), wat dit neem van binne die Aarde se wentelbaan (0,94 AE) tot ver verby Neptunus (>34 AE).
  • 2007 TB434 het ’n kwasironde wentelbaan (e <0,026).
  • 2001 XZ255 het die kleinste baanhelling (i <3°).
  • (144908) 2004 YH32 is een van die min sentoure met ’n uiters prograde baanhelling (i 79°). Hoewel dit strek van die afstand van die asteroïdegordel van die Son af tot verby die afstand van Saturnus, is sy baanhelling so groot dat as dit op die vlak van Jupiter se wentelbaan geprojekteer word, dit nie eens so ver strek as Jupiter nie.

’n Paar dosyn bekende sentoure het retrograde wentelbane. Hulle baanhellings wissel van matig (byvoorbeeld 160° vir Dioretsa) tot ekstreem (i <120°; byvoorbeeld 105° vir (342842) 2008 YB3.[2])

Veranderende wentelbane

[wysig | wysig bron]

Omdat die sentoure nie deur baanresonansies beskerm word nie, is hulle wentelbane onstabiel binne ’n tydskaal van 106-107 jaar.[3] Amycus is byvoorbeeld in ’n onstabiele wentelbaan naby die 3:4-resonansie van Uranus.[1] Dinamiese studies van hulle wentelbane dui daarop dat sentoure waarskynlik ’n soort voorwerp met ’n tussentydse wentelbaan is wat skuif van die Kuipergordel tot die Jupiterfamilie kortperiodekomete.

Voorwerpe kan deur versteurings uit die Kuipergordel verdring word, waarna hulle Neptunus se wentelbaan kruis en gravitasioneel met dié planeet ’n wisselwerking het. Hulle word dan as sentoure geklassifiseer, maar hulle wentelbane is chaoties en ontwikkel relatief vinnig terwyl die sentour naby aan een of meer van die buitenste planete kom. Sommige sentoure sal in wentelbane gaan wat Jupiter kruis, waarna hulle perihelium kleiner sal word tot in die binneste sonnestelsel en dan kan hulle as aktiewe komete in die Jupiterfamilie herklassifiseer word as hulle komeetbedrywighede toon. Sentoure sal dus eindelik met die Son of ’n planeet bots, of anders in die interstellêre ruimte uitgewerp word nadat hulle naby aan een van die planete, veral Jupiter, gekom het.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 Horner, J.; Evans, N.W.; Bailey, M. E. (2004). "Simulations of the Population of Centaurs I: The Bulk Statistics". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 354 (3): 798–810. arXiv:astro-ph/0407400. Bibcode:2004MNRAS.354..798H. doi:10.1111/j.1365-2966.2004.08240.x.
  2. C. de la Fuente Marcos; R. de la Fuente Marcos (2014). "Large retrograde Centaurs: visitors from the Oort cloud?". Astrophysics and Space Science. 352 (2): 409–419. arXiv:1406.1450. doi:10.1007/s10509-014-1993-9.
  3. Delsanti, Audrey; Jewitt, David (2006). "The Solar System Beyond The Planets" (PDF). Institute for Astronomy, University of Hawaii. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 29 Januarie 2007. Besoek op 3 Januarie 2007.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]