Academia.eduAcademia.edu

Ons moet na jong stemme luister

2014, Kerkbode

Die rubriek bespreek die lewensnoodsaaklike rol van jong stemme (teoloë en leiers) in 'n kerk.

Ons moet na jong stemme luister. Kerkbode 19 Nov. 2014 Prof. Nelus Niemandt Hoe lyk ’n kerkverband wat besig is om stadig af te sterf? Ek het by geleentheid die kapeldiens van ’n teologiese skool in die buiteland bygewoon. Ek was aanvanklik nogal verbaas oor die groot aantal dosente by die teologiese skool, todat die diens byna begin het. Ek vra my buurman waar die studente is. “Maar die meeste mense hier is studente!” antwoord hy verbaas. Ek moes toe ontdek dat omtrent al die studente tweede loopbaanstudente tussen 40 en 60 is. Onlangs gesels ek met ’n bekende godsdiensdemograaf. Sy vertel my van ’n baie bekende kerk (ook in ’n ander kontinent) waar meer as 25% van die predikante lankal afgetree het, maar weens ’n tekort aan predikante steeds gemeentes moet bedien. Die denominasie het bitter min lidmate tussen die ouderdom van 20 en 30. Haar mening was dat die denominasie nie meer groeikrag oor het nie en selfs gevaar loop om tot niet te gaan. ’n Kerk kan eenvoudig nie groei en nuwe eise hanteer sonder die energieke lewenskrag wat jonger mense bring nie. ’n Kerk het nie veel van ’n toekoms as daar nie ’n gedurige toevloei van jonger predikante is nie. Jongmense is die stemme uit die toekoms. Ek het die afgelope tyd iets ervaar van die opwindende rol wat jonger predikante kan speel. Tydens besoeke aan streeksinodes het dit my opgeval hoe positief daar gepraat word oor die bydrae en werk van jong predikante in gemeentes. Klein plattelandse gemeentes en groot voorstedelike gemeentes vertel die wonderlikste verhale van hulle jong dominees. By die Oostelike Sinode is teologiese studente genooi om deel van die tafelgesprekke te wees. Later het heelwat deelnemers getuig dat die insette van die jong studente baie beteken het. Oos-Kaap het al ’n proses van mentorskap gevolg waar daar doelbewus ruimte geskep is dat jonger predikante die ouer garde begelei oor die nuwe tye waarin ons leef, en die reaksie was oorweldigend positief. By Hoëveld was jonger predikante verantwoordelik vir die toewydingsessies. Hulle het dit op ’n manier gedoen wat sinodegangers diep geraak het. Die jonger garde het ook nie op hulle laat wag in die bespreking van moeilike kwessies nie. By al die sinodes wat ek bygewoon het, het dit my opgeval dat veral jong stemme die aandag fokus op die toekoms van die NG Kerk. Daar word deesdae baie gepraat oor missionale kerkwees. My ervaring van jong studente en predikante is dat hulle al reeds dink en leef binne ’n missionale verstaan van die kerk. Hulle doen dit byna instinktief. As die NG Kerk regtig ernstig is oor die nuwe missionale teologie, gaan die jonger garde die primêre draers van daardie droom wees. Dit beteken dat die NG Kerk ook spesiaal aandag moet gee aan jonger lidmate en jonger predikante. Kerkrade wat leraars beroep, behoort jong leraars ernstig te oorweeg. Ongelukkig is daar nog gans te veel gevalle waar die vakature geadverteer word en een van die voorwaardes is dat dit gevul moet word deur iemand met heelwat bedieningservaring. Ek het al gehoor van gevalle waar ’n ouer dominee sê hy is nie lus om weer ’n jong predikant “groot te maak nie”. So ’n houding ontken die feit dat predikante se opleiding baie deeglik is en ook die voordele van voortgesette teologiese opleiding. Sinodesittings moet doelbewus oor naweke plaasvind sodat meer werkende jongmense afgevaardig kan word en deel van die besluite kan wees. Die een beeld wat my sterk bybly is hoe “oud en manlik” streeksinodes is. Ons het regtig bitter min gevorder met diversiteit by kerkvergaderings. Ek hoor van baie kerkraadsvergaderings waar die belange van jong lidmate tweede kom. Stemme uit die toekoms is skaars. Hoe goed hoor ons hulle? Besprekings by vergaderings moet doelbewus ingeruim word om die alternatiewe stemme te hoor – soos Hoëveld en Oostelike Sinode goed reggekry het. Ons sal goed moet hoor wat gebeur by geleenthede soos #imagine en wat dit vertel oor die ervaring en drome van jong lidmate. Jongmense het die natuurlike vermoë om jou te laat dink aan die pad vorentoe. Natuurlik ontstel hulle drome party lidmate. Natuurlik sien hulle die kerk anders. Maar sonder jongmense sterf ’n kerkverband. Die vraag is of die NG Kerk alreeds ’n sterwensfase binnegegaan het, en of daar nog genoeg jong stemme is om ’n nuwe toekoms oop te maak. In November word meer as 40 jong nuwe predikante tot die bediening in die NG Kerk toegelaat. Hulle is ’n besondere geskenk aan die NG Kerk. Ons toekomstige groeikrag en die vermoë om nuwe eise te hanteer, hang baie van jonger predikante af. Ons moet hulle as geskenke ontvang en alles moontlik doen om hulle inisiatief en energie voluit te laat stroom. ▶ Prof Nelus Niemandt is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.